Gedeelte van N1 dié naweek gesluit

Argieffoto: memyselfaneye (Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het Gautengse motoriste gewaarsku dat ʼn gedeelte van die N1 in Pretoria dié naweek gesluit sal wees wanneer ʼn nuwe voetgangerbrug opgerig word.

Sanral sê in ʼn verklaring die N1-Suid sal Sondag vanaf 18:00 tot Maandag om 04:00 tussen die Rigellaan-afrit en die R21-afrit gesluit wees vir die oprigting van ʼn nuwe voetgangerbrug in Erasmusrand. Dié nuwe brug sal die vorige brug vervang wat in 2016 afgebreek is.

Verkeer sal gedurende dié tydperk herlei word vanaf die Rigellaan-afrit, via Solomon Mahlangu-rylaan na die R21 in die rigting van OR Tambo, waar motoriste weer op die N1-Suid kan klim in die rigting van Johannesburg.

“Motoriste word egter aangemoedig om hul reise vooraf te beplan en versigtig te bestuur wanneer daar in die tyd van die alternatiewe roetes gebruik gemaak word,” het Progress Hlahla, Sanral se noordelike distriksbestuurder, gesê.

Hlahla het namens Sanral om verskoning gevra vir die ongerief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.