Gebrek aan vonnisopleggings vir ontvoerings kommerwekkend

Argieffoto

Slegs 12 uit die 681 ontvoeringsgevalle in die Wes-Kaap het die afgelope jaar op suksesvolle skuldigbevinding uitgeloop. Dit beteken net 0,02% van ontvoerders het vir hul oortredings geboet. Die polisie kon wel daarin slaag om 402 verdagtes in hegtenis te neem.

Uit hierdie gevalle was 138 van die slagoffers minderjarig.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het hierdie syfers as “skokkend” beskryf. Hy het Dinsdag in ʼn verklaring kommentaar gelewer in antwoord op ʼn geskrewe vraag wat hy in September van Mireille Wenger, ʼn lid van die provinsiale wetgewer, ontvang het.

Die getal vonnisopleggings het boonop gedaal vanaf 36 in die 2017-’18-boekjaar. In die 2016-’17-boekjaar het die getal skuldigbevindings op 44 gestaan en die jaar daarvoor is 80 beskuldigdes uiteindelik skuldig bevind. In die ooreenstemmende tydperk het die aantal gevalle van ontvoerings wel van 767 tot 681 afgeneem.

“Alhoewel daar minder gevalle van ontvoerings was, is dit steeds kommerwekkend dat reg en geregtigheid nie geskied nie,” sê Fritz.

“Hierdie daling in vonnisopleggings is ʼn bedreiging vir die veiligheid van inwoners van die provinsie, omdat die skuldiges toegelaat word om op vrye voet te wees. Hulle loop rond tussen die onskuldiges en die kwesbaarstes,” sê Fritz Dinsdag in ʼn verklaring.

Sharna Fernandez, die Wes-Kaapse LUR vir sosiale ontwikkeling, sê dis angswekkend dat baie van die ontvoerings kinders ingesluit het. “Dit gebeur so vinnig. Ons moedig al die inwoners van die provinsie aan om waaksaam te wees en te verseker dat hulle kinders ten alle tye veilig is.”

Fritz sê die owerhede in die Wes-Kaap is tans besig met 15 gyselaarskrisisse, terwyl 47 opgeleide onderhandelaars reg oor die provinsie werk om ontvoerdes veilig by hul huise te besorg.

“Indien lede van die publiek enige vermoede het dat ʼn kind ontvoer is, of mishandel word, kan hulle hul naaste polisiestasie kontak, vir Childline bel of die Nasionale Mensehandel blitslyn skakel,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.