Gebroke ouers ‘soek antwoorde’ ná seun se gru-dood

Desmond Roberts (Foto: Facebook)

Die ouers van ʼn 23-jarige man van Malvern in KwaZulu-Natal sê hulle is “heeltemal stukkend” en wroeg met talle onbeantwoorde vrae ná sy grusame dood in die vroeë oggendure op Nuwejaarsdag.

Desmond Roberts se liggaam is net ná 04:00 op Nuwejaarsdag deur die polisie in sy huis in Malvern aangetref nadat ʼn buurvrou die polisie na die toneel ontbied het. Hy het glo verskeie steekwonde aan sy bors gehad en sy keel was ook verskeie kere gesny.

Leigh Mac Donald‚ Roberts se stiefpa, het Donderdag aan Maroela Media gesê ʼn vriendin wat vroeër die aand saam met hom by ʼn partytjie was en later na Roberts se huis gegaan het, het sy liggaam in die huis aangetref en toe die buurvrou gevra om die polisie in kennis te stel.

Mac Donald sê dit was ʼn “grusame en bebloede toneel” wat “geen mens in sy lewe behoort te sien nie”.

“Geen woorde kan beskryf wat ek daardie dag gesien het nie. Dis ʼn beeld wat vir altyd in my geheue geëts sal bly. Ons is stukkend – veral omdat hy so ʼn gru-dood moes sterf. Ons seun is nie doodgemaak nie; hy is soos ʼn dier geslag. En al wat ons nou van hom oor het, is die donker herinneringe van sy dood,” sê hy.

Mac Donald het volgens hom nog op Oujaarsaand met hom gepraat om planne vir Nuwejaarsdag te beraam. Die gesin sou die dag deurbring saam met Roberts se dogtertjie en sy meisie.

Hy sê veral Anlie, Roberts se ma, is “absoluut gebroke” en dat sy waarskynlik nooit weer dieselfde sal wees nie. “Ons kan nie hierdie verlies verwerk nie, ons weet eenvoudig nie hoe nie. Sy ma kan nie vrede maak met sy dood nie omdat daar te veel onbeantwoorde vrae is: Hoe is hy dood? Hoekom is sy lewe so wreedaardig geneem? Desmond se suster verjaar vandag [Donderdag]. Hoe sê mens vir haar ‘gelukkige verjaardag’? Ons kan nie.”

Mac Donald sê hoewel die gesin nou hoop op geregtigheid, sal selfs dit nie eens vir hulle kan vrede bring nie. “Desmond was onsettend lief vir sy familie – veral vir sy ma en sy kind. Hy het foute gehad, maar hy was ʼn goeie seun wat nie goed vir sy ouers sou wegsteek nie. Ons wil hê die skuldige moet boet, maar ons weet dat ons harte nooit weer heel sal wees nie. Dinge sal nooit weer reg wees nie,” sê hy.

Anlie het op Facebook geskryf sy is “totaal gebroke”. “Ek voel niks nie. Ek is verlore. Vandag was die moeilikste dag omdat ek nie ʼn boodskap van jou ontvang het wat sê: ‘Mamma, ek is lief vir jou’ nie. Ek is byna dood toe ek jou in die lykshuis sien lê het. Ek kon jou nie help of vir jou lief wees nie. My siel is vernietig. My lus vir die lewe is weg. Ek mis jou so baie. Net God weet hoe gebroke ek is. Jy sal altyd in my hart bly. Ek is lief vir jou, my pragtige kind.”

Mac Donald sê die familie het kringtelevisiebeeldmateriaal van die buitekant van Roberts se woonstel in hul besit wat glo deur die polisie bestudeer word vir moontlike verdagtes. Hy sê dié video, wat die oomblikke wys voordat Roberts sy huis binnegaan, wys glo hoe sy seun “nog die een oomblik gelukkig en oukei” voorkom voordat sy liggaam later aangetref word.

Hy sê die familie is “woedend” dat Roberts se moord aanvanklik as selfmoord gehanteer is. Volgens hom het geen mens die “fisieke of emosionele krag” om sy of haar lewe op só manier te neem nie.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat die polisie ʼn saak van moord ondersoek nadat die geregtelike nadoodse ondersoek afgehandel is. Hy het bevestig dat die polisie ook die kringtelevisiebeeldmateriaal en ander bewyse ondersoek.

“Die polisie moes eers al die inligting bymekaar gekry het voordat ʼn ondersoek na moord begin kon word. Baie inligting word in dié stadium ondersoek, maar die polisie kan nog geen leidrade bevestig nie. Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johan de Klerk ·

My innige meegevoel met die familie en vriende. Ongelukkig leef ons hier in SA in ‘n opelug tronk, om na donker uit te gaan is om jou lewe in jou eie hande te neem. Baie van die misdade word op ‘n ad hok basis gedoen.

PJC ·

Met sulke onbeholpenes wat die saak ondersoek wonder ń mens wat gaan van die ondersoek word.

DS ·

My innige innige meegevoel. GEEN ouer moet die dood van ‘n kind deurmaak nie – soveel te meer as jou kind só wreed vermoor is. Kan my nie julle smart indink nie.

Anoniem ·

Dit hou net ernvoudig nie op nie net moord moord op onskuldige mense !!!!!. My innige simpatie aan sy familie veral sy mamna net GOD kan vertroosting bring

Muffin ·

Baie sterkte vir die familie en vriende. Dit was wreedaardig en wil dit voorkom daar was meer as 1 persoon betrokke wat dus beteken iewers sal iets uitlek en sal persone in hegtenis geneem word.

Rikag ·

Sterkte aan die familie mag die Vader vertroosting bring hoop as hulle gevang word moet hulle vrot in die tronk.

Mariet ·

My innige meegevoel aan die jongman se ouers en familie. Ja, n mens kan net hoop en bid dat die skuldige vasgetrek gaan word deur sulke onbeholpenes…

RH ·

Ek weet presies wat julle gesien het en beleef het en deur gaan tans. Ek is die selfde ding deur! My seun was ook soos n dier geslag! Dit wat ek gesien het, waar hy gele het, is nie iets wat enige iemand moet sien veral n ouer! Dis n prent wat in jou kop verewig bly oor en oor speel soos n rolprent en nagmerries gee! Dis 4jr 7mde later en nog geen een is gevang en niemand weet niks! Geen redes bir sy moord, gen antwoorde, net n klomp stukkies van n legkaart wat ek in my eie kop bymekaar plak! Geloof is al wat julle gaan deur bring! God is in beheer! God bly in beheer! Ons as mensdom, kan nie alles hanteer wat ons kant toe gegooi word nie, dus se God, ns moet ons bekommernisse en vrese oor aan Hom gee! Geloof mense! Geloof en vertroue in God en Sy planne vir elkeen van ons! Sterkte en gebede vir die familie.

CS ·

Is dit nie die seun van Alan Roberts wat in ‘n kroeg in Northdene, Queensburgh, op Desember 31, 2005 vermoor is nie?

@ CS ·

Dit lees IN SY HUIS IN MALVERN? Hoe lewer julle kommentaar sonder om te lees?

Bosbok ·

@ CS en Christelle. – Sjoe, is dit nie n wrede toeval dat beide Pa en seun 13 jaar uit mekaar op dieselfde dag ( given n paar uur) vermoor word nie? Sjoe.

botterblom ·

Dink dit bendeverwante moord… net my opinie… maar elkeen van die bende moet steek of sny…? Als onder korreksie..

botterblom ·

CS/Christelle… waar die inligting.. sal inters (steeds sad en grusaam) om die besonderhede te lees..

Koos ·

Klink na ‘n baie “persoonlike” insident gegewe die graad van geweld, met ander woorde iemand wat hom geken het op ‘n manier en wou afreken met hom. Die moontlike oorsake is legio – skuldinvordering, wraak? Vir ‘n knaap van 23 het hy nogal ‘n duur, vetgesmeerde blits vir ‘n voertuig gehad. Gewerk as kroegman, so hy moes baie mense geken het. Blyk op sy FB profiel hy’t by die Rage ook gewerk voorheen. En hy kla op sy tydlyn dat taxibestuurders hom met ‘n mes wou steek op ‘n stadium. Dwelms, bendes kon dalk ‘n rol gespeel het, wie weet?

Willem Laurens ·

Ek dink die tyd het aangebreek dat mense die staat hof toe vat vir geliefdes se dood. Raak hulle sak dan sal hulle dalk iets doen om die wrede moorde te bekamp. My magtig ons betaal belasting en is onwelkom onveilig in ons land wat ons voor betaal!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.