‘Gee Gumede die trekpas’

Argieffoto van Zandile Gumede (Foto: Nqobile Mbonambi/ ANA)

Volgens die drukgroep Organisation Undoing Tax Abuse (Outa) behoort die voormalige burgemeester van die eThekwini-metro, Zandile Gumede, nie net terug te staan van die ANC nie, maar die trekpas gegee word.

“Die ANC in KwaZulu-Natal moet die moed hê om Gumede af te dank en haar nie bloot te vra om terug te staan ​​nie. Gumede het tot dusver heftig weerstand gebied teen alle pogings om haar tot verantwoording te roep of uit magsposisies te verwyder. Ons verwag nie dat sy nou die regte ding sal doen nie,” het die organisasie in ’n verklaring gesê.

Gumede is Vrydag gevra om terug te staan van die regerende party nadat sy sowat twee weke gelede as lid van die provinsiale wetgewer in KwaZulu-Natal ingesweer is.

Gumede sal nou saam met Mike Mabuyakhulu, provinsiale onderleier van die ANC wat ook gevra is om terug te staan, voor die regerende party se provinsiale integriteitskommissie verskyn. Die kommissie se besluit sal dan na die ANC se provinsiale uitvoerende komitee verwys word, waar ’n besluit oor hul toekoms geneem sal word.

Gumede ontvang tot dan steeds haar volle salaris.

Die DA en die Inkatha Vryheidsparty (IVP) het intussen hul misnoeë hiermee uitgespreek. Die IVP is die amptelike opposisie in die KwaZulu-Natalse wetgewer, terwyl die DA die amptelike opposisie in die eThekwini-metro is.

Velenkosini Hlabisa, leier van die IVP, het die ANC se besluit as skandelik bestempel.

“As [die ANC] ernstig opgeneem wil word, moet hy dapper en beslissend optree en Gumede vra om die eerbare ding te doen en te bedank. As sy weier, wys haar die deur as LP,” het Hlabisa gesê.

Maroela Media het vroeër berig Gumede is verlede jaar aangekla van beweerde tenderbedrog, korrupsie en rampokkery wat verband hou met ʼn R389 miljoen-kontrak vir die verwydering van vaste afval in Durban.

Gumede is tans uit op borgtog van R50 000. Sy is in Augustus verlede jaar deur die ANC op spesiale verlof geplaas, maar het egter ʼn raadslid gebly.

Volgens John Steenhuisen, leier van die DA, word Gumede in haar posisie as raadslid gehou ten koste van die belastingbetaler. “Die lewe is ’n jolige vakansie vir die korrupte kaders van die ANC.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Persheks Adri ·

Dank haar summier af sonder betaling! Kry iemand wat bevoeg is en nie deel is van die regering of tjommie is nie! Die hele lot is onbevoegd verby. Wys jou net hoe korrup hulle is en op borg uit is aikona Cyril kom by

SomeOne ·

wat is r50,000.00 vir haar, dis omtrent die helfde van 1 maand se salaris

koos10 ·

Die ANC is nie sterk genoeg om standpunt te wys nie. CR skryf net ‘n nuusbrief en word amper uit gehaal. Ek hoop vir ‘n skeuring in die ANC, om die kaf van die koring te skei.

Joe Olivier ·

Daar is niks om te skei nie. Daar is net een hoop kaf as ons van die anc praat.

Strandloper ·

Die kader en kie hoort agter tralies…verkieslik in n sirkus. Dit is skreeu snaaks hoe hul dink en redeneer.

Cherokee ·

Jy’t ‘n snaakse sin vir humor om dit as ‘skreeusnaaks’ (een woord let wel) te beskou.

JohanR ·

Waar in die privaat sektor sou die vrou ooit ‘n werk kry, en wie in die privaat sektor sou haar ooit aanneem? Dit lyk my die ANC is die enigste organasasie waar iemand soos Gumede ooit ‘n “werk” sou kan kry! Kan jy nog dink om in die selfde kantoor, of in die lessenaar langs die een te moet werk,,, bedank liewers.

Petrus ·

Te lekker my lalie. Sy sal nêrens heen gaan. Waag dit net om ‘n Parkeerkaartjie te kry en betaal dit nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.