Gedenkdiens vir metropolisieman wat aan diens sterf

Argieffoto

ʼn Gedenkdiens word Donderdag in Johannesburg gehou vir die 47-jarige beampte van die Johannesburgse metropolisie (JMPD) wat Dinsdag in die vroeë oggendure geskiet is toe hy die slagoffer van ʼn kaping probeer help het.

Herman Mashaba, Johannesburg se burgemeester, en afgevaardigdes, sowel as David Tembe, hoof van die JMPD, sal die gedenkdiens van die beampte, D.A. Ratshikhopha, bywoon.

Maroela Media het vroeër berig Ratshikhopha is Dinsdag omstreeks 04:45 in Old Trueweg in Booysens geskiet.

“Die beampte was alleen in daardie stadium en het tussenbeide probeer tree toe ʼn minibustaxi gekaap is. Die verdagtes het sowat vyf keer op die beampte geskiet en een koeël het hom teen die kant van sy kop getref,” het hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die JMPD, toe gesê.

Die beampte is na die Milpark-hospitaal gehaas vir mediese behandeling waar hy Woensdag om 03:00 aan sy beserings beswyk het.

ʼn Kranslegging word Donderdag om 11:00 by die toneel gehou waar Ratshikhopha geskiet is, waarna ʼn formele gedenkdiens om 14:00 by die JMPD-akademie in Stafford gehou gaan word.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Tembe het die skietery streng veroordeel en gesê alle pogings word aangewend om die verdagtes aan te keer.

Intussen het Mashaba ʼn beloning van R100 000 uitgeloof vir enige inligting wat tot die suksesvolle inhegtenisneming en vervolging van die verdagtes wat in die skietery betrokke was, kan lei.

Enigiemand wat die metropolisie met die ondersoek kan bystaan, kan Tembe by 074 534 9883 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

lizl ·

Elke boer wat vermoor word , sterf ook aan diens. Hulle werk elke dag, elke week , elke maand. Hulle is permanent aan diens. Aan diens vir ons land om voedselsekerheid te lewer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.