Gedenkdiens vir metropolisielede wat ‘dronkbestuurder’ agternasit

Drie lede van die Tshwane-metropolisie het op die toneel gesterf. (Foto: TMPD)

Die Tshwane-metropolisie (TMPD) hou vandeesweek ʼn gedenkdiens vir drie van sy lede wat oor die naweek dood is toe ʼn vermeende dronkbestuurder reg van voor teen hulle vasgery het.

Die voorval het Sondag in die vroeë oggendure in die Pretoriase middestad plaasgevind.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het Dinsdag gesê die gedenkdiens sal Woensdag by die TMPD se hoofkantoor in WF Nkomostraat aan die weste van die Pretoriase middestad gehou word.

Slegs 50 persone sal ingevolge afsonderingsregulasies egter in die lokaal toegelaat word. Die dra van maskers en die handhaaf van sosiale afstand is verpligtend in die lokaal, het Mahamba gesê.

Die identiteit van die drie metropolisiebeamptes word in dié stadium steeds van die publiek weerhou.

(Foto: TMPD)

Maroela Media het vroeër berig ander beamptes het die oggend van die voorval gesien hoe ʼn motoris omstreeks 02:00 roekeloos teen die aankomende verkeer in die Pretoriase middestad inry.

Die beamptes het die motoris, wat in ʼn westelike rigting gery het, probeer voorkeer, maar die voertuig het weggejaag en die beamptes het dit agternagesit.

Die beamptes het bystand van hul kollegas ontbied en nóg ʼn voertuig van die metropolisie in dieselfde omgewing het by die jaagtog aangesluit.

Dié voertuig het op die N4 tussen Transoranjeweg en Rebeccastraat in die weste van Pretoria reg van voor teen die voertuig wat weggejaag het, vasgery.

Al drie beamptes en die motoris wat aanvanklik weggejaag het, het op die toneel gesterf. ʼn Vrou wat saam met die motoris in die motor was, is na ʼn hospitaal vir behandeling geneem.

Verskeie drankbottels, sommige leeg en sommige daarvan vol, is in die motoris se voertuig gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Heinrich ·

Dit is sulke mense wat veroorsaak dat alkohol weer verban gaan word. Mense wat ongelukke veroorsaak agv dronkbestuur moet van voorbedagte moord of poging tot moord aangekla word. Ons ouens wat een biertjie of glasie wyn geniet kan nie gestraf word oor mense soos hierdie wat hulle doelbewus vergryp nie.

Thelsa ·

Wat is sooo geheimsinnig aan die name. Die naasbestaandes is tog seker lankal in kennis gestel ?

Oe la la ·

Ai…
Maar om alkohol te verban gaan nie die probleem aanspreek nie. Iets moet liewer gedoen word aan alkohol misbruik.. daar is talle mense wat tog verantwoordelik drink..

Daleen ·

Sou “advance driving course” miskien sulke voorvalle voorkom of is dit net verkeerde plek verkeerde tyd verkeerde besluit. Ek wonder net of ons polisie/metropolisie opgewasse en voldoende opgelei is om sulke hoe spoed jaagtogte te hanteer. Want dis of baie sulke gevalle in ongelukke eindig.

Wielspore ·

Dit is die prys wat SA betaal vir drankmisbruik as gevolg van swak morele en sosiale standaarde.

Androclus ·

Nul per mond is die nuwe wet.
Ek weet nie of dit dalk sal help nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.