Gedenkteken vir slagoffers van Netcare-ongeluk onthul

Die gedenkteken vir die slagoffers van die Netcare-helikopterongeluk wat in Januarie 2021 plaasgevind het. (Foto: Verskaf)

’n Gedenkteken vir die vyf mense wat verlede jaar gesterf het toe ’n Netcare-helikopter op ʼn plaas in KwaZulu-Natal neergestort het, is Woensdag tydens ʼn private seremonie onthul.

Mark Stoxreiter, Sinjin Joshua Farrance, Mpho Xaba, dr. Siyabonga Curnick Mahlangu en dr. Kgopotso Rudolph Mononyane is almal in die noodlottige ongeluk dood.

Die gedenkteken is op dieselfde plek opgerig as waar die voorval op 21 Januarie plaasgevind het. Die betrokke plaas is langs die N3-snelweg by die Colenso- en Winterton-afrit geleë.

Maroela Media het vroeër berig dat die helikopter onbeerbaar in die lug begin tol en in stukke opgebreek het voordat dit op die grond geval en in vlamme uitgebars het. Wrakstukke het oor ʼn radius van 500 m in die veld gesaai gelê.

Meer as 100 familielede en vriende van regoor die land het die seremonie bygewoon, kranse ter herinnering aan hul geliefdes neergelê en oor hulle gepraat.

Nomsa Maselana, Mahlangu se tannie, het tydens die seremonie gesê sy glo dat God dié kradiotorakale chirurg uitgekies het om deel van die geskiedenis van Suid-Afrika se gesondheidsorg te wees.

“Deur die oprig van hierdie gedenkterrein sal Siyabonga deur baie mense in Suid-Afrika onthou word. Hy sal selfs onthou word deur mense wat hom nooit geken het nie. As die Mahlangu- en Phakathi-families is ons dankbaar teenoor Netcare vir hierdie gedenkterrein wat ons in staat sal stel om ons respek aan Siya te betoon, en gesinsrituele uit te voer wanneer die familie dit nodig ag.”

Die gedenkteken vir die slagoffers van die Netcare-helikopterongeluk wat in Januarie 2021 plaasgevind het. (Foto: Verskaf)

Xaba, ’n spesialis-teaterverpleegkundige, se niggie, Nomathemba Dlamini, het gesê die gedenkterrein sal die gesin met hul reis na genesing en afsluiting help.

“Ons soek steeds na hom in die hoop om sy pragtige glimlag te sien en te hoor hoe sy lag ’n vertrek ophelder,” het Stacey Farrance, Farrance (ʼn noodsorgpraktisyn) se ma, gesê.

“Wat jy in jou leeftyd bereik het, was nog altyd fenomenaal, en jy het jou wedloop met ʼn doelgerigte en ’n unieke roeping gehardloop. Daarvoor eer ons jou.”

Stoxreiter, ʼn vliënier, se ma, Wendy Macaskill, het diegene wat die naaste aan haar seun was daarvoor bedank dat hulle “sy lewe gemaak het wat dit was”.

“Hy was gelukkig en het gesterf deur te doen waarvoor hy lief was.”

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, het gesê die maatskappy het twee hektaar grond beveilig om die terrein te bewaar.

Volgens Netcare is die gedenkteken op ʼn respekvolle en inklusiewe wyse en met die insae van die slagoffers se gesinne ontwerp.

“Ons erken die groot betekenis wat hierdie terrein vir die families inhou. Hierdie permanente gedenkteken sal hier wees vir die families en geliefdes om te besoek wanneer hulle wil.”

Die gedenkteken vir die slagoffers van die Netcare-helikopterongeluk wat in Januarie 2021 plaasgevind het. (Foto: Verskaf)

Friedland beskryf dit as ’n “heilige ruimte ter nagedagtenis aan ons gevalle helde”.

“Ons het hierdie gedenkteken opgerig om die uitsonderlike lewens van hierdie individue te onthou en te getuig van die buitengewone bydrae wat hulle elkeen op hul eie unieke manier gemaak het.

“Hierdie gedenkteken dien as ’n betekenisvolle en ewige simbool dat hierdie individue as helde geleef en gesterf het.”

Friedland het beklemtoon dat die tragedie tydens die hoogtepunt van die Covid-19-pandemie plaasgevind het, toe gesondheidsorgwerkers regoor die land in die voorste linies teen die virus geveg het.

“Hulle merkwaardige dapperheid en opofferings sal alty donthou word. In Netcare alleen het 75 voorste linie-helde hul lewens verloor. Dié helde is ook by die gedenkteken ingesluit om aan hulle hulde te bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Lillian

Ons het briljante mense in die mediese veld daardie dag verloor …