Gebruik van glifosaat teen waterslaai in Vaalrivier gestaak

Bote wat waterslaai instoot om opgeskep te word (Foto: Verskaf)

Die waterslaai op dele van die Vaalrivier gaan nou eerder met ʼn ander gifdoder, as die omstrede glifosaat, bespuit word.

Na kommer oor die gebruik van glifosaat is ʼn taakspan deur Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en die omgewing, en Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, aangestel om met ander voorstelle vorendag te kom om die situasie op kort en lang termyn te bestuur.

Daar is onder meer besluit daar moet eerder ʼn ander onkruiddoder, wat by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling geregistreer is, gebruik word om die waterslaai mee te bespuit. Bespuiting met glifosaat is opgeskort.

“Op mediumtermyn sal nakoming- en toepassingsingrypings verskerp word teen die bronne van besoedeling wat hierdie situasie aandryf. Op lang termyn sal die Vaalrivier-opvanggebiedstrategie met betrekking tot indringer- uitheemse akwatiese spesies hersien word ten einde ’n strategie te implementeer wat holisties aandag aan die situasie sal gee.”

Die opknapping van die Rietspruit-, Sebokeng- en Leeukuil-afvalwatersuiweringswerke sal volgens die ministers ook versnel word om besoedeling in die Vaalrivierstelsel te verminder.

(Foto: Verskaf)

Volgens die ministers word verskeie beheerstrategieë, wat gelyktydig toegepas kan word, deur die taakspan ondersoek.

WaterCAN, ʼn voorstander van waterbesparing en veiligheid, het vroeër sy diepe bekommernis uitgespreek oor die gebruik van glifosaat.

“Om glifosaat direk in ʼn varswater-ekosisteem te spuit is ʼn verskriklike slegte idee,” het dr. Simone Dahms-Verster, dosent by die Universiteit van die Witwatersrand se Skool vir Geografie, gesê. “Die uitwerking van glifosaat kan reaktiewe suurstofspesies en geenmutasies in verskeie akwatiese spesies veroorsaak. Ek kan nie glo dat dit goedgekeur is en in werking gestel gaan word nie.”

WaterCAN glo ʼn veelvlakkige benadering is nodig om die waterslaai- en hiasintbesmetting in die Vaalrivier te pak.

“Een van die kritieke komponente van hierdie benadering is om die rioolbesoedeling wat van Emfuleni – en ander omliggende munisipaliteite – in die rivier vloei, te voorkom. Die nitrate wat in rioolvuil voorkom, dien as ʼn brandstof vir die vinnige groei van waterslaai.

“Deur rioolbesoedeling by die oorsprong te beperk kan ons die toestroming van voedingstowwe versag wat die verspreiding van indringerwaterplante vererger.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Luckykat ·

En as hul nie glifosaat spuit nie maar wel ander onkruiddoders, wat is die ander wil ek weet?
Mense kan so aangaan oor glifosaat. Nog n opgemaakte storie.

SjN ·

Is waterslaai die nuwe naam vir Hiasinte, verwyder dit meganies en per hand, droog en verwerk, priotiseer eerder die riool besoedeling!!

Henry ·

Glifosaat het ‘n baie slegte naam, maar is nie naastenby so erg as wat die meeste mense glo nie. Nogtans is dit ‘n dom idee om dit oor oop water te spuit. Die vraag is net, wat is die ander gif wat hulle gaan gebruik? Glifosaat is nie naastenby so skadelik as ander giwwe (byvoorbeeld 2.4D) nie.

Gaitsigubib ·

Lucky wat meen jy die glifosfaat is n opgemaakte storie? Meen jy dis gesond om n paar slukke elke dag te neem? Volgens my het die gif het n lang geskiedenis en onlangs het n jurie in Pennsylvania bevind dat John McKivison (49) kanker gekry het a.g.v hierdie gifstof en n reuse kostebevel is toegestaan. Is dit fake nuus? Ek weet Roundup sou die aktiewe bestandeel op n kol uitfaseer. Ek wag geduldig om van jou te hoor.

Henry ·

Gaitsigubib, jong glifosaat is die enigste aktiewe bestanddeel van Roundup. Of dit die glifosaat self is wat kanker kan veroorsaak en of dit een van die ander stowwe (meng/verbinding stowwe) is wat in Roundup is sal ek nou nie weet nie. Ek weet wel dat die EU en VSA beide sê dat glifosaat self nie kanker veroorsaak nie. Glifosaat is ‘n sout verbinding met ‘n LD-50 van 2-5g/kg. Tafel sout se LD-50 is 0.5-1g/kg. Dit is egter wél skadelik vir water lewe en nie geskik vir bespuitings oor water nie. En dan bly die vraag staan, as hulle nie glifosaat gebruik nie, waarmee word dit vervang? 2.4D is ‘n hormoon gif en is myns insiens heelwat gevaarliker vir mense as wat glifosaat is. Paraquat/gramoxone is hiper giftig vir water lewe en sal nie die wortels van die Hiasinte dood nie. Triazine is vergelykbaar met 2.4D… die opsies is maar nie goed nie.

gpsa ·

Ek ken nie van gif stowwe nie, maar dink net as dit gebruik word sink al daai dooie plante na die bodem en daar frot dit, Meganiese verwydering en stop van riool invoei enigste oplossing wat vir my sin maak. Vrag is seker hoe.

Bolandse Nooi ·

Kom leer by die Wes Kaap – daar is mos redelik onlangs ‘n “plantvreter” masjien geïmplementeer wat sekere damme, vleilande ens. skoongemaak het van indringer plante.

Gaitsigubib ·

Dankie Henry, ek het darm nou die spelling reg. Ek sien Wikipedia en jou skrywe stem redelik ooreen. Hoewel n hof in die VSA wel beslis het dat die produk kanker veroorsaak is jy ook reg dat 2.4D en ander gif nog baie erger is.

Gaitsigubib ·

Dankie Lucky, om geskool te word in gif is vir my beslis van waarde. Nie dat ek ooit sal instem om enige van daardie in ons riviere te spuit nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.