Gedeelde kontak: Ouers in duister

Argieffoto: Pixabay

Talle ouers wat daarna uitgesien het om hulle kinders by hulle te hê, sal nou weke langer moet wag om hul kinders te sien weens die tydperk van afsondering.

Dit nadat die minister van maatskaplike ontwikkeling Saterdag aangekondig het dat kinders vir die volgende drie weke slegs onder die toesig van die bepaalde ouer waar die kind hom of haar ten tyde van die instel van die tydperk van afsondering bevind het, mag bly.

Kinders mag nie tydens die algehele landwye afsondering albei ouerhuise besoek of afwisselend daar bly nie.

’n Geskeide pa van Pretoria het sy misnoeë te kenne gegee oor dié regulasie wat verhoed dat hy sy kinders kan sien. Sy dogter en seun, onderskeidelik ses en nege jaar oud, woon tydens die afsonderingstydperk by hul ma in ’n woonstel in die stad.

“Ek het my kinders twee weke laas gesien. Hulle sou aanvanklik Dinsdag by my kom kuier het vir die vakansie,” het die pa aan Maroela Media vertel.

Die pa sê hy was baie opgewonde dat sy kinders sou kom kuier het en het reeds aktiwiteite beplan wat hulle sou doen. Hy is bekommerd dat sy kinders gefrustreerd sal raak om hulself vir drie weke in ’n klein woonstel besig te hou.

Die pa sê hy voel magteloos om nie in hierdie onsekere tyd sy kinders naby hom te kan hê en hulle te beskerm nie. Wat vir hom veral ook moeilik is, is om vir die volgende drie weke slegs oor ’n selfoon met sy kinders te gesels. Hy het hulle gewoonlik op ’n weeklikse basis gesien.

“Ek is nie soseer bekommerd dat hulle die virus sal opdoen nie. Ek is meer bekommerd oor die feit dat hul baie aan die slegte nuus oor die virus blootgestel gaan word. As hulle hier by my was, sou ek verhoed dat hulle heeltyd na die negatiewe nuus moet luister of dit op sosiale media of op die nuus moet sien. Kinders hoef nie nou al oor hierdie dinge te worry nie. Dit is waarom hulle mammas en pappas het.”

Nog ’n geskeide pa van Pretoria voel ook magteloos en gefrustreerd omdat hy nie weet hoe lank die afsondering nog gaan voortduur nie.

“Ek dink baie ouers voel in die duister soos ek. Ons leef in vrees vir die moontlikheid dat die afsonderingsperiode verleng gaan word. Wat gaan dan gebeur? Gaan ons dan ons kind maande lank nie kan sien nie?” het dié frustreerde pa gevra.

Hy is tans besig om van sy vrou, wat nou in die Wes-Kaap bly, te skei. Hy kan slegs sy kind op Dinsdae en Donderdae bel en gaan in dié drie weke nie eers sy kind oor ’n selfoon kan sien nie.

Dié pa het ook sy kommer uitgespreek oor die ma se finansiële welstand omdat sy nie werk in die afsonderingstydperk nie en vir hul kind moet sorg. “Ek het maar ’n ekstra geldjie oorbetaal, net vir my eie gemoedsrus. My hande voel so afgekap.”

’n Geskeide ma van twee van Pretoria wie se kinders by haar vir die drie weke van afsondering bly, voel baie gerus dat haar kinders in dié tyd wel by haar kan bly.

Te midde hiervan staar sy as enkelma ook talle uitdagings in die gesig. “Die landwye afsondering het ’n geweldige impak op my finansies. Waar ek gewoonlik die kinders soggens met hul kosblikkies by die skool afgelaai het, moet ek drie monde, myne ingesluit, meer as drie keer per dag voed. En dit sonder die finansiële bydrae van ’n eggenoot,” het dié ma vertel.

Die ma sê sy moet ook haar tyd reg bestuur om tussen haar werk deur ook huistakies te verrig en tyd aan haar kinders te bestee.

“Ek moet seker maak die kinders doen getrou hul huiswerk wat hulle steeds by die skool kry. Dit is soms moeilik om hulle van die televisie af weg te hou, en ek moet gereeld aktiwiteite kry wat hulle kan doen om besig te bly.”

Dié ma meen elke geskeide situasie is uniek. Sy sê die verhouding tussen die twee ouers sal die uitwerking van die regulasie van kinders en afsonderlike huishoudings op die ouers se gemoed bepaal. “Party ouers het gemoedsrus om te weet dat hul kinders veilig is by die ander ouer vir drie weke. In my geval, het ek vrede om my kinders eerder hier by my te hê. Die kwaliteittyd saam met hulle is iets wat geld nie kan koop nie.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Helizna

Kyk nou hoe die Ouervervreemding toeneem.

Aha

Sterkte

Pieter J

Ek dink enige ouer wat omgee vir sy kinders sal hierdie aanvaar want dit gaan ń groot risiko wees om kinder gedurig van een plek na ń ander te verskuif.