Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) gaan ondersoek instel na die polisie se gebruik van ’n waterkanon om begunstigdes van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) uiteen te jaag.
Die polisie se eenheid vir openbare orde het verlede maand met ’n waterkanon op begunstigdes buite die Sassa-kantoor in Bellville losgetrek nadat hulle na bewering nie sosiale afstand in die toue gehandhaaf het nie.
Albert Fritz, die minister van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, verwelkom Opod se ondersoek nadat hy ’n skrywe op 11 Februarie aan die streekhoof gerig het waarin hy die ondersoek versoek het.
Hy het ook ’n skrywe aan die minister van polisie, Bheki Cele, gerig. Dié skrywe het onbeantwoord gegaan.
Fritz het in die skrywes duidelikheid versoek oor wie die betrokke dag die polisie se eenheid vir openbare orde na die Sassa-kantoor ontplooi het. Die minister wou ook weet watter hulpbronne die betrokke dag gemobiliseer is en waarom dit nodig was om die hulpbronne waaronder ’n waterkanon tydens ’n ministeriële toesigbesoek te ontplooi.
Maroela Media het vroeër berig ’n storm het om Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, losgebars oor bewerings dat sy gedurende haar besoek aan die Sassa-kantoor in ʼn Casspir gesit en toekyk het hoe die begunstigdes met die waterkanon uiteengedryf word.
Zulu het dit ontken.
“Dit is noodsaaklik dat diegene wat verantwoordelik is vir die onmenslike optrede teen die kwesbaarstes in ons samelewing, geïdentifiseer word en nie beskerm word deur die verslae wat op 28 Januarie 2021 van die waarnemende provinsiale kommissaris, genl. Manci, ontvang is nie,” sê Fritz.
Dié verslag het glo nie Fritz se navraag oor die voorval beantwoord nie.
“Ek het voorheen my onvoorwaardelike kommer uitgespreek oor die onaanvaarbare gedrag van die polisie teenoor Sassa-begunstigdes, en ek is vasbeslote om al my toesighoudingsbevoegdhede te gebruik om te bepaal wat die omstandighede was wat daartoe gelei het dat so ’n besluit deur die SAPD geneem en geïmplementeer is.”
Volgens Fritz is dit vir hom ook onduidelik waarom Sassa nie die toepaslike maatreëls ingestel het om sosiale afstand te handhaaf en sulke lang toue buite hul Bellville-kantoor te voorkom nie.
Fritz wil nou ’n vergadering met die nasionale polisiekommissaris, Khehla Sitole, aanvra om die gebeure buite die Sassa-kantoor te bespreek.
“Ek is diep bekommerd oor die manier waarop die polisie op die voorval gereageer het, hoe die opdrag gegee is en deur wie. Hierdie vyandige optrede het die waardigheid van baie weerlose mense wat in die ry gestaan het, ondermyn.
“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners verder verneder word wanneer hulle lank op basiese dienslewering moet wag en steeds sleg deur die polisie behandel word.”
As jy ooit n eerlike en opregte antwoord gaan kry, gaan dit storms reën in die Kaap.