Gedenkdiens vir Netcare-slagoffers

(Foto: Netcare 911)

ʼn Gedenkdiens sal Woensdag vir die vyf mense wat verlede week in ʼn helikopterongeluk in die Bergville-omgewing in KwaZulu-Natal gesterf het, gehou word.

Maroela Media het vroeër berig dat al die insittendes van die helikopter, onder wie dr. Kgopotso Rudolph Mononyane, ʼn narkotiseur, dr. Curnick Siyabonga (Sia) Mahlangu, ʼn kardiotorakale chirurg, Mpho Xaba, ʼn spesialisteaterverpleegster, Sinjin Joshua Farrance, ʼn gevorderde lewensondersteuningsparamedikus, en die vlieënier, Mark Stoxwreiter, tydens die ongeluk gesterf het.

Craig Grindell, besturende direkteur van Netcare 911, sê die seremonie sal by die ongelukstoneel gehou word. ʼn Konvooi sal Woensdag van Johannesburg vertrek en die gesinne van die oorledenes, asook kollegas van Netcare, Netcare 911, Netcare Milpark-hospitaal en National Airways Corporation (NAC) na die diens vervoer.

“Dit is ʼn ongelooflike betekenisvolle besoek, daarom vra ons namens die families dat hul privaatheid gerespekteer sal word.”

“Sedert die tragiese gebeurtenis het ons voortgegaan om ons volle ondersteuning en hulp aan die naasbestaandes van die oorledenes te verleen. As Netcare dra ons die geliefdes van ons oorlede kollegas in ons harte en sal ons sorg dat hul wense nie net gerespekteer word nie, maar ook sorgvuldig uitgevoer word gedurende hierdie uiters moeilike tyd,” sê Grindell.

Onafhanklike ondersoek na die ongeluk

Volgens dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, sal tegniese spanne van Bell, die helikoptervervaardiger en Rolls Royce, die vervaardiger van die helikopter se enjin, binnekort in Suid-Afrika aankom om te help met die ondersoek na die ongeluk.

“Albei organisasies gee tans hul volle samewerking aan die Suid-Afrikaanse Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO), wat reeds met die ondersoek begin het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aai ·

RIV. Hulle kan kom help maar Covid gaan hulle ondersoek in die wiele ry want daar is ‘n verbod van Saterdag se vlugte tussen SA en VSA.

Blikke ·

Spesiale permitte… “essential Services”…..dink nie dit sal n probleem wees nie.

Juffrou ·

Wat ń reuse verlies vir die mediese bedryf. Sulke hoogs gekwalifiseerde mense. Jare se studies én ondervinding. Baie tragies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.