‘Gee Helen Joseph dringend meer hulpbronne’

Die ingang van die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg. (Foto: Tania Heyns)

Die departement van gesondheid moet dringend meer personeel en hulpbronne aan die oorlaaide Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg verskaf. Só vra die DA nadat dit aan die lig gekom het dat siekes dae lank in die hospitaal se noodgevalle-eenheid lê en wag om opgeneem te word.

Dit nadat dele van die naburige Charlotte Maxeke-hospitaal tien maande ná ʼn brand steeds nie oopgestel is nie. Kenners waarsku die druk op mediese geriewe in Gauteng het ook ʼn uitwerking op mediese dienste elders in die land, asook op die opleiding van mediese studente.

Maroela Media het vroeër berig die bestaande gebrek aan ruimte by die Helen Joseph-hospitaal het in ʼn “katastrofe” ontaard. Maroela Media het die hospitaal Dinsdag besoek en gesien hoe pasiënte op vuil matrasse in die gang lê of in rolstoele slaap.

Jack Bloom, DA-woordvoerder vir gesondheid in die provinsie, sê dit is onduidelik waarom geen ekstra personeel of begroting oënskynlik na die Helen Joseph-hospitaal herlei is nie. “Die hospitaal was vantevore reeds onder geweldige druk, maar veral die situasie met psigiatriese pasiënte wek kommer.”

Hy het reeds vrae hieroor aan die LUR vir gesondheid in Gauteng gerig en wil onder meer weet hoeveel beddens, toilet- en stortgeriewe vir hulle beskikbaar is, watter eiendom die afgelope maande deur dié pasiënte beskadig is, asook hoeveel personeellede oor die afgelope 12 maande aangeval is. Volgens hom het talle aanrandings van personeel die afgelope paar maande plaasgevind.

Die LUR moet nog antwoorde verskaf.

Bloom verwys onder meer ook na die 2016-tragedie toe 144 mense dood is nadat pasiënte van Life Esidimeni na kleiner nie-regeringsorganisasies oorgeplaas is. “Na daardie tragedie sou jy dink ons is meer sensitief vir sulke kwessies,” sê Bloom.

Volgens hom kan druk op die hospitaal heelwat verlig word as bykomende personeel, wat tans nie by die Charlotte Maxeke-hospitaal kan diens doen nie, by die Helen Joseph-hospitaal ontplooi word.

“Sommige is aan ander hospitale toegewys en sommige doen dalk nie veel nie. Daar is bewerings dat sommige [van Charlotte Maxeke-hospitaal se personeel] by die huis sit.

“Die Helen Joseph-hospitaal trek aan die kortste ent en ʼn mens sou dink hulle sou ekstra geld, ekstra hulpbronne en selfs ʼn bykomende tydelike struktuur ontvang het.”

Bloom sê sekere ernstige gevalle by hospitale kan voorkom word indien die nodige hulpbronne beskikbaar is. Benewens die trauma van ʼn oorvol hospitaal en pasiënte wat in die gange van die ongevalle-afdeling moet slaap, “sterf mense weens hierdie situasie”.

Maroela Media het Dinsdag ʼn navraag aan die Gautengse departement van gesondheid oor die situasie by die Helen Joseph-hospitaal gestuur en wag op terugvoer.

Uitwerking kring uit

Pasiënte wag in die ongevalle-eenheid by die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg. (Foto: Tania Heyns)

Prof. Shabir Madhi, dekaan van Wits se Fakulteit vir Gesondheidsdienste, sê die sluiting van ʼn groot deel van die Charlotte Maxeke-hospitaal het ook ʼn uitwerking op die opleiding van mediese studente wat nou almal na die Helen Joseph-hospitaal vir opleiding moet gaan.

Dosente gee klas aan veel groter groepe studente, wat volgens Madhi uitdagings skep om te verseker daar is voldoende leergeleenthede en opleiding. Pleks daarvan dat studente by verskeie hospitale kan aanmeld, moet daar nou veel meer studente op ʼn kleiner getal pasiënte gelaai word.

“Dit skep meer spanning vir pasiënte,” sê hy.

Die opleiding van spesialiste word ook geraak. Dié dokters moet ʼn minimum getal prosedures, byvoorbeeld chirurgie, suksesvol afhandel om hul opleiding te voltooi. Weens die sluiting van die Charlotte Maxeke-hospitaal kan hulle dit nie binne die voorgeskrewe tyd doen nie, sê Madhi.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder vir gesondheid, sê die gesondheidsorgstelsel kan kwalik bekostig dat ʼn enkele hospitaal in Gauteng nie ten volle operasioneel is nie. “Dit plaas ʼn groot las op al die ander hospitale in die provinsie met miljoene mense wat bedien moet word.”

Die situasie laat boonop opnuut gevaarligte flikker oor die beoogde inwerkingstelling van die Nasionale Gesondheidsversekering. “Jy kan nie die NGV instel, maar die strukture wat daardie wetgewing moet ondersteun – fisieke strukture soos geboue, hospitale en klinieke – is nie daarvoor gereed nie.

“Die regering dink die NGV is ʼn towerstaf wat al sy probleme gaan oplos, maar die situasie gaan vererger met al hoe groter druk op die openbare gesondheidsorgstelsel.”

Van Staden waarsku ook dat Gauteng nie die eerste of laaste provinsie gaan wees waar vervalle infrastruktuur groot probleme veroorsaak nie. Die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid besoek tans, op aandrang van die VF Plus, alle openbare hospitale.

“As iemand in beheer van ʼn hospitaal met trane in sy oë vir jou sê dat hulle hulp nodig het, moet jy besef in watter groot moeilikheid ons werklik is,” sê Van Staden.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jacques ·

Om aanhoudend geld in ‘n wangeadministreerde staatsdiens te pomp is soos om binneaars bloed te skenk aan ‘n pasiënt wat besig is om dood te bloei, sonder om eers bloeding te probeer stop……

Kotie ·

Die hardseerste van alles is die hopsitaal is nooit so skoon nie, so of iemand het hulle vroegtydig gewaarsku of die fotos is mee gepeuter. Ons was so maand terug by die hopsitaal net na 7 in die aand met my tiener dogter(net 15 jaar oud). Ek was aan gese om buite te gaan wag vir haar ek het geweier. Ons is na 9 eers deur waar haar bloeddruk geneem is en half 10 het ons nog nie eens n leer gehad vior haar nie. Was aangese om in die een afdeling te gaan wag solank. Die reuk is genoeg gewees om ons naar te maak en bo alles het n dame van die bed afgeval almal het gestaan en kyk en toe ons begin kyk toe vinnig wou 6 “nurses” haar op help. Ons is net na 10 weg sonder dat enige iemand ons met n leer gehelp het of eens na my dogter gekyk het nie.

Frank ·

Gesin wat siek is 6.30 by Kocksoord kliniek. 11 uur nog nie gehelp nie want personeel eet pap, koer rondom seker een van hulle personeel lede se baba en bondel saam om videos op selfone te kyk. Sort eers die kultuur van so min as moontlik doen en soveel geld as moontlik verwag uit voor nog geld in nuttelose goed gepomp word

Mallie ·

Ai kan die mense wat onbevoeg is nie maar hulle trots in hulle in sak steek en mense aanstel wat regtig bekwaam is om die werk te doen aanstel nie. Red ons land. Dit is die enigste land wat ons het. Ons is almal hier gebore en getoee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.