Gebruikers krap kop ná OLX uit SA verdwyn

OLX is vanaf 1 Februarie aan Suid-Afrika onttrek. (Foto: Skermskoot)

Aanhangers van OLX, die gewilde kleinadvertensieplatform vir gebruikte produkte, krap die afgelope ruk kop nadat dié webwerf oënskynlik nie meer in Suid-Afrika beskikbaar is nie.

OLX is in 2011 deur die multinasionale mediagroep Naspers in Suid-Afrika van stapel gestuur en het sedertdien met ander plaaslike kleinadvertensiehandelaars soos Bidorbuy en Gumtree meegeding.

Henk Bakker, eienaar van Bridge Auto Spares in Germiston, sê hy was verward toe hy vroeër vandeesweek op die webwerf wou inloer om na sy bestaande advertensies te kyk. Hy het ʼn boodskap gekry wat lui dat die advertensiediens nie meer beskikbaar is nie.

“Ek het die een week nog advertensies opgelaai en die volgende week is die webwerf toe. Ek het geen waarskuwing gekry nie,” sê hy.

Sjoerd Nikkelen, OLX-groephoofbestuurder vir Asië, die Midde-Ooste en Afrika, het aan Maroela Media bevestig dat OLX vanaf 1 Februarie aan Suid-Afrika onttrek is.

“Ons het ons OLX-platform in Suid-Afrika gestaak om ons aanbod ten volle op ons eiendom- en motorplatforms in die land te fokus,” sê Nikkelen.

Indien OLX nou besoek word, word gebruikers aangeraai om óf AutoTrader óf Property24 te besoek. Albei word deur Naspers besit.

“[Hierdie besluit] is eintlik ʼn aanduiding van die vordering wat ons die afgelope paar jaar in Suid-Afrika gemaak het en simbolies van hoe ons as die OLX-groep aanhou om onsself en ons aanbod aan te pas.”

OLX het reeds in 2018 al sy bedrywighede aan die res van Afrika onttrek, met Suid-Afrika die enigste plek op die vasteland waar die diens steeds beskikbaar was.

Bakker sê hy sit hande in die hare noudat hy OLX nie meer kan gebruik nie. Hy het die afgelope twee jaar sowat 600 gratis advertensies op die webwerf gelaai.

“Ons verkoop tweedehandse motoronderdele en die onderneming maak staat op die advertensies wat hierop [OLX] verskyn,” sê hy.

Bakker het drie jaar gelede die onderneming oorgekoop wat vanjaar in sy 61ste bestaansjaar is.

Hy gaan nou probeer om advertensies op Facebook te laai, maar meen dit gaan nog sowat twee jaar duur voordat hy weer die getal advertensies op Facebook het as wat hy vantevore op OLX gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wielspore ·

Met so ‘n swak verduidelikking as rede vir ontrekking dink mens daar is eerder ‘n slang in die gras. Uit ‘n verbruiker se oogpunt was OLX ‘n broeiplek vir swendelaars en daar was min en geen belangstelling van OLX om dit hok te slaan. Ek koop en herstel goedkoop voertuie en uit ondervinding moet mens lig loop vir swendelaars. Daar is en was nooit ‘n platform waar jy met OLX kon kommunikeer en terugvoering te kry. Indien jy ‘n adverstensie as swendel raporteer deur hulle stelsel sal die advertensie nog op bly vir weke en daar is geen terugvoering. Jy kon hulle nie bel of epos vir noodsaaklikhede. Selfs Autotrader se webtuiste beperk jou soek enjin net tot sekere handelaars en die resultaat van jou soek is ‘n klein lysie van voertuie. Dit lyk eerder of Media24 besig is om swaar te trek agv swak besluite.

Antz ·

Ek stem nie saam nie, ek het elke liewe keer terugvoer gehad van OLX as ek iets of iemand raporteer het.

Antz ·

Ek self is net so geskok. Ek was vir baie jare ‘n aktiewe verkoper op OLX en kan duidelik sien hoe dit my negatief raak. Ek sal ook na ander alternatiewe advertensie idees moet kyk, maar was nie gewaarsku nie so baie ontkant betrap. Ek het regtig baie goed op OLX gedoen en GEEN ander webtuiste was so maklik en goed soos OLX. Gumtree is vir my ontsettend deurmekaar en vol advertensie gemors wat dit lank vat om ooptemaak. BID OR BUY kos weer te veel om advertensies te plaas… so ja… nogsteeds te geskok om eers reg te kan dink wat my volgende stap moet of gaan wees…

Danny ·

Geen kennisname en verduideliking. Die ander groepe is glad nie verbruiker-vriendelik nie! Hoeveel marknavorsing is gedoen, wonder ek sommer hardop..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.