Gebrekkige vakkennis, opleiding pootjie gehalte-onderwys

skool 2 klas onderwyser

(Argieffoto)

ʼn Verslag oor die gehalte van onderwys in Suid-Afrika wys daarop dat die opleiding van onderwysers, op universiteit én in diens, tekort skiet.

“Ondanks vordering wat die afgelope 30 jaar gemaak is om meer kinders toegang tot die onderwysstelsel te gee, is die gehalte van onderrig in die meeste openbare skole nog swak en bestaan daar geweldige ongelykhede in die stelsel,” lui die verslag wat einde verlede jaar deur die Oppenheimer-gedenktrust bekendgemaak is.

Een van die grootste redes hiervoor, aldus die verslag, is onopgeleide onderwysers wat self nie die inhoud wat hulle aanbied, onder die knie het nie. “Die grootste uitdaging in die onderwysstelsel is onderwysers se gebrek aan vakkennis en die vaardighede om kinders te leer.”

Die verslag maak ook melding van navorsing wat in 2007 gedoen is, wat bevind het dat slegs 55% van gr. 6-onderwysers met begrip op gr. 4-leerders se vlak kan lees. Dieselfde ondersoek het bevind dat die meerderheid van die gr. 6-leerders wat wiskunde neem, onderrig word deur onderwysers wie se eie wiskundekennis laer as die vlak van gr. 6-wiskunde is.

Dit weerspieël die bevindings in ʼn verslag deur die Verenigde Nasies se onderwysliggaam Unesco, wat die afgelope week in Johannesburg bekendgestel is. Hierin word bevind dat slegs 69% van laerskoolonderwysers in sub-Sahara-Afrika oor die minimum kwalifikasies beskik om ander te kan leer. Dit is boonop ʼn afname van die 76% in 2010. Selfs minder hoërskoolonderwysers (60%) is gekwalifiseerd om klas te gee op die vlak en in die vak waarin hulle onderrig. Die verslag noem die tyd en geld verbonde aan die opleiding van onderwysers kan moontlik ʼn rede hiervoor wees.

Die Oppenheimer-gedenktrust se verslag het bevind dat opleiding van onderwysers in Suid-Afrika op tersiêre vlak tekort skiet. Dié bevinding is gemaak deur die inhoud van onderwyskursusse aan vyf universiteite te ontleed. Dit is nie bekend watter universiteite se kursusse deel van die navorsing was nie.

Indiensopleiding, het die verslag bevind, skiet ook tekort en onderwys is boonop nie aanloklik genoeg vir sterk akademiese kandidate om as beroep te oorweeg nie. Daarbenewens word nuut opgeleide onderwysers dikwels vakke toegewys waarin hulle nie opgelei is nie.

Prof. Irma Eloff. (Foto: Christa Steyn Bezuidenhout)

Die verslag het ook bevind dat tekortkominge in die nasionale kurrikulum verder bydra tot swak uitkomste. “Die departement van basiese onderwys het die afgelope paar dekades verskeie veranderinge in die kurrikulum aangebring, sonder die nodige steun aan onderwysers wat dit moet in werking stel. Die departement het self ook al erken dat die huidige KABV-kurrikulum [of CAPS soos dit algemeen bekend staan] te veel inhoud en te veel assesseringstake bevat.”

As oplossing hiervoor stel navorsers voor dat die gehalte van onderwysprogramme aan Suid-Afrikaanse universiteite “aansienlik verbeter” word. “Baie meer onderwysers moet ook opgelei word om aandag te gee aan die huidige oorbevolking van klaskamers.”

Die verslag beveel verder aan dat gestandaardiseerde assessering ingestel word, om nuwe en ervare onderwysers se kennis en vaardighede te toets, met die oog op die ontwikkeling van gepaste opleidingsprogramme.

Prof. Divya Singh, hoof- akademiese beampte van die hoëronderwysinstelling Stadio, sê die oplossing vir die “nasionale krisis en tekort aan vaardige onderwysers” is egter nie so eenvoudig nie. “Dit sluit in ʼn omvattende belegging in die opleidingskurrikulum van onderwysers om te verseker ons het ʼn vloot onderwysers wat bevoeg is om hul werk te doen. Oorbruggingsgeleenthede moet ook geskep word vir onderwysstudente wat self gebrekkige skoolopleiding ontvang het, maar graag verder wil studeer.”

Dié instelling fokus veral op bykomende ondersteuning in wiskunde vir onderwysstudente wie se wiskundevaardighede nie op standaard is nie.

Prof. Irma Eloff, oud-dekaan van onderwys aan die Universiteit van Pretoria en tans ʼn navorser in onderwyssielkunde, sê ook die belangrikheid van vakkennis kan nie oorbeklemtoon word nie. Sy meen egter om die gebrek aan vakkennis werklik te takel, moet onderwysers in hul moedertaal onderrig word.

“Vakke soos wiskunde het komplekse begrippe wat makliker in jou moedertaal aangeleer en begryp kan word. In Suid-Afrika word minder as 40% van kinders in hul moedertaal onderrig. Dit is hierdie kinders met hul gebrekkige kennis wat onderwysers word en weer sukkel om ander te onderrig in ʼn taal wat nie hul eie is nie. As ons dit kan regkry dat elke onderwyser in sy of haar moedertaal kan leer, kan ons hierdie bose kringloop stopsit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.