Gebrekkige entstofplan beteken ‘derde vlaag kom’

Die eerste besending Covid-19-entstof kom in Suid-Afrika aan. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Terwyl geen beduidende voorraad entstof voor Mei verwag word nie, staar ʼn derde vlaag Covid-19 en nog ʼn streng afsonderingstyd Suid-Afrika volgens die DA dié winter in die gesig.

DA-leier John Steenhuisen het die regering gekap oor sy gebrek aan ʼn duidelik uitgestippelde en omvattende plan oor die verspreiding van ʼn entstof teen die nuwe koronavirus. Die party het die regering reeds hof toe gesleep daaroor.

Die eerste besending entstof het Maandag in Suid-Afrika aangekom en verspreiding daarvan sal na verwagting teen die middel van die maand begin. Steenhuisen sê egter die feit dat die entstof eers gister in die land aangekom het, is ʼn mislukking en nie ʼn prestasie nie.

Hy sê terwyl ander lande met soortgelyke ekonomieë reeds duisende inentings gedoen het, het Suid-Afrika nog nie ʼn enkele mens ingeënt nie. “Die regering het meer ywer en belastingbetalergeld gebruik om mense van die strande af te hou, as om die entstof te bekom wat hul lewens kan red.”

Steenhuisen sê die regering se beloftes oor kudde-immuniteit is ʼn lugkasteel wat gebore is uit “lui ontleding, wensdenkery en politieke praatjies”.

Hy sê tussen 15 en 18 miljoen dosisse entstof word vanjaar in Suid-Afrika verwag – die meeste daarvan in die tweede helfte van die jaar – en die kans is skraal dat Suid-Afrika selfs ʼn derde van die bevolking wat nodig is om kudde-immuniteit te behaal, gaan inent.

John Steenhuisen, leier van die DA. (Foto: DA/Twitter)

“Ons kan nie bekostig om die regering die voordeel van die twyfel te gee nie. Ons kan ook nie bekostig dat die entstofprogram gesaboteer word deur polities gekoppelde elites wat onder die voorwendsel van transformasie optree, soos ons met die verkryging van persoonlike beskermingstoerusting gesien het nie.”

Hy sê die regering moet die private sektor vra om met verspreiding te help.

“Dit is ook belangrik dat ons alles moontlik doen om ons ekonomie teen verdere skade te beskerm. Dit sal ekonomiese selfmoord wees om hervorming langer uit te stel. Ons kan beslis ook nie bekostig om kosbare hulpbronne te vermors op onbenullige verbodsbepalings wat weinig uitwerking op die pandemie het nie, maar groot langtermynskade aan die ekonomie aanrig.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die enkele verslappings verwelkom, maar sê die aanvanklike inperkings kon grootliks vermy gewees het deur beter voorbereiding en beplanning.

“Dit is vir die VF Plus ook kommerwekkend dat niks nuut aangekondig is rakende die entstof-uitrolprogram nie,” sê Groenewald.

“Daar is steeds onduidelikheid oor watter provinsies en hospitale geprioritiseer gaan word en watter kriteria gebruik gaan word om te bepaal presies hoe die inentingsprogram gaan verloop.”

Dr. Pieter Groenewald., leier van die VF Plus. (Foto: VF Plus)

ʼn Elektroniese stelsel gaan vir die skedulering van afsprake om die entstof te ontvang gebruik word, maar Groenewald sê die regering se geskiedenis met projekte wat op dieselfde grondslag aangepak is, het groot probleme ondervind.

“Baie Suid-Afrikaners het nie toegang tot die internet nie en die doeltreffendheid van ʼn elektroniese stelsel om mense te bereik, is grootliks wensdenkery. Dit beklemtoon die feit dat daar tans nie ʼn realistiese strategie bestaan vir ʼn volledige inentingsprogram nie.

“Daar word van mediese fondse en dus lede van die fondse verwag om nie-lede van fondse te subsidieer terwyl dit nie duidelik is wanneer lede van mediese fondse self die entstof gaan ontvang nie. Daar word ook van die private sektor verwag om ruim skenkings te maak om die projek te help slaag terwyl die gesentraliseerde benadering van die regering die private sektor verbied om die entstof aan te koop.”

AfriForum en Solidariteit is reeds volgende maand in die hof oor die regering se inwerkingstellingsplan vir entstof. Die organisasies wil deur die hofsaak die regering se planne stuit om die entstofproses te sentraliseer.

Die DA het wel die heropening van strande en die verslapping van regulasies oor alkoholverkope verwelkom, maar sê dit is steeds te laat om duisende werksgeleenthede in die toerisme-, restaurant- en drankbedryf te red. Steenhuisen sê ANC-politici moet met hul eie werksgeleenthede hiervoor betaal.

Die party het ook gevra dat die aandklokreël – wat nou van 23:00 tot 04:00 geld – heeltemal opgehef word. Hy sê vryheid van beweging is ʼn basiese reg en restaurante wat nie reeds hul deure moes sluit nie, benodig al die handelsure wat hulle kan kry.

“Die regering is Suid-Afrika se swakste skakel. Hy moet voor sy eie deur vee en die private sektor losmaak om sy volle bydrae te lewer en lewens en inkomstes te red,” sê Steenhuisen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Kokerboom ·

Potensiële bedrog en korrupsiegeleentheid. Stel asb by voorbaat ‘n kommissie van ondersoek aan!!!

Smirre ·

Ons moet ophou praat van die regering, dit is die ANC, nie regering, want regeer kan hulle nie, nie op makro vlak wat nog te sê op mikro vlak, ANC suksesse is net ‘n lys van wat hulle suksesvol op ge d (skuus foeter) het, hulle stel geensins belang om na inteligente raad te luister. Die vertraging in die verspreiding is net om hulle kans te gee om deeglik te beplan hoe hulle kan geld maak uit die program.

Samuel ·

Soos met die persoonlike beskermde toerusting gekul is, gaan daar met die entstof ook geskep word en gekul word. ANC.

Peter Pan ·

DA irieer vir my so… Hulle praat net..niks gebeur nie!

Karel Kobus Kruger ·

Ek sê 5 miljoen sal teen die einde van die jaar ingeënt wees. Enige ander raaiskote?

marius ·

Dit gaan oor diegene wat te sleg is om eerbaar te bestaan en hul vuil kloue in ander se brood en botter geld te slaan .

Hennie J ·

Ha ha ha. Jy moet n afspraak maak ten einde jou inenting te ontvang. Ek vra jou met trane in my oe hoe de duiwel gaan die kaders dit hanteer sonder om afsprake te verkoop plus alle ander kullery wat daarmee gepaard gaan. Skep kaders! dit reen pap!!

Anti-Verkramp ·

Ek dink die strenger inperkings oor die feestyd het vrugte afgewerp. Pluimpie vir die Covid-bevelsraad. ‘n Mens moet krediet gee waar dit toekom.

MakersMark ·

100% korrek. Sonder inentings is gedwonge inperkings die enigste manier om die infeksie tempo te verminder. Vroeg Januarie was die daaglikse infeksies tussen naby 20000 per dag, na 5 weke se inperkings net oor die 2000 per dag. Maar vlaag 3 gaan kom want mense gaan weer aangaan asof die virus skielik verdwyn het en dan gaan infeksies op. Sodra inperkings weer nodig is word die regering blameer nie domastrantes optrede nie.

Aikie ·

Watter lys van Suid Afrika se burgers gaan hulle gebruik? ‘n Nuwe een? Waarom nie begin met ons kiesers lys en dié uitbrei nie?

Tjom ·

Kyk so hoe sukkel daai 3 makkers met die instoot vd pakkie. Sou dink vir SO n belangrike besending, met miljoene mense in afwagting, kon die logistieke beplanning dalk n vurkhyster of pallet jack ingesluit het en dalk die waybill se gewig gelees het? Ons kry seker daai onderste stukkend gedruktes. Nou vra ek jou…

Talia ·

Hoekom sal dit nou 2 weke vat om mense eers in te ent?

Ons kan blomme en vrugte invoer en dit binne mense se huise al hê binne 2 dae.

Dis tog die mediese personeel wat inge-ent moet word, stuur dit net vir hulle.

En hoekom wag ons nou tot Mei maand toe vir die volgende ‘batch’. Dis nog so vêr.

Robert ·

Rol eerder Ivermectin uit of maak dit algemeen beskikbaar vir dokters om voor te skryf sonder rompslomp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.