Gedenkdiens vir baba Aiden gehou

Aiden Roberts. Foto: Verskaf

Aiden Roberts. Foto: Verskaf

ʼn Gedenkdiens vir Aiden Roberts, die 18 maande oue seuntjie wat dood is nadat hy in ʼn swembad beland het, word Vrydag gehou.

Aiden se gedenkdiens vind om 11:00 vanuit die NG Suid-gemeente in Middelburg plaas. Sy ma, Clarise, het vroeër aan Maroela Media gesê hulle gaan Aiden veras omdat hulle sy as vir ewig by hulle wil hou.

Aiden het op 5 Mei in die swembad by sy ouerhuis in Middelburg, Mpumalanga, beland toe sy oupa per ongeluk die hek na die agtertuin oopgelos het omdat hy onder die indruk was dat Aiden saam met sy ouers winkel toe is. Clarise het kort daarna by die huis aangekom en haar kind in die swembad sien dryf met sy gesig na onder.

Aiden is sedert die voorval in die waakeenheid van die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg behandel, maar het later  ʼn septiese infeksie ontwikkel en is op 21 Mei oorlede.

Sy verhaal het mense aangegryp en beterskapwense, ondersteuning en donasies aan die gesin het van oraloor ingestroom. Ondersteuningsgroepe vir Aiden is op sosiale media- platforms gestig en ʼn trustfonds is op die been gebring om sy mediese onkoste te dek. Die radiostasie JacarandaFM se bekende Good Morning Angels-program het R50 000 aan die trustfonds geskenk.

Ná sy dood het Clarise haar seuntjie beskryf as ʼn vriendelike woelwater wat altyd ʼn glimlag op sy gesig gehad het. “Hy was net so gelukkig en die heel mooiste kind,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Christine ·

My innige meegevoel aan die hele Familie! My hart bloei vir hulle!
Sterkte en God is met julle.

Louis ·

God het `n “klein blommetjie” vir `n potjie op sy vensterbank nodig gehad !!
Sterkte aan die familie …… Onthou net, God maak nooit `n fout nie !!

Venessa ·

Baie baie sterkte. Woorde kan nie mens se meegevoel weerspreek nie.
Mag julle eendag vrede vind…

Jakoba ·

my innige meegevoel. Net iets wat pla ander koerante berig dat die pa gedink het dat hy saam met sy ma is en sy ma dat hy by sy pa is. Julle gee die oupa die skuld, wat is nou eintlik die waarheid. Kan koerante se weergawes so verskil.

Chris ·

Ai…..niemand gee niemand die skuld nie, is maar die noodlot Jakoba……..hoekom pla dit jou?

Alison ·

Klein kndertjies wat in swembaddens verdrink het niks met noodlot te doen nie – mens noem dit nalatig! My dierbare 3 jaar oue seuntjie het verdrink terwyl hy by sy pa gekuier het en hoe enige ouer met ‘n onveilige swembad hulle kosbare kinders alleen in ‘n lewensgevaarlike situasie los, gaan my verstand te bowe. As jy nou ‘n swembad MOET hê dan MOET jy ook bereid wees om 24/7 verseker te weet PRESIES waar jou kind is. Drie volwassenes en duidelik het nie een regtig geweet waar Aiden was nie en dit het hulle duidelik ook nie gepla totdat dit te laat was nie.

Carla ·

Jakoba die berig is reg. Die male was nie by die huis nie. Alison, jy het ongelukkig ook ‘n kindjie verloor en nou is nie die tyd om klippe te gooi nie. Jy was ongelukkig nie by toe dit met jou kind gebeur het nie en so was my sussie ook nie by nie. Hul was gou winkel toe en oupa het gedink Aiden is saam. As jy my sussie geken het sou jy weet dat sy haar kind baie mooi opgepas het en ook nooit alleen buite gelos het nie. Jou woorde:”Drie volwassenes en duidelik het nie een geweet waar hy is of hul nie gepla nie”. Dit is total onvanpas. Almal was BAIE lief vir daai kindjie en het hom mooi opgepas. Hy het ongelukkig uitgeslip waar oupa hom nie gesien het nie. Dis ‘n baie hartseer tyd vir ons familie en nou is definitief nie die tyd vir negatiewe kommentaar nie!!!! Jammer oor jou seuntjie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.