Gedenkdiens vir twee ingenieurs wat sterf ná ontploffing by raffinadery

Lede van Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste op die toneel by die Milnerton-raffinadery. (Foto: @Abramjee/Twitter)

ʼn Gedenkdiens sal vandeesweek by die Astron Energy Milnerton-raffinadery in Kaapstad plaasvind vir die twee werknemers wat verlede Donderdag in ʼn ontploffing by dié raffinadery gesterf het.

Suzanne Pullinger, ʼn woordvoerder van Astron Energy, sê die twee werknemers wat hul lewe in die ontploffing verloor het, was twee jong chemiese ingenieurs.

Die 32-jarige Mpilo Sibiya en die 27-jarige Likhona Vece het verlede Donderdag gesterf nadat iets omstreeks 04:00 die oggend by die raffinadery ʼn groot ontploffing veroorsaak het. Die ontploffing het glo tot gevolg gehad dat huise in die onmiddellike omgewing geskud is.

Sowat sewe mense is ook in die voorval beseer en na die hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling. Ses van die sewe beseerdes is reeds uit die hospitaal ontslaan. Die een wat nog in die hospitaal is, is tans in ʼn stabiele toestand.

Pullinger sê mediese ondersteuning en berading is aan almal wat deur die voorval geraak is, beskikbaar gestel.

Jonathan Molapo, uitvoerende hoof van Astron Energy, sê die maatskappy is in rou gedompel oor die tragiese verlies van dié twee werknemers.

“Ons is hartseer oor die twee jong, talentvolle chemiese ingenieurs wat ons verloor het. Ons innige simpatie met die familie en vriende van die oorledenes,” sê Molapo.

Pullinger sê Astron Energy het in samewerking met al die betrokke owerhede ʼn volledige ondersoek van stapel gestuur om die oorsaak van die ontploffing vas te stel. Dit is ook om te verhoed dat soortgelyke voorvalle in die toekoms weer plaasvind.

Maroela Media het vroeër berig Astron Energy het bevestig die ontploffing sal nie die verskaffing van brandstofvoorraad beïnvloed nie. Dié maatskappy het ook omliggende gemeenskappe verseker die ontploffing hou geen gesondheidsgevare vir hulle in nie. Die betrokke gebied wat deur die ontploffing geraak is, word ook steeds afgesper.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.