Gedeelde kontak oor kinders: Kenners se raad vir afsonderingstyd

(Foto: Kelli McClintock)

Vir talle geskeide of vervreemde ouers is kontak met hul kinders soms reeds ʼn tameletjie en die staat van inperking wat van Donderdag om middernag geld gaan waarskynlik selfs groter druk op ouers plaas.

Elize Fourie-Hendry, ʼn familieregspesialis verbonde aan Cilliers & Vennote in Mosselbaai, sê die bepalings wat die regering afgekondig het oor die staat van inperking maak dit duidelik dat reis nét in uitsonderlike omstandighede en vir noodsaaklike dienste toegelaat gaan word.

“Dít is die regsgronde. Mense moet verstaan hulle kan nie nou kyk na ʼn siviele hofbevel wat hulle sekere regte gee nie. Hulle moet ook kyk na die hele Suid-Afrika se regte,” sê sy.

Volgens Fourie-Hendry- is sy die afgelope paar dae oorval met navrae oor die kwessie. Sy sê daar moet in dié tydperk egter nie net in eiebelang opgetree word nie, maar in die belang van kinders en die breër gemeenskap.

(Foto: Jordan Whitt/Unsplash)

Sy sê ʼn kind wat byvoorbeeld twee van die drie weke van die vakansie by een persoon sou deurbring, moet in dié tyd eerder die hele tydperk van afsondering daar bly. “Dit is nie net in die beste belang van die gemeenskap nie, maar ook in die belang van jou kind.

“Daar kan ongelukkig nie ʼn heen-en-weer-gekuier wees nie.”

Fourie-Hendry sê as daar vantevore beperkings op byvoorbeeld die getal toegelate oproepe tussen ʼn kind en ʼn ouer gegeld het, moet betrokkenes oorweeg om dié reëlings tot tyd en wyl te verslap. Sy stel voor dat oproepe behoorlik beplan word. Maak byvoorbeeld van video-oproepe gebruik sodat kinders ook die ander persoon kan sien. “Beplan wat jy vir die kinders gaan sê, trek gesigte of stap deur die huis en wys hulle verskillende goed.

“Wees positief. Onthou, die kinders is ook gefrustreerd omdat hulle nêrens heen mag gaan nie.

“Wees ook volwasse oor die situasie. Ek dink Suid-Afrikaners het ʼn inherente vermoë om die beste van moeilike omstandighede te maak – en ons moet dit in daardie gees doen.”

Fourie-Hendry sê sy raai haar kliënte ook aan om nie paniekerig, aggressief of selfsugtig te wees nie. “Maak dit ʼn positiewe ervaring vir die kinders. Jy het nou die sonderlinge geleentheid om drie weke met jou kinders deur te bring.

“Ouerlike regte staan nou tweede in die ry, maar ouerlike verantwoordelike, soos liefdevolle versorging en om positief te bly, is baie belangrik.”

(Foto: Facebook/Easter Egg Hunt 2020 with Social Distancing)

Yolandi Singleton, ʼn maatskaplike werker, spelterapeut en hoof van Helpende Hand se Ons Sentrum in die noorde van Pretoria, stem saam dat die land – en wêreld – in ʼn buitengewone situasie verkeer en dat dit geduld van almal gaan vra.

“As Solidariteit Helpende Hand besef ons dat daar gestandaardiseerde riglyne hierop behoort te wees. Terselfdertyd is ons deeglik daarvan bewus dat elke individu, gesinstruktuur en omstandighede uniek is en dat daar dan daarvolgens oordeelkundig gereageer moet word,” sê Singleton.

Sy sê ouers moet in hierdie tyd ʼn tree teruggee en mekaar in ʼn krisistyd tegemoet kom. “Doen wat in die beste belang van jou kind en die res van die land is. Ons moedig ouers aan om ʼn bietjie stil te staan en nie nou oorlog te verklaar nie. Kom ons probeer hard om empaties in die situasie te wees en die kind se welstand te bevorder. Dink aan die groter prentjie.”

Singleton sê dit kan boonop ʼn gesondheidsrisiko inhou om kinders rond te ry en sy meen ook dis waarskynlik veiliger as kinders vir die afsonderingstydperk op een plek bly.

“Ouers én kinders het regte, dit ís so. Daar is soms reeds spanning wanneer kinders uitmekaar is, maar moenie dit in die tyd verhoog nie.”

(Foto: Wendy Aros-Routman/Unsplash)

Sy sê ook kinders is uiters bedag op hoe hul ouers optree – veral in ʼn krisis.

“Alhoewel jong kinders nie noodwendig die volle omvang van die nuwe koronavirus begryp nie, glo ons dat hulle al ʼn geruime tyd die spanning aanvoel wat die virus teweegbring. Daarom is dit van die uiterste belang dat ouers nou alles in hulle vermoë moet doen om nie hul kinders aan enige negatiewe optrede of reaksies bloot te stel wat langtermyngevolge kan hê nie.

“Kinders is veral nou besig om hul ouers met ʼn valkoog dop te hou en te leer hoe daar in krisissituasies gereageer word. Wees bewus daarvan dat elkeen se optrede nou sekere boodskappe aan die kind stuur en dat die kind hierdie inligting internaliseer en deel maak van sy of haar waardes.”

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het vroeër gesê die regering is bewus van die probleem betreffende gedeelde kontak en het simpatie met ouers, maar dat dit onduidelik of daar in dié stadium ʼn oplossing is.

“Ons moet dit wat nou gebeur, hanteer. Beweging op sigself is ʼn probleem en daarom is die beweging van kinders moeilik.”

Die minister se woordvoerder kon nie vir verdere duidelikheid bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Amanda ·

Geagte Mevrou/ Meneer as jou kind nie vir jou belangrik genoeg was om jou eggenoot te waardeer en koester en jou gesin bymekaar te hou nie, waarom, se my waarom huil jy nou om jou kinders te sien. Jy moes hulle gekoester en waardeer het toe julle n gesin was. Geen simpatie.

Wilma ·

Amanda dit is ‘n baie onregverdige hou wat jy hier toe dien, Jy bly mos nie in die mense se huise om te weet wat was die omstandighede vir die egskeiding nie. Baie kinders is beter af met ouers uit mekaar as wat hulle in ‘n huis is waar altwee die ouers saam is. Gee eerder positiewe kommentaar.

Anel ·

“Hulle het geen oplosding in hierdie stadium nie.” Hulle het geen oplossing vir niks in geen stadium nie. Hulle het kop eerste by iets ingestorm voor hulle dit behoorlik deurdink het. Selfsugtig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.