“Gee grond vir bekwame persone,” sê boere

Argieffoto Foto: led.co.za

Argieffoto Foto: led.co.za

Die regering moet seker maak dat grond aan individue gegee word wat die vermoë het om dit te gebruik, het die African Farmers’ Association of SA (Afasa) Dinsdag gesê.

“Ons stel dit aan Gugile Nkwinti, die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, dat ons ʼn kriteria moet hê wanneer boere gekies word,” het Mzamo Mlengana, president van Afasa, tydens die vereniging se beraad in Pretoria gesê. Afasa is ʼn organisasie wat swart boere verteenwoordig. “Wanneer mens ʼn boer kies wat nie ʼn boer is nie, is dit negatief vir dit wat ons doen. Dit stel ons en die regering bloot aan kritici. Die persepsie sal weereens wees, ‘kyk na die swart boere wat grond ontvang het; dit werk nie’.”

Hy het gesê ʼn weldeurdagte grondhervormingsproses sal nie nasionale voedselsekuriteit bedreig nie en kan die land tot voordeel strek. “Ons moet genoeg kos in die land vervaardig. Ons moet poste in die landboubedryf skep. Sodoende kan ons armoede verlig,” het Mlengana bygevoeg.

Hy meen dit kan slegs gebeur wanneer boere opgelei word en die suksesverhale in die bedryf bespreek word.

Mlengana het gesê die Afasa-beraad het die regering se voorstel, dat plaaswerkers 50% van die grond moet kry waar hulle werk, verwerp.

Japie Grobler, voorsitter van die Agrisektor-eenheidsforum, het as gasspreker tydens Afasa se derde jaarkongres gesê die regering moet seker maak dat nasionale prioriteite voedselsekuriteit en ekonomiese stabiliteit insluit en dat dit nie in gedrang gebring word tydens grondhervorming nie.

“Grond sal herverdeel word in die land. Ons almal aanvaar dit,” het Grobler gesê. “Dit is net ʼn kwessie van hóé. Dit moet só gedoen word dat dit bekostigbaar is. Dit moet só gedoen word dat meeste mense in die land dit aanvaar. Ons moet kos uitvoer om buitelandse valuta te verdien. Ons moet vrede in die land hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

scalla ·

Grond wat gegee word deur die staat, let wel nie gekoop/huur nie. Wil alles verniet he en hul kan nie eers die bestaande strukture in stand hou nie. Die bewys is mos reeds daar dat dit n flop is, nie grondhonger nie maar wel geldhonger.

Annemie ·

“Dat plase gevat gaan word is ‘n realiteit… vrede moet behou word”. Daar is ‘n sekere identiteit verbonde aan boere en hul plase. Dat hulle ryk is is een van die persepsies wat rond dwaal. Dit is ongelukkig/gelukkig nie die waarheid nie, maar dis my opinie dat dit die groot rede is hoekom daar ‘n geveg is dat plase “geherkonstruktueer” word. Ja, miskien het iemand se voorouers eers daai grond besit, maar hoekom het die’ dit dan nie ontwikkel en geboer nie? Dis darm maar baie gerieflik om ‘n klaar opgeboude en suksevolle plaas te vat.
“Vat my plaas, maar bulldoze al my kennis, al my heinings, al my huise, my store, my gereedskap, my implimente en asb., ook die huise wat ek vir my werkers gebou het en begin dan van voor met my plaas. Dan respekteer ek jou as jy ‘n sukses maak. Dan noem ek jou ook boer.” Hierdie stelling is my uitgangs punt.

Maar ek bly in die dorp, my erf is nie eers die helfte van ‘n rugby versveld grootte nie, en tog pla niemand my oor grondeise nie – wonder hoekom!

Dis naief om te dink dat daar vrede bewaar sal word as plase gevat word – hierdie plase is nie net besighede vir hierdie boere waar hulle soveel moontlik geld kan genereer nie. Dis hul huise wat deur jare se generasies se bloed loop. Jare se bloed wat elke droogte, storm winde, vloede en peste deur gemaak het. Wat in ‘n mate selfs die natuur oorwin het. Maar om iets onnatuurlik te oorwin – ons regering – is seker nie ‘n stryd wat sommer oorwin gaan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.