Gebruik beheerliggaamverkiesing om verskil te maak, sê Fedsas

skool

Skoolbeheerliggaamverkiesings vind in Maart plaas en het ‘n direkte impak op die gehalte van onderwys wat ‘n kind ontvang. Foto: Argief.

Skoolbeheerliggaamverkiesings begin op 1 Maart landwyd. Dié verkiesings vind elke drie jaar plaas en is naas die nasionale, provinsiale en munisipale verkiesings die grootste verkiesing van openbare verteenwoordigers in Suid-Afrika.

“Openbare skole behoort aan die gemeenskappe waarin die skole geleë is en hierdie skole word deur die betrokke beheerliggaam beheer en bestuur. Die beheerliggaam het dus ’n groot invloed op kinders se opvoeding en bepaal onder meer ’n skool se etos en missiestelling, beleid oor toelating, taal en finansiële bestuur. Die verkiesing stel ouers in staat om ’n sê te hê in wie op die liggaam moet dien wat sulke ingrypende besluite oor hul kinders se opvoeding neem en wat ʼn direkte invloed het op die gehalte van opvoeding wat hulle kinders kry,” sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas). Enige ouer wat ’n kind van graad R tot graad 12 in ’n openbare skool het, mag hom- of haarself verkiesbaar stel of stem in die verkiesing.

Onderwys in Suid-Afrika word deur verskeie probleme in die gesig gestaar. “’n Hele paar van hierdie probleme kan egter aangespreek word deur vaardige, kundige en toegewyde beheerliggame. Die sukses van ’n skool is direk gekoppel aan die vermoë van die beheerliggaam. Ouers móét dus stem om seker te maak dat die belange van hul kinders, maar ook die breër skoolgemeenskap gedien word.”

Fedsas verteenwoordig die belange van meer as 1 800 skoolbeheerliggame in Suid-Afrika. “Fedsas sal weer vanjaar uitgebreid betrokke wees by die verkiesing in terme van bewusmaking en opleiding,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas. Dit sluit in toegang tot kenners op die gebied van skoolbeheer- en bestuur wat vir media-onderhoude, analise en die vertolking van verkiesingsprosedure beskikbaar is.

“Ons belangrikste taak is om ouers bewus te maak van die verkiesing en die prosedures. Ná afloop van die verkiesing sal Fedsas ook weer sy hulpbronne en kennis beskikbaar stel om beheerliggame op te lei en toe te rus vir die taak,” sê Jaco.

Fedsas wil dit benadruk dat die verantwoordelikheid nou op ouers rus om ’n verskil te maak. “Hoe meer mense aan die verkiesing deelneem, hoe hoër is die gehalte van skoolbestuur. ’n Oneffektiewe beheerliggaam ontneem ’n skoolgemeenskap van bedingingsmag met die staat en selfs die breër gemeenskap,” sê Paul.

’n Spesiale afdeling is op die webtuiste www.fedsas.org.za geskep waar inligting oor die beheerliggaamverkiesing beskikbaar is. Fedsas is ook aktief op sosiale media – gebruik #SGBelec vir soektogte of vind die organisasie op Facebook by www.facebook.com/FEDSAS of op Twitter by @fedsas1

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.