Gebruik geduld, sê departement oor onbetaalde salarisse by SAL

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die departement van openbare ondernemings sê hy het simpatie met die lot van werkers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) wat nou reeds maande lank nie salarisse ontvang nie en het ʼn beroep op hulle gedoen om geduldig te wees terwyl daar aan ʼn oplossing gewerk word.

Die sukkelende nasionale lugredery is in Desember verlede jaar in sakeredding geplaas en in Oktober vanjaar het die minister van finansies, Tito Mboweni, R10,5 miljard in sy mediumtermynbegroting daarvoor bewillig.

Die departement het Vrydag gesê die sleutel tot ʼn oplossing vir die probleme by die SAL is die afhandeling van die sakereddingsproses. Hy sê hy werk saam met die sakereddingspraktisyns om die beste herstruktureringsoplossing vir die redery te vind. Dit sluit in die betaling van salarisse.

Die departement sê hy het al vantevore met die SAL se bestuur saamgewerk om goeie bestuur te herstel en korrupsie by die redery hok te slaan.

“As een van die fokusgebiede het die SAL ondersoek ingestel na groot kontrakte wat met logistiek, inligtingstegnologie, raadgewende dienste en grondhantering en veiligheid verband hou,” het die departement gesê.

Die departement sê hy het tugstappe gedoen teen werkers wat hierby betrek is en dit het gelei tot die afdanking van sommige senior en uitvoerende bestuurders. Dertien werkers is skuldig bevind aan wangedrag en het finale geskrewe waarskuwings gekry, terwyl nege ander afgedank en nog vier self bedank het.

“Alle belanghebbendes, werkers en vakbondlede word aangemoedig om na vore te kom en geloofwaardige inligting aan die departement te gee oor voorvalle van moontlike korrupsie, sameswering, diefstal of bedrog wat by die lugredery of onder sy diensverskaffers voorgekom het,” het die departement gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JM ·

Korrupsie: die kanker op elke terrein van die SA-samelewing! Sal dit ooit uitgeroei word?

Nico ·

Sien al die miljoene wat in gepomp word, word weer vermors deur die grootbase.

Chris dupreez ·

Tannie Dudu en oom Jacob moet nou tronk toe oor wat hulle aan SAL gedoen het

Nie Verbaas ·

Die kans is skraal dat dit ooit sal gebeur. ANC het al oor en oor bewys dat hulle geensins vertrou kan word nie.

Jack ·

Waarom kry mense salarisse as die lugdiens nie vlieg nie? Wat doen hulle wat waarde tot die onderneming van hulle werkgewer toevoeg wat dan inkomste genereer wat weereens die bron behoort te wees waaruit salarisse betaal word?

Ons begrip van werk en vergoeding in hierdie land is totaal verwronge. As jy nie werk nie – maak nie saak wat die rede is nie – kan jy nie aanspraak op vergoeding maak nie.

Nou moet die belastingbetaler ‘n reddingsboei van R10.4 miljard befonds sodat SAL personeel wat op hulle hande sit lekker vet salarisse kry.? Dis absoluut verkeerd. En moenie vir my kom sê dis nie die werkers se skuld nie. Dis ook nie die belastingbetaler se skuld nie maar hy/sy moet maar opdok. Die hele spul is bankrot. Sluit die blerrie ding. Dis baie goedkoper.

JohanR ·

Omdat die belastingbetalers se geld oor die jare soe gemors is, word nog gemors, en as SAL ooit weer vlieg sal aanhou gemors word, sal ek as ‘n belastingbetaler nooit weer SAL of Mango vlieg nie. Binnelands maar Comair, Kulula en Safair, en daar is baie ander lugredery wat goedkoper(voor SAL se val) buiteland toe vlieg.

Kobus ·

Ek wil net vra,die ministers het seker elke maand salaris ontvang,maar amptenare moet geduldig wees?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.