Gedenkdiens vir polisielede: Hul ‘opoffering was nie verniet’

(Foto: David Mabuza/Twitter)

Die polisie het Sondag hulde gebring aan sy lede wat deur die loop van die jaar aan diens gesterf het. Altesaam 40 polisielede – onder wie een reservis – het die afgelope jaar in die uitvoering van hul pligte gesterf.

Weens die Covid-19-afsonderingsregulasies wat steeds geld en groot byeenkomste verbied, is daar vanjaar vanuit elke provinsie aanlyn na die diens by die Uniegebou ingeskakel.

ʼn Oomblik van stilte is ook tydens die diens vir die beamptes gehandhaaf.

Bheki Cele, minister van polisie, het gesê hoewel minder mense vanjaar byeen mag kom, maak dit nie die gesamentlike verlies en lyding wat deur die polisielede se dood veroorsaak is minder nie.

“Die beamptes se laaste dag op aarde het nes enige ander begin. Hulle het opgestaan, reggemaak vir werk en hul gesinne gegroet. Hul werk, en die van ander polisielede, is egter soos geen ander nie. Van die oomblik wat hulle daardie uniform aantrek, beantwoord hulle ʼn roeping om te dien en te beskerm – selfs al beteken dit hulle moet hul lewe op die spel plaas.

polisie vermoor dood gedenk herdenk

(Foto: David Mabuza/Twitter)

“Ongelukkig het dié 40 polisiebeamptes nie weer veilig teruggekeer huis toe nie. En daarvoor verdien hulle ons respek en eerbetoon,” het Cele gesê.

Die minister het gesê vanjaar se diens vind plaas te midde van die Covid-19-pandemie wat Suid-Afrika op allerlei maniere geraak het.

“Covid-19 het ons van bekwame lede beroof, van wie talle weens die virus in die voorste linies gesterf het. Die virus het ons beroof van ons gebruik om die mans en vroue van die gereg op ʼn gepaste polisiemanier te groet.”

(Foto: SA Polisie/Twitter)

Cele het weereens benadruk dat ʼn aanval op ʼn polisielid ook gesien word as ʼn aanval op die gesag van die staat en as verraad beskou moet word.

Adj.pres. David Mabuza het vanjaar ook die gedenkdiens bygewoon en het gesê polisiebeamptes is daar om vrede, veiligheid en maatskaplike bestendigheid te help bewerkstellig en te verseker dat elke vrou en meisie veilig in ʼn straat kan stap sonder vrees dat sy verkrag en vermoor gaan word.

Hiervoor betaal sommige van hulle die hoogste prys.

“Dit bly ʼn groot bron van kommer dat polisiebeamptes vermoor word deur verdagtes wat hulle verset teen inhegtenisneming, wanneer hulle reageer op klagtes, inhegtenisnemings doen, betrokke is by stop-en-deursoekingsoperasies, of wanneer hulle sterf in padongelukke.”

In sommige gevalle word polisielede ook spesifiek vir hul vuurwapens geteiken en vermoor. “Soos ons weet gebruik misdadigers dié wapens daarna om ernstige en gewelddadige misdade te pleeg.

“Terwyl ons vandag hier byeenkom en ʼn gebed doen vir diegene wat gesterf het en terwyl ons saam met hul families verkeer, doen ons dit met die wete dat ons land patriotte het wat bereid is om hul lewens neer te lê om ons vryhede te verdedig.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, tydens die gedenkdiens. (Foto: SA Polisie)

“Hul opoffering was nie verniet nie. Hul name is nou gegraveer op die nasionale Muur van Herinnering en dui op die dankbaarheid van ʼn nasie vir hul dapperheid en lojaliteit om die mense van Suid-Afrika en almal wat in ons landsgrense woon, te dien en te beskerm.”

Mabuza het ook uitgebrei oor die polisie se veiligheidstrategie wat berus op goeie regering, proaktiewe ingryping, die veiligheid van polisiestasies, -geboue en -infrastruktuur, reaktiewe ingrypings, ondersteuning en laastens monitering en evaluasie.

Hy sê polisielede se vaardighede word deur opleiding verbeter, ook om aanvalle op polisielede tot die minimum te beperk.

“Aan die familie van die gesneuwelde polisielede: Wees verseker dat ons regering en sy mense bankvas agter julle staan en sal voortgaan om julle op elke moontlike manier te ondersteun.

“Mag die siele van die gevalle seuns en dogters van ons land altyd in ons gedagtes wees. Mag hulle siele in ewige vrede rus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie ·

Polisiemanne het nie verniet hul lewens opgeoffer nie… Regtig? Vertel my hoekom het hulle hul lewens opgeoffer? Meeste van die krimenole wat die moorde gepleeg het loop vry rond. Skuus, dis nie dat ek jammer voel vir elke polisie lid en hul gesinne nie, dis net, hoekom opoffer vir ‘n land soos die?

Keelvol ·

As een van jou geliefdes of familie sterf aan diens in die SAPD, sal jy nog steeds so ongevoelig wees? Ons praat hier van lede aan diens. Dit het niks met marsjeer te doene.

Tanniepetoors ·

Wynand, jou plek is leeg. Dankie vir jou onbaatsugtige opoffering en toewyding. Jy was n polisieman-duisend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.