Gedeelte van Koeberg Maandag afgeskakel

Die Koeberg-kernkragsentrale. (Argieffoto)

Die land se krag sal vanaf Maandag onder bykomende druk geplaas word wanneer eers eenheid twee en dan eenheid een van die Koeberg‑kragsentrale aan die stelsel onttrek word.

Eenheid twee van Koeberg sal eerste vir geskeduleerde opknapping en hervulling van sy brandstofvoorraad aan die kragstelsel onttrek word. Drie van die eenheid se stoomopwekkers moet ook vervang word en die hele proses sal na verwagting vyf maande duur, het Eskom Saterdag in ʼn mediaverklaring gesê. Daarna sal eenheid een onttrek word om dieselfde prosedures te ondergaan.

“Dit gaan ʼn lang, maar noodsaaklike proses wees; die eerste van sy soort vir Koeberg,” het Riedewaan Bakardien, Eskom se hoofkernkragbeampte, gesê. “Ons werknemers is voorbereid en vasbeslote om te verseker dat die projek ʼn sukses sal wees. Ons sal veral verseker dat ons aan veiligheidsvereistes vir kernkrag voldoen en die veiligheid van ons werkers en die publiek vooropstel.”

Die opknapping is beplan vir tye van die jaar wanneer die impak op die algehele kragvoorsiening minimaal is. “Die onttrekking van Koeberg se eenhede beteken wel dat die land se elektrisiteit in die komende jaar onder bykomende druk geplaas sal word.”

Koeberg se eenhede kan elk 920 MW opwek en is die grootste opwekkingseenhede in Afrika en Eskom steun swaar op dié eenhede om volhoubare kragvoorsiening aan Suid-Afrika te lewer.

Anders as met ander kragsentrales, kan brandstof nie tydens opwekking by ʼn kernkragsentrale gevoeg word nie, aangesien die brandstof binne die reaktor geseël word. Dié reaktor moet elke 15 tot 18 maande oopgemaak word om brandstof aan te vul. “Wanneer Koeberg se eenheid twee Maandag afgeskakel word, sal dit 452 dae wees wat die eenheid sonder voorval bedryf is sedert dit in Oktober 2020 opgevul is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.