Geboue, voertuie deur reuse brand verwoes

Foto: ANA

Foto: ANA

Duisende liters gebergde olie, agt voertuie en twee geboue is Donderdagaand in ʼn reusebrand in Kempton Park aan die Oosrand verwoes.

Ekurhuleni se ramp- en noodbestuurdienste het in ʼn verklaring gesê die brand het omstreeks 23:30 op die hoek van Diesel- en Industrieweg in Isando begin.

“Brandweerbeamptes van Kempton Park het oorspronklik op die brand gereageer, maar hulle het versterkings ontbied toe hulle gesien het hoe groot die brand is en hoe hoog die risiko daarvan is,” het William Ntladi, woordvoerder van die rampdienste gesê.

Volgens Ntladi het ʼn GUD Holdings-fabriek vlamgevat en die brand het na die aangrensende gebou van ʼn ander maatskappy versprei. Beide geboue het uitgebreide skade opgedoen. “ʼn Massiewe hoeveelheid olie, wat in 210-liter dromme gestoor was, agt motors wat op die persele geparkeer was en die twee geboue, is deur die vlamme verswelg,” het hy gesê.

Sewe brandweerwaens en 38 brandbestryders van Primrose, Tembisa, Boksburg en Commercia se brandweerstasies het almal ingespring om die brand te blus. Omliggende maatskappye is om veiligheidsredes tydelik gesluit en die brandbestryders het ure lank gespook om die vlamme onder beheer te kry en uiteindelik te blus.

Ntladi het gesê geen beserings of sterftes is aangemeld nie en die oorsaak van die brand word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.