Gebrekkige toerusting dra dalk by tot wildvanger se dood; familie wil nou help

Jason Badenhorst. Foto: Facebook

Jason Badenhorst. Foto: Facebook

Die familie van Jason Badenhorst (27), die wildvanger van die Noord-Kaap wat verlede week oorlede is, het ʼn trustfonds op die been gebring om suurstof en ventilasietoerusting vir die Richmond-hospitaal aan te koop.

Lorna Giorgino, Jason se ma, het aan Maroela Media gesê nadat Jason vir ses ure lank sonder suurstof was ná sy ongeluk, het sy familie besluit om fondse in te samel om hierdie noodsaaklike toerusting vir die hospitaal aan te koop.

Jason het ernstige breinbeserings opgedoen nadat ʼn helikopter, waarin hy ʼn insittende was, naby Richmond neergestort het. Hy was glo besig om wild te vang wat geskuif moes word toe die nette wat uitgeskiet is om die wild te vang in die stert-rotor van die helikopter verstrengel geraak het. ʼn Stuk van die rotor het losgekom en een van die helikopter se lemme getref. Die lem het gebuig en Jason teen die kop getref.

Omdat die stert-rotor afgebreek het, het die helikopter buite beheer in die rondte getol en geval. Die vlieënier het wonderbaarlik ongedeerd daarvan afgekom.

Giorgino het gesê dit het ongeveer ʼn uur geneem voordat die ambulans by die toneel opgedaag het en hulle het nie die nodige toerusting gehad om Jason te ventileer nie. Toe die ambulans met Jason by die Richmond-hospitaal opdaag, was daar ook nie ventilasietoerusting beskikbaar nie.

“Die ambulans het onmiddellik gereageer, maar hulle moes ver in die veld uitry om by die toneel te kom en dit het hulle ongelukkig ʼn uur geneem tot daar. Die paramedici en die dokter aan diens het alles in hul vermoë gedoen om Jason te help. Hulle was regtig ongelooflik. Ongelukkig het hulle nie die nodige toerusting gehad sodat hy onmiddellik geventileer kon word nie,” het sy gesê.

Jason is uiteindelik deur Aero Care met ʼn mediese vliegtuig na die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein geneem, maar hy was ses ure sonder enige ventilasie voor hy in die vliegtuig gestabiliseer is.

“Ons het nog nie die resultate van die nadoodse ondersoek ontvang nie en daarom is dit onmoontlik om nou te sê of dinge anders sou wees indien hy betyds suurstof gekry het,” het Giorgino gesê. “Ongeag of dit ʼn verskil sou maak of nie, die plaaslike hospitaal in Richmond het dringend ventilasietoerusting nodig. Ons sal dus voortgaan met die fondsinsameling sodat die volgende persoon in die omgewing wat ʼn noodgeval is die nodige mediese sorg kan kry. Die mense by die hospitaal en lede van die gemeenskap het alles in hul vermoë gedoen om my seun te probeer help. Hierdie is ons manier van dankie sê.”

Jason Badenhorst saam met sy verloofde, Lauren Senekal. Foto: Facebook

Jason Badenhorst saam met sy verloofde, Lauren Senekal. Foto: Facebook

Giorgino het gesê alhoewel die familie platgeslaan is deur Jason se dood, probeer almal om sterk te wees omdat dit is wat hy sou wou gehad het. Jason se verloofde, Lauren Senekal, is ook besig om te help met begrafnisreëlings en persoonlike sake wat afgehandel moet word.

“Sy is ʼn baie sterk jong vrou en ek dink sy probeer hom trots maak,” het Giorgino gesê. “Jason het haar oneindig lief gehad en sy het baie diep in ons almal se harte ingekruip. Sy sal altyd ʼn deel van ons lewens wees.”

ʼn Amptelike gedenkdiens vir Jason sal Woensdag om 11:00 in die Metodiste Kerk in Rustenburg gehou word. ʼn Privaatdiens vir Jason se vriende en kliënte in die Noord-Kaap sal Saterdag op ʼn plaas op Richmond gehou word.

“Jason was ʼn etiese, eerlike man met ʼn sterk persoonlikheid. Hy was passievol oor die natuur en natuurbewaring en hy was hardwerkend en behulpsaam met onberispelike maniere. Hy het ʼn wonderlike sin vir humor gehad en het vir absoluut alles gelag,” het Giorgino gesê. “Hy het sy grootste passie uitgeleef. Hy het voluit gelewe en voluit lief gehad.”

Vir meer besonderhede oor die trust stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CHRISTA ·

Dit spreek boekdele hoekom nie eers Nelson Mandela en sy familie ons mediese dienste vertrou het nie!!!

h ·

Hulle kan maar die gedeelte van my tax eis wat ek elke maand betaal vir ander se mediese dienste, julle maak dit gans en al te maklik vir die land se “leiers”. Die “leiers” moet met ons tax gelde gebruik vir mediese instrumentasie en dienste verskaf instede van die luukse erwe, huise, motors ens waarop dit huidiglik gemors word.

Riana ·

Glo maar dat dit nie net Richmond hosp is wat so lyk nie! Julle was gelukkig om personeel te kon kry wat WOU help. Normaalweg kruip personeel weg agter vele verskonings, belastinggeld word te lekker bestee op allerhande maniere behalwe om dienste in SA darem net op standaard te hou, los maar vooruitgang! En ons belastingbetalers laat dit toe… Ons moet meer van ons regte Regte gebruik maak en openbare platforms en media gebruik om wanpraktyke uit te lig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.