Gedeelte van Gautengse skool in puin gelê

Brandbestryders Maandagoggend op die toneel. (Foto: Verskaf)

’n Gedeelte van ’n skool in Soshanguve in die noorde van Pretoria het Maandag in die vroeë oggendure afgebrand.

Die Gautengse departement van onderwys het in ’n verklaring gesê gemeenskapslede het vroegoggend ’n harde geluid vanuit die rigting van die Amogelang Secondary School in die omgewing gehoor. Dié geluid het soos ’n ontploffing geklink.

Brandbestryders is na die skool ontbied en kon daarin slaag om die vlamme aan die skool se administratiewe blok te blus. Dié gedeelte van die skool is egter in puin gelê. Verskeie lêers, fotostaatmasjiene, rekenaars en drukkers het in die slag gebly.

’n Ondersoek na die oorsaak van die brand is van stapel gestuur. Dit blyk egter in dié stadium dat daar by die skool ingebreek is, aangesien van die slotte en deure afgebreek is.

Luidens die verklaring was die skool se veiligheidswag aan diens ten tyde van die brand nié in die omgewing van die administratiewe blok nie en is dus ongedeerd.

Brandbestryders Maandagoggend op die toneel. (Foto: Verskaf)

“Dit is teleurstellend dat nog ’n skool deur ’n brand verwoes is,” het Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, gesê.

Die DA het intussen sy kommer uitgespreek dat nog ’n skool in ’n brand beskadig is.

Nkele Molapo, die DA se woordvoerder vir onderwys in Gauteng, het in ’n verklaring gesê verskeie skole in dié provinsie is reeds weens ’n brand beskadig. “Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om die polisie te help in die ondersoek na hierdie aangeleentheid, asook om die identiteit van die verdagtes aan te meld.

“Die DA het ’n geenverdraagsaamheidsbeleid rakende die vernietiging en afbrand van die regering se infrastruktuur wat bedoel is om gemeenskappe te dien,” het Molapo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Paul ·

Verstaan nie mooi hulle wil almal geleerdheid hè om kabinet ministers en besighede te besit maar brand skole en universiteite af hoe nou

Stefan ·

Wat als tref ons aan (of juis nie) as ons die dag weer mag buite kom?

Cecil ·

Veiligheidswag aan diens ongedeerd. Dit laat my wonder. Deure en slotte was gebreuk met geen geraas.

Henk ·

My eerste gedagte na die berig is “Liberation before education…” gaan hulle nog lááánk agtervolg! Ongelukkig is dit nie a.g.v die slagspreuk dat hulle doen wat hulle doen nie. Die slagspreuk het ontstaan uit die waarde wat hulle aan goeie onderrig heg – niks (ten spyte van wat Lesufi en sy gespuis sê. Sy dade wys anders). Hulle moet maar net hand in eie boesem steek en kyk hoe hulle uit hierdie situasie gaan kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.