Gedenkdiens vir Stefan; dood ondersoek

Stefan Marais. Foto: Facebook

ʼn Lykskouing sal Dinsdag gedoen word op Stefan Marais, die gr. 11-leerder aan die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal in die Wes-Kaap, wie se liggaam Saterdag in die Goukourivier by Stilbaai opgespoor is.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het bevestig die lykskouing sal vandag afgehandel word, maar die uitslae daarvan sal eers later beskikbaar wees. “In dié stadium word daar vermoed dat die seun verdrink het, maar die lykskouing sal amptelik die oorsaak van die dood bevestig. Ons wag dus vir die finale uitslag van die lykskouing,” het Pojie gesê.

Maroela Media het vroeër berig Marais was die naweek saam met ander leerders van die skool, onder wie lede van die skool se leerderraad en onderwysers, op ʼn skooluitstappie toe die tragedie hom afgespeel het. Van die leerders het glo in die rivier geswem waar Stefan in die water verdwyn het.

Toe mense besef het dat Stefan nêrens te vinde is nie, is daar dadelik na hom begin soek. Sy liggaam is Saterdag gevind en uit die water gebring.

Die Hoër Landbouskool Oakdale het intussen op Facebook hul medelye aan Stefan se ouers, Pine en Petrusa, en sy jonger broer, Pieter, betuig. “Leerders, ouers en personeel van die skool is geskok en hartseer oor die verlies van hierdie uiters skrander, talentvolle en waardegedrewe Oakdaler. Hy was ʼn Oakdaler in murg en been. Ons harte gaan uit na hierdie gesin, sy maats en al die ander Oakdale-betrokkenes,” lui die inskrywing.

Talle ander boodskappe van medelye is ook op sosiale media gedeel.

“Vir almal wat met hierdie aangename seun gewerk of ʼn band [met hom] gehad het, word daar ʼn leë plek gelos,” het Wikus Smit geskryf. “[Stefan] was ʼn seun met bitter goeie maniere [en] so vriendelik soos kan kom. Pine, ek dink aan jou en jou familie. Julle het ʼn goeie seun grootgemaak,” het Lelanie Basson geskryf.

Die bekende Suid-Afrikaanse rugbyspeler, CJ Stander, wat tans in Ierland rugby speel, het op sy amptelike Facebook-blad geskryf hy het Stefan geken vandat Stefan ses jaar oud was. “My gedagtes en gebede gaan uit aan sy familie in hierdie moeilike tyd,” het Stander geskryf.

Dinsdagoggend is inligting op sosiale media gedeel dat ʼn gedenkdiens vir Marais Vrydagoggend uit die NG Moedergemeente Riversdal gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Mel ·

Dis verskriklik hartseer, mag sy ouers en familie vertroos word in hierdie hartseer tyd, RIV Stefan

Genieve ·

Barnard Fielies het die mooiste gedig oor hom geskryf,op FB as julle dit nog nie gelees het nie…RIP stefan.

Johann ·

Hartseer hartseer… en ja n ongeluk gebeur sonder waarskuwing, maar HOE “mis mense” n kind op n skool uitstappie eers na almal klaar gaan swem het? Was daar geen beheer en kontrole oor wie wanneer waar met wat besig was nie? Dis SO onnodig…

Roos ·

Hi Johan, as jy nog nooit in so situasie was nie, moet jy nie vra was daar geen beheer nie, sulke dinge gebeur, dit is tragies maar as so iets met n onderwyser gebeur wat saam met kinders toer bly dit hullw hele lewe saam met hulle….. hulle offer hul tyd en gesins lewe op om daardie kinders op toere te kan vat, as so iets gebeur is die laaste ding wat hul graag sal wil hoor is verweite van die ouers en publiek af… geen onderwyser sal nalatig wees met kinders wat in hulle sorg is nie….. vra my my seun is dardeur en hy het sy hele lewe gegee vir sy skool kinders….

Blommie ·

So iets is uiters tragies. My man se maat het tydens L O periode (in 1950’s)verdrink. Ek kan net bid vir Stefan se ouers, broer en hulle familie.

Nessa ·

Dit bly n hartseer saak …..Kinders is meer werd as Goud pas hulle op ???

Ouer ·

Meer as 100 was op die uitstappie
Hoeveel onderwysers was daar?
Liewe kind ek hoop nie jy het gesterf weens nalatigheid nie
Sterkte aan familie en vriende.

Mike ·

Sal ‘ n wonderlike dag wees as skole minder kampe en toere en ” sessies” hou.

Maris ·

Die berig verskil van vorige… Vorige een het gese die kinders het reeds terug verkeer en toe hul na fotos kyk besef dat hy nie meer tussen hulle is nie en toe het almal blykbaar terug gehaas en kon hom nie vind nie??? Die is baie hartseer maar net soos met vorige berig maak dinge net nie sin nie…. Ek hoop regtig daar kom waarheid agter die seun se dood uit

Anita ·

Die kind kon goed swem. Hy het net teruggekeer vd Kalahari Vasbyt. Hy was die een op wie almal staatgemaak het… so deel v alles en gewoonlik al die foto’s geneem… niemand kon voorsien dat hy nie op n bus sou wees nie, want hy is altyd ‘daar’… as julle hom geken het en die skool en skoolopset… dan was dit net ‘n baie tragiese gebeurtenis. Glo my hy was elke onderwyser se eie seun ook., want hy het voor hul oë op die skool se gronde grootgeword… dag vir dag onder hul oë.

Ina Vrolijk ·

Só bitter seer!! Gee graag aan Stefan se Familie, Maats, Onderwysers – élke persoon wat hom gaan mis, Fil 4:13 – HOU VAS DAARAAN en léèf dit. Ons verstaan nie, JESUS SAL TROOS♡

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.