Gedenkdiens vir gestorwe majoor

Angelique, Klarebel (2), en wyle Coert Jordaan. Foto: Verskaf

Angelique, Klarebel (2), en wyle Coert Jordaan. Foto: Verskaf

“Ek wil net hê jy moet weet ek het jou oneindig lief en sal mooi na ons dogtertjie kyk, soos jy sou wou gehad het.” Dit is die boodskap van ʼn gebroke Angelique Jordaan (30) aan haar man, wyle maj. Coert Jordaan wat Woensdag by Ashton Lake in Springs vermoor is terwyl hy visgevang het.

Jordaan, ʼn inwoner van Brakpan en hoof van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) se berede eenheid, was met ʼn dag verlof om oudergewoonte langs die viswaters te gaan ontspan toe hy deur ʼn groep mans aangeval en met ʼn skerp voorwerp doodgesteek is vir sy bakkie, selfoon, beursie en vuurwapen.

Angelique het Dinsdag, op die vooraand van ʼn haar man se gedenkdiens, aan Maroela Media gesê haar man was mal oor visvang. “Hy het gereeld Ashton Lake gaan besoek en my altyd op die hoogte gehou van wanneer hy verwag om by die huis te wees. Daai dag het ek heeltyd onrustig gevoel. Ek was by die huis en het na ons dogtertjie, Klarebel (2), omgesien. Ek het die middag gebel en geweet iets was fout toe sy selfoon afgeskakel was. Later het sy kollegas aan die deur geklop en die skoknuus oorgedra,” het sy gesê.

Jordaan het 20 jaar gelede as verkeersbeampte by die Benoni-verkeersafdeling begin werk, voordat hy in 2006 een van die stigters van die EMPD se berede eenheid was. Volgens Angelique het hy ʼn passie vir sy werk, perde en kollegas gehad. “Sy kollegas het opgesien na hom. Hy was ʼn staatmaker en sterk leier. Sy kollegas is wonderlike mense, hulle is bitter goed vir my en staan my by in hierdie moeilike tyd.”

Angelique was Maandag in die Springs-landdroshof waar die twee verdagtes wat Donderdagaand in Daveyton in hegtenis geneem is, verskyn het op aanklag van moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Sy het gesê dit wil voorkom of die verdagtes deel is van ʼn sindikaat wat bakkies roof. “Coert was net op die verkeerde plek op die verkeerde tyd,” het sy bygevoeg.

Die saak is tot volgende Dinsdag uitgestel wanneer die mans na verwagting sal aansoek doen om borgtog. ʼn Derde verdagte moet binnekort in die hof verskyn nadat hy Vrydag, ook in Daveyton, in hegtenis geneem is weens Jordaan se moord.

Angelique het gesê sy en Jordaan was agt jaar gelukkig getroud. “Hy was ʼn saggeaarde, opregte, eerlike, wonderlike man wat my altyd op die hande gedra het. Klarebel was sy lewe. Ons kon altyd op hom staatgemaak het. Buiten visvang, was hy lief vir musiek en ʼn groot aanhanger van Afrikaanse musiek, Leonard Cohen en Meat Loaf. Hy het ook geteken vir ʼn stokperdjie.”

Jordaan laat sy vrou, dogter, ma, Rina Cilliers, en suster, Talitha, agter.

ʼn Groot gedenkdiens word Woensdag om 14:00* by die burgersentrum in Brakpan vir hom gehou. Sy begrafnis is Vrydag om 10:00 by die AGS Wes-gemeente in Brakpan. Mense word versoek om geel rose saam te bring ter nagedagtenis.

Lees alle vorige berigte oor Coert Jordaan op Maroela Media.

* Neem kennis die diens is om 14:00 en nie 10:00 soos aanvangklik berig nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Deloris ·

Sterkte vir jou jong mamma en klein dogtertjie, mag Jesus julle altyd optel en dra. Kyk na bo vir krag. Sterkte

Gesiggie ·

Verkeerde plek, op die verkeerde tyd ? hoe sal mens ooit weet waar is die regte plek, en wanneer is die verkeerde tyd, in vandag se lewe is mens by geen plek meer veilig”’ Ek voel bitter jammer vir jou Angelique, en om die foto van jul saam te sien, met jul dogtertjie wat haar Pappa so vashou, maak n mens so woedend maar ook magteloos… My hart gaan uit na jou en klein Klarabel”’ ( wat n mooi naampie) Mag God jul dra deur al die hartseer tye… en mag jul weet al is hy nie in Liggaam meer by jul”’ is hy wel in Gees… Sterkte en mag die wat so wreed was boet vir hul dade nou en vir altyd…

Pieter ·

Selfde het my neef laat in 2015 oorgekom, nie seker watter dam, maar ook in die Brakpan omgewing. Hy is geskiet en vir dood gelos, sy bakkie en beursie gesteel. Vandag sit hy in n rolstoel, het met verlies van inkomste sy huis verloor. moontlik dieselfde bende. Sterkte aan sy gesin.

Oom Boer ·

Dit was so onnodig om so ‘n wonderlike mens van sy familie te ontneem. Beter as wat “Gesiggie” dit hierbo gestel het sal ek nie kan en sluit aan by die pragtige boodskap. Angelique en Klarabel, ons onnige meegevoel gaan uit aan jul in hierdie tyd van rou en Mag GOD jul harte met tyd heel en jul berusting vind want Coert het sy lewe gegee as ‘n “HELD”. Ons gebede is met jul as familie. Sterkte

Tweetie ·

Dit is so jammer dat jy nie die vryheid het om in die natuur te ontspan, of veilig te kan voel in jou eie omgewing nie. Die ‘groot gevaar’ waarteen ons destyds gewaarsku is, is n werklikheid, en diegene wat alles onder n mat probeer invee onder die vaandel van ‘misdaad’, het oogklappe aan, of ignoreer die waarheid. Daagliks word mense op die wreedste denkbare maniere gemartel en vermoor…dink maar aan die seuntjie wat in n bad kookwater verdrink is nadat sy ouers vermoor is en sy ma herhaaldelik verkrag is. Daardie verskriklike vrees waardeur slagoffers ( alle rasse) van geweld gaan, veral die wat gemartel en vermoor word, moet onbeskryflik wees. Maar dan is daar steeds diegene wat na die verlede verwys as die euwelste tyd in SA se geskiedenis. Waar is die vryheid en voorspoed waaroor almal so opgewonde was?

Hennelie Rust ·

Nouja, hierdie tyd is julle in die kerk,ag,ek is so hartseer en opstandig,so omgekrap. As dit goed gaan met julle,weet dit is die Heer wat ons almal se gebede vir julle verhoor.Hy sal julle pragtige mense spesiaal vertroetel met sy liefde en hulp,omdat julle onskuldig is.Lewenslank sal julle hom nie weer sien nie dus moet die moordenaars, ook lewenslank geen lig sien nie. Wees dapper God slaap nie !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.