‘Gebruik e-tol eerder vir padreëls’

Die e-tolprojek in Gauteng

deur Marianne Pouwels

Die DA het Woensdag voorgestel dat die gewraakte e-tolstelsel aangewend word om die padreëls af te dwing en verkeer te reguleer, eerder as om motoriste te beboet bloot omdat hulle die pad gebruik.

Fred Nel, DA-woordvoerder van vervoer in Gauteng, sê die huidige e-tol-infrastruktuur kan onder leiding van die DA gebruik word om die spoedbeperking op Gautengse hoofweë af te dwing.

“Daarbenewens sal dit gebruik word om die vloei van verkeer op ons paaie te verbeter. Dieselfde e-tolstrukture kan ook gebruik word om die beweging van vragmotors op die paaie te monitor en beperk, deur bepaalde tydsgleuwe vas te stel waartydens vragmotors die paaie mag gebruik. ʼn Boete kan dan vasgestel word indien vragmotors die paaie buite hierdie tydsgleuwe gebruik.”

Die DA meen boonop dit is hoog tyd dat die minister van finansies, Enoch Godongwana, die besluit wat oor e-tol geneem is, bekend maak.

Nel sê die regering behoort die minister se mediumtermyn-begrotingsrede Woensdagmiddag te benut as ʼn kans om ʼn aankondiging oor die e-tolstelsel te maak.

“Toe die regering eensydig besluit het om die e-tolstelsel in te stel, is Gautengers gedwing om hierdie gewraakte stelsel te verduur. Die ANC beloof al jare om van e-tol ontslae te raak, maar geen van hierdie beloftes is al nagekom nie.”

Die DA voer buitendien aan dat Gauteng se brandstofheffing reeds genoeg geld ingevorder het om die koste van die Gautengse snelwegverbeteringsprojek (GFIP) te dek.

Maroela Media het vroeër berig die Gautengse regering oorweeg dit om bykomende belasting in te stel om die GFIP te finansier.

“In plaas daarvan om ʼn nuwe belasting op Gautengse burgers te plaas om vir die GFIP te betaal, moet die e-tolstelsel gebruik word om kontant op ander maniere te genereer,” sê die DA nou.

Die DA het by die minister van finansies gepleit om die regte ding te doen en ʼn einde aan die e-tolstelsel te maak. Die party meen ook dat die inwoners van Gauteng verdien om ʼn regering te hê wat altyd na hul behoeftes sal luister.

 

“Die DA het die afgelope 13 jaar e-tol teengestaan ​​en sal ook voortgaan met die veldtog om hierdie ongewenste stelsel te laat skrap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

isabelle ·

asof Suid afrikaners nie reeds swaar kry nie
waar moet ons geld opdok vir al hierdie dinge? E-tol is bol Dankie DA ek stem

Casper ·

Daar kan nie tyd vasgestel word vir vragmotors nie.Huerdie voertuie moet noodsaaklike aflewerings doen om rakke vol te hou en vervoer bederfbare produkte.Hulle is gewikkel teen tyd.Vragte moet by hawes afgelewer word teen sekere tye.Dit is dus na my mening nie prakties uitvoerbaar nie.

Euodia ·

Stem volkome saam. Besighede en trokke wat meubels vervoer moet ‘n sekere tyd aflewer!

SwartBees ·

Dis net die hoofweë waar die trokke verhoed word….daar is ander roetes buiten die hoofweë wat hulle kan volg in daai tyd gleuf. Ek stem 100% vir die idee en ek stem 200% saam om trokke heeltemal weg te vat en weer gebruik te maak van spoor vervoer.

Gaitsigubib ·

…… en al weer kry jy n afmerkie vir jou logika. Hulle moet eerder troklane maak waar motors verbied word om te ry soos in die VSA se “interstates” of die stede se buslane. Enige persoon behoort te kan verstaan dat in n land waar die spoorvervoer reeds gesneuwel het gaan jy teespoed optel as jy vragmotors ook beperk. Om in jou bed te slaap wat jy self opmaak is soms nie lekker nie. Ons moet maar sien….

Pietertjie ·

Soos om swaar vragmotors aan te keer wat in vier van die vyf bane teen 20km/h voortkruie, terwyl motoriste aan padwoede ly soos hulle mekaar druk om eerste by die spul verby te vleg.

R1ker ·

Daai maak my net so woedend. 5 bane waarvan die trokke 3 tot 4 langs mekaar ry. Veral hier in Johannesburg by Van Buuren afrit in Bedfordview. En dan staan daar nog amper elke dag ‘n trok wat gebreek het daar ook

Danie ·

Wel as dit so aangaan gaan ons een van die dae nie kan bestuur of mag bestuur nie.Weens vervalde lisensies ,alle verkeerspersoneel wat toegesluit is,onbegonbare paaie en geen brandstof.

marius ·

Sal ook nie kan loop nie want riool le knie diep in die strate .

DapperWoef ·

Ek is soooo bly dat die ANC regering dink ek nog enigisins enige verdere belasting kan bekostig…

Waarom dink hulle het ons geweier om die e-tol te betaal om mee te begin?

My oorle broer het altyd my gespot en gese “As jy die dag skrik, pasop net vir wakker skrik…”

Selfde kan gese word vir die kaders….

Gaitsigubib ·

Sommige mense hou daarvan om leeg gesuig te word. n Dier hou steeds aan lewe as hy parasiete het maar dit het altyd n nadelige effek op die dier. Mens sou dink dat die mens wat kan kies of hy parasiete wil he of nie sou daar teen besluit, maar tog nie. Dis interesant.

Amelia ·

Dit klink na ‘n bak plan. Julle sal geen liefde by padgebruikers kry vir tolbelastings nie, maar die padvarke kan gerus voor stok gekry word.

Tubac ·

NEE! Gebruik eerder die geld om om ons paaie weer na eerste wereld standaard terug te bring.

Faraway ·

Wat nou van ons wat getrou betaal het sedert 2013 . . . hoekom voel ons soos die verkeerdes en die wat geweier om te betaal soos die regtes????

Roelof ·

Skraping van e-tol net nog n ANC leun.
Alles wat hulle nie kan hanteer nie word geignoreer of vals beloftes gemaak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.