Gedeelte van N11 wéér gesluit ná ongeluk

Die N11 by die Kranspoortpas is tans gesluit ná ’n gruongeluk tussen ʼn vragmotor en ʼn BMW. (Foto: Verskaf)

Die N11 by die Kranspoortpas naby Middelburg in Mpumalanga is tans gesluit ná ’n gruongeluk Donderdagoggend tussen ʼn vragmotor en ʼn BMW.

Moetie Mmusi, woordvoerder by die provinsiale departement vir gemeenskapsveiligheid, het bevestig dat die bestuurder van die BMW in die ongeluk dood is, en dat ʼn ondersoek na die voorval reeds van stapel gestuur is. Mmusi kon nie bevestig hoeveel mense beseer is of wat moontlik tot die ongeluk gelei het nie.

Dit is boonop die derde vragmotorongeluk die afgelope week op dié pas. Volgens Mmusi is ʼn vragmotorbestuurder vroeër die week ook tydens ʼn ongeluk op presies dieselfde plek dood.

Johan Cross, voorsitter van die huiseienaarsvereniging van Kranspoort-vakansiedorp, sê hy is ongeveer 07:30 van die ongeluk in kennis gestel en gevra om die nooddienste te ontbied.

Volgens Cross het ʼn Zambiese vragmotor wat swaelsuur vervoer, vermoedelik afwaarts met die pas beheer verloor en teen ʼn BMW vasgeploeg. Dié voertuig is gevolglik teen die versperrings langs die pad vasgedruk.

Swaelsuur is oor ʼn gedeelte van die pad gestort, terwyl groot hoeveelhede suur ook in die waterhulpbronne om dié pas beland het.

Inwoners én boere in die omgewing maak van dié water gebruik.

Cross sê die onderneming Spill Tech is tans op die toneel om die pad skoon en vir verkeer oop te maak. Hulle sal ook probeer om die suur uit die waterhulpbronne te verwyder.

Maroela Media het by verskeie inwoners verneem dat vragmotorongelukke en vragmotors wat die spoedgrens oorskry, ʼn geweldige probleem op dié pad is. Die N11 is glo gereeld weens ongelukke hiér gesluit.

“Die vragmotors ry geweldig vinnig hier. Daar is die afgelope week al vier mense in ongelukke dood,” het Cross gesê.

Kranspoort-vakansiedorp is in die vallei onderaan die pas geleë, en die pas is inwoners van dié gebied se enigste roete na Middelburg, wat hulle as hoofdorp gebruik. Volgens Cross maak talle vragmotors gebruik van die pas om na Afrika en terug te reis.

Die N11 by die Kranspoortpas is tans gesluit ná ’n gruongeluk tussen ʼn vragmotor en ʼn BMW. (Foto: Verskaf)

Hy sê diesel, suur en ander gemors beland gedurig tydens ongelukke op dié pad en dan in Kranspoort se kosbare waterhulpbronne.

Mmusi het Donderdag aan Maroela Media gesê dat die departement sy monitering op dié pad sal verbeter – onder meer deur verhoogde sigbaarheid van verkeerspolisie.

Hy het ook ʼn beroep gedoen op vragmotorbestuurders om versigtig te wees wanneer hulle op dié pad ry en om te alle tye by die spoedgrens te hou.

“Ons versoek vragmotorbestuurders ook om stil te hou wanneer hulle moeg is, hoewel moegheid nie ʼn aanvaarbare verskoning vir ongelukke is nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

KatjieDeKat ·

Sal “speed bumps” op die pas dalk help? Om die trokdrywers te dwing om stadiger te ry? Of kan sake vererger? Weet regtig niks van trokke en trok bestuur nie, so ek vra maar. Dit werk hier waar ons woon, maar dis n gelyk stuk pad.

Marcello ·

Sal dit nie help om spoedgrens kameras te installeer nie, dit help darêm so bietjie in die Kaaimanspas tussen Wildernis en George.

Waarnemer ·

Spoedwalle elke 500 meter van bo tot onder sal hierdie pad vd dood oplos.Ja dit sal n ongerief wees maar eerder n ongerief as dooie mense elke week.

marius ·

Waar is julle wetstoepassers ? Sit onder ‘n boom en smul aan kitskos . Dis waar hulle is .

Nie Verbaas ·

Mmusi, dink jy dat die mense gaan ag slaan op jou versoek om versigtig te ry? Jy grap seker en weereens maar die normale reaktiewe blah blah blah. Sou dit gebeur het as jy pro-aktief en streng opgetree het? Ek twyfel.

Nico ·

In Duitsland moet die swaar voertuig bestuurders op ‘n gereelde basis aftrek om te rus, daarvoor is daar geriewe en kafee’s langs die hoofpaaie. Hier is SA is dit absoluut onveilig vir enige bestuurder om af te trek selfs net om ‘n papwiel te vervang, SA is die misdaad hoofstad, hier gaan dit oor haat, swaarvoertuig bestuurders is nie behoorlik op gelei vir die werk wat nog van vervalste besruurs lisensies. Die bestuurders weet nie wat berg pas is nie, waar is die verkeers beamptes daar is gans te min van hulle op die paaie die wat wel daar is, is net om omkoopgeld te ontvang. Daar is te min waarskuwings borde by sulke plekke, die verkeers owerhede moet begin wakker word so ook die minister van vervoer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.