Gebroke ma’s waarsku oor vroedvrou, ná babas sterf

Merissa en Anton Els en hul dogter, McKenzie. (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) ondersoek verskeie klagtes van nalatigheid teen ʼn vroedvrou in Rustenburg, Noordwes. Dít nadat minstens vier babas tussen 2016 en 2021 kort ná geboorte gesterf het by ʼn onderneming wat tuisgeboortes fasiliteer.

Die vroue, wat jare later steeds rou oor hul kinders, wil nou ander ma’s waarsku oor suster Gladys Seipone Phakedi en Bingle Birth, voordat dieselfde hulle dalk oorkom.

“Dis ʼn pyn wat niks kan wegvat nie. Ek herleef haar geboorte elke dag,” sê Merissa Piper-Els. Sy en haar man het ses jaar lank gesukkel om swanger te raak met hul eersteling.

McKenzie is in September 2017, vier dae ná haar geboorte by Bingle Birth, dood. Dokters het gesê sy het erge breinskade opgedoen omdat sy nie genoeg suurstof tydens die geboorteproses gekry het nie.

Die vroue se stories stem almal ooreen. In al die gevalle is die baba se hartklop bitter selde tydens die kraamproses gemeet, die baba het ure lank in die geboortekanaal vasgesit voordat ingrypende stappe gedoen is en die personeel het skynbaar nie die regte toerusting óf vaardighede gehad om die baba ná die geboorte by te bring nie. Phakedi het al vier geboortes hanteer, hoewel die vroue ʼn afspraak by Bingle Birth gemaak en geen kontak vooraf met Phakedi gehad het nie.

Anneke Jooste, wat in Desember 2021 geboorte gegee het, vertel Phakedi het slegs een keer tydens die hele kraamproses haar ongebore kind se hartklop gemeet. Dit was toe sy 8 cm ontsluit was. Volgens die nasionale gesondheidsdepartement se riglyne vir kraamsorg van 2016 moet ʼn fetus se hartklop elke halfuur tydens aktiewe kraam gemeet word.

Anneke Jooste en haar dogter Gabby, kort ná die geboorte.

Jooste sê sowat twee uur het verloop vandat sy aangesê is om te druk, totdat Phakedi besluit het om haar te sny en haar dogtertjie, Gabriella, uiteindelik gebore is. “Sy was al blou gewees.”  Volgens die riglyne moet dringende stappe gedoen word om die baba te bevry, indien die baba vir tussen 30 en 45 minute in die geboortekanaal vassit. Jooste sê die suurstoftenk in die kamer was leeg en die ambulans het eers twee uur ná die geboorte daar aangekom.

In Piper-Els se geval het haar baba vir “minstens ʼn uur” in die geboortekanaal vasgesit, voordat Phakedi haar gesny en die baba toe binne minute gebore is. “McKenzie was reeds blou en die koord was verskeie kere om haar nek en been gedraai.” In die 18 uur wat sy in kraam was, is die baba se hartklop net vier keer gemonitor.

Volgens Piper-Els is sy nie verdoof voordat sy gesny is, of toe sy steke gekry het nie.

Sy sê ses jaar later is daar steeds geen vergelding vir haar kind se dood nie. “Niemand aanvaar verantwoordelikheid nie. Ons moet keer dat ander mammas hul babas verloor.”

Lucinda Botes se dogtertjie, Zianè Rose-Lee, is in Oktober 2016 gebore, nadat sy sowat vier uur lank in die geboortekanaal vasgesit het. “My man moes KPR op haar toepas, want dit het nie gelyk of die suster of doula geweet het wat om te doen nie. Die suurstoftenk was leeg en daar was nie ʼn suurstofmasker vir my kind nie. Dit was asof hulle glad nie ingerig was vir ʼn noodgeval nie.” Die ambulans is ontbied en 15 minute later het paramedici Ziané dood verklaar. Volgens Lucinda was dit ʼn gesonde swangerskap.

“Ek het myself baie lank vir haar dood blameer, tot ek gesien het daar is ander ma’s wat dieselfde oorgekom het.”

Jooste sê dit is belangrik dat ander ma’s oor Bingle Birth en Phakedi gewaarsku word. “Dit gaan nie oor geld of om my kind terug te bring nie. Dit vernietig ʼn mens se lewe as so iets met jou gebeur. Hoeveel ander mense moet nog deur hierdie pyn gaan voordat iemand optree?”

Die vroue glo daar is meer ma’s wat hul kinders op soortgelyke wyse verloor het, maar te skaam is om na vore te kom.

Sr. Gladys Phakedi. (Foto: Facebook)

Bingle Birth word besit deur Anna Bingle, ʼn geregistreerde verpleegster, en is by die Raad op Gesondheidsorgfondse (BHF) geregistreer. Phakedi is ook by die SARV geregistreer.

Die SARV het aan Maroela Media bevestig hulle ondersoek verskeie klagtes teen Phakedi. Volgens prof. Ntombifikile Mtshali, registrateur van die raad, is die ondersoek in ʼn “vroeë stadium”, al is die eerste klagte reeds meer as ʼn jaar gelede by die raad ingedien. Nie een van die vroue het ook enige terugvoer of verwysingsnommers vanaf die raad ontvang, nadat hulle besonderhede oor die klagtes by die raad ingedien het nie.

Bingle het by monde van haar prokureur, Mandy de Kock, gesê Phakedi, en nie Bingle Birth nie, word ondersoek, daarom wil hulle nie op navrae oor bogenoemde voorvalle reageer nie. “Ons wil dit duidelik stel dat Bingle Birth tuisgeboortes fasiliteer saam met suster SG Phakedi en ander onafhanklike vroedvroue. Die pasiënte in dié klagtes was pasiënte van Phakedi en sy sal meer geskik wees om op die vrae te antwoord.”

De Kock het wel bevestig dat Phakedi se dienste opgeskort is hangende die uitkoms van die SARV se ondersoek. Maroela Media kon vasstel dat Phakedi ten minste tot Oktober verlede jaar by Bingle Birth gewerk het.

Maroela Media het ook met Phakedi probeer kontak maak. Haar dogter, Malebogo Phakedi, het dit egter duidelik gestel dat haar ma nie beskikbaar is vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jenevi ·

Ek persoonlik het n great experience daar gehaat die suster en doula het my so by gestaan en probeer gemaklik maak as moontlik in my opinie is dit beter as om by n staats hospitaal te gaan kraam. Maar baie sterkte aan die mammas ek hoop julle harte vind rus.

Jillian ·

Vir my sal ‘n hospitaal altyd die veiligste plek wees om te kraam. Ja daar gebeur ook dinge maar ek voel jou en baba se kanse is beter om dadelik die nodige hulp te kry. So jammer aan elke ouer en familie wat ‘n baba so moes verloor het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.