Gee aan elke kind ‘n stem in sy moedertaal, sê ATKV

Grafika: ATKV

Grafika: ATKV

In moeilike ekonomiese omstandighede is dit nodig om geld wys te belê, en die ATKV meen een van die beste beleggings is om moedertaalonderrig vir ons kinders moontlik te maak.

Evelyn Ferreira, senior bestuurder: taal by die ATKV, het gesê Unesco gebruik daarom vanjaar weer Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) om daarvoor te pleit dat elke kind ten minste in sy eerste leerjare in sy moedertaal mag leer. Die tema vanjaar is: kwaliteitopvoeding, onderrigtaal (of -tale) en leeruitkomste.

“Dis ‘n mondvol, maar hierdie drie aspekte is so nou verweef dat die een nie sonder die ander sinvol moontlik is nie,” sê Amanda de Stadler, bestuurder: Vriende van Afrikaans (VVA). “Moedertaalondersteunde tweetalige of meertalige onderrig is ideaal vir ons meertalige land, want dit is regverdig teenoor kinders wat aan bepaalde taalgemeenskappe behoort en dit verhoog terselfdertyd toegang tot onderwys.”

Ferreira het bygevoeg dit is algemeen bekend dat moedertaalonderrig of variasies daarvan die kwaliteit van onderrig en leer verhoog, want dit lê klem op begrip en kreatiwiteit. “Dit versterk die kognitiewe aspek van leer omdat dit direk van toepassing op die kind se leefwêreld is,” het sy gesê. “Voorts verbeter dit die dialoog en interaksie tussen die leerder en onderwyser omdat die geleentheid tot goeie gehalte kommunikasie uit die staanspoor moontlik maak.”

Sy het bygevoeg goeie leesvaardighede en moedertaalonderrig is onlosmaaklik verbonde. Daarom is die ATKV aktief betrokke by verskeie leesprojekte. Een hiervan is die VVA se boektrommelprojek waarin daar aan soveel moontlik kleuters toegang tot geskikte kleuterboeke gegee word. LAPA Uitgewers, ʼn filiaal van die ATKV, druk boeke wat Afrikaanse huistaal en addisionele taal kinders aanmoedig om te lees en met die ATKV se Leesgids gee ons raad aan onderwysers om van elke kind in hulle sorg, lewenslange lesers te maak.

Ferreira het gesê ATKV-leeswerkswinkels wat deur kundiges regoor die land aangebied word, rus laerskoolonderwysers toe om kinders entoesiastiese lesers te maak en die basis van effektiewe leer, naamlik leesgeletterdheid, te versterk.

“Kinders moet hulle weg in ʼn globaliserende en kultureel diverse wêreld vind. Kwaliteitopvoeding is daarom ononderhandelbaar,” het sy gesê. “Rus jou kinders toe vir die toekoms en maak die verantwoordelike keuse van moedertaalonderrig of moedertaalondersteunde meertalige onderrig.

“Indien alle taalsprekers in Suid-Afrika aktief deelneem aan die debat oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika en hulle vergewis van reeds bestaande regte in dié verband, is sukses moontlik. Daar is egter nog ’n lang pad om te loop om moedertaalonderrig tot sy reg te laat kom. Ons glo dat ons by die ATKV op ’n beskeie manier ons bydrae hiertoe lewer,” het sy afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael ·

Ek stem saam elke persoon moet die reg hê om in sy moedertaal onderrig te word as dit nie haalbaar is nie maak dit haalbaar,as ‘n land soos RSA ‘n President kan hê met net graag 2 is enigiets mos haalbaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.