‘Gee jou sleutels, of jy brand’  

Jannes Von Backstrom is verlede week tydens ʼn mislukte kaping beroof en met ʼn chemiese middel gebrand. (Foto: Mariska Nanni)

“Wat as?” Dít is die grootste vraag wat by ʼn getraumatiseerde Jannes von Backstrom (37) spook nadat hy verlede week tydens ʼn mislukte kaping beroof en met ʼn chemiese middel gebrand is.

Hy verkeer tans in erge pyn weens die aard van sy beserings en kan ook nie juis veel beweeg nie.

Von Backstrom, ʼn verkoopsverteenwoordiger van Pretoria, was op 11 November op pad om ʼn kliënt in Northam, Limpopo, te gaan sien vir die mynmaatskappy waarby hy werksaam is, toe twee mans in polisie-uniform hom beveel om langs die pad stil te hou.

Von Backstrom is nie seker wat die naam van dié pad is nie, maar verduidelik dat die voorval sowat 20 km voor Northam gebeur het.

“Ek het dadelik aangeneem dis polisiebeamptes en van die pad afgetrek. Ek was besig om my lisensie te soek toe hulle aan weerskante van my Ford Ranger-werksbakkie kom staan het.

“Dis toe dat ek die vuurwapen in die man – wat by die bestuurderskant gestaan het – se hand sien.”

Von Backstrom sê die mans, albei Afrikaanssprekend, het hom beveel om uit te klim.

“Hulle het die aansteker seker vier of vyf keer probeer gebruik, maar dit wou nie vlamvat nie.”

“My grootste vrees was dat hulle my iewers heen sal vat en my doodmaak. Ek het die sleutels uit die aansitter gehaal en saam met my persoonlike selfoon, wat tussen my bene gelê het, onder die sitplek ingegooi.

Een van die mans het hom kort daarna uit die voertuig geruk en in die smal ruimte agter die voorste sitplekke gedwing. “Daar het hulle my hande met dunnerige kabeltoue vasgebind. Een van hulle het die bakkie aan die gang probeer kry terwyl die ander een die voertuig en my beursie deursoek het. Hulle het ook my bril stukkend getrap.”

Von Backstrom sê die man met die vuurwapen het gefrustreerd geraak toe hy nie die bakkie se sleutels – wat in ʼn hoekie onder die sitplek ingeval het –  kon kry nie.

Een van die chemiese brandwonde op Jannes Von Backstrom se bobeen. (Foto: Verskaf)

“Hy het uitgespring en vloeistof oor my uitgegooi. Ek weet nie waar dit vandaan gekom het nie, maar ek kon ruik dis ʼn chemiese middel soos thinners. Hy het dit oor my skoot, rug en gesig gegiet.

“Die man het geskree ‘gee my jou sleutels of ons steek jou aan die brand’. Die ander een het hom aangemoedig om dit oor my geslagsdeel te gooi en dié eerste aan die brand te steek. Hulle het die aansteker seker vier of vyf keer probeer gebruik, maar dit wou nie vlamvat nie.”

“Ek het ʼn vrou en kind… ”

Von Backstrom het by sy aanvallers gepleit dat hy ʼn vrou en kind het en dat die bakkie boonop ʼn werksmotor met ʼn opsporingstelsel is. Hulle het toe bes gegee.

“’Ons het die geld, los hom,’ het die kleiner een van die twee gesê. Ek kon nie hul gesigte mooi sien nie omdat hulle Covid-maskers aangehad het, maar hulle was redelik fris, met ligte hare en waarskynlik my ouderdom. Die groter een met die vuurwapen was die meer aggressiewe een van die twee.

“Hulle is toe met die R1 000 in my beursie asook my horlosie daar weg.”

Hy sê hy weet nie waar die mans die uniforms gekry het nie, maar twyfel of hulle werklik polisiebeamptes is. Hy kan nie mooi onthou of hul motor gemerk was of nie, aangesien die gebeure baie vinnig ontvou het – hy onthou net dit was ʼn wit motor.

Nadat hulle weg is, het Von Backstrom die kabeltoue stukkend gebyt, sy sleutels en selfoon onder die sitplek uitgekry en na die Northam-polisiestasie gery.

Daar gekom, het sy wonde reeds erg gebrand en het hy dit met water afgespoel.

“Die polisie het vingerafdrukke in die bakkie geneem, saam met my na die toneel gery en my verklaring afgeneem. Ek het reeds my saaknommer ontvang, maar nog niks weer van hulle gehoor nie.

“Ek verwag nie dat daar regtig iets van die ondersoek sal kom nie.”

Von Backstrom sê hy het steeds baie pyn.

“Ek is die volgende dag dokter toe, maar dis nog baie seer. Daar is blase oral op lyf. Die middel het gelukkig nie my oë beskadig nie, maar ek kan weens al die blasies steeds niks met my linkeroor hoor nie. Daar is ook baie blase op my nek, rug en bene. Dis seer om te loop en ek kan nog nie eintlik bestuur nie…”

Emosionele skade

Hy gaan Dinsdag ook vir berading, aangesien hy baie getraumatiseerd is.

“Ek was verskriklik bang. Ek is nog steeds. As ek nou polisiebeamptes langs die pad sien kry ek sommer ʼn hol kol op my maag. Die ‘wat as?’-vraag bly by my. Wat as hulle my iewers anders heen gevat het? Wat as hulle my aan die brand gesteek het? Wat as hulle my doodgemaak het?

Die hoofrede waarom Von Backstrom sy storie deel, is om opnuut bewusmaking by mense te kweek om paraat te wees, en nie sommer vir enigeen stil te hou nie. “Ry eerder tot by jou naaste polisiestasie. Ek sal nooit weer stilhou nie – behalwe by ʼn groot padblokkade waar baie mense en voertuie is. Ek gaan voortaan ook met my polisieverslag in my kar ry sodat ek by polisiestasies kan wys waarom ek nie gemaklik voel om langs die pad te stop nie.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie oor die voorval en ondersoek gerig, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Zara ·

Dis ongelukkig ons lot in hierdie vervloekte misdaadnes van ñ land. Dit moes angswekkend wees, ons hoop maar die polisie volg dit op. Sterkte!

Stephen ·

My two best friends, Smith & Wesson always accompany me. They will take care of this kind of situation.

Jan Seerot ·

John Browning is nooit ver weg van my af nie. En hy het ‘n hele bek vol tande…black talons.

Shakespeare ·

Van suksesvolle land tot vervloekte land in 27 jaar. Viva ANC/EFF/VAKBONDE/STEMVEE.

Henkb ·

“Ligte hare en fris” word nou nie juis geassosieer met daardie partye nie….

Perdeby ·

maar jy was nie paraat genoeg gewees nie. Nie eers opgelet of dit ‘n gemerkte voertuig was of nie. Baie swak, maar is bly jy het geringe beserings opgedoen, en dat jou lewe gespaar is. Wonder hoe lank gaan hulle vir clown nog in die pos hou, want hy si duidelik nie geskik vir die pos nie.

Vonkprop ·

Hulle doen dit met gemerkte voertuie ook. Hulle is bang vir niks en niemand nie.

madels ·

My man se gedurig vir .u dat ek stadiger moet ry as ek polisiebeamptes sien en half half stop en sê hulle kan my by die naaste polisiestasie kry maar hoe reageer n mens regtig? Dis makliker gesê as gedaan wanneer so iets wel gebeur. Daar moet daadwerklik nou n wet inkom dat polisie nie meer enigiemand mag aftrek behalwe as dit by n amptelike polisie stasie is nie.

Jana ·

Ek stem saam Madels, want as mens aanry selfs al is dit stadig en jy stop by ‘n petrol stasie word jy rond gepluk en mishandel.

Sarel ·

Minister Cele????
Stop jy nie word gevikitimiseer
Univorms…ja waar kry hierdie sg. ” Bloulig Rowers” hulle
Univorms

Harley Davidson ·

Ek stop nie vir n ongemerkte kar nie en ek baklei terug dit word deur die intelegente mense geag as die oplossing nie maar het al baie kere gesien dit is beter waneer lafaards jou aanval.

Willem Wikkelspies ·

Jammer mater! As dit ek was sou ek dieselfde oorgekom het. Dit is tyd dat ons onsself beveilig, die polisie kan nie en nou is mens nie eens seker of jy wel met ‘n polisieman praat nie.

Esme ·

So jammer dat jy dit moes ervaar.
Bheki Cele en sy magte is ‘n gevaar vir hierdie land – met of sonder uniforms.

Wielspore ·

Van die feite in die berig maak nie sin, die persoon sê die vloeistof het soos thinners geruik en hulle wou dit aansteek, aan die ander kant het hy chemiese brandwonde opgedoen. Thinners alleen kan nie sulke chemiese brandwonde veroorsaak. Tensy die vloeistof wat oor die persoon ‘n konkoksie van suur en thinners was, maak die inhoud van die berig nie sin.
Sterkte aan Jannes, hoop jy hestel gou.

Frank John ·

Organized crime, instigated by the head of the crime syndicate of SA. Even got their uniforms.

christo ·

Bheki Cele, Bheki Cele slaap jy nog? Hoor jy hoe… Al sing die hele SA teen sy onvermoë sal Ramaphosa sy vyand naby hom hou, as wat hy vir Cele sal afdank. Ramaphosa is besig om laer te trek en veg vir politieke oorlewing. Ons gewone landsburgers se veiligheid is laaste op die lys.

Cobus ·

Is maklik om van die kantlyn af te praat tot jy in dit is,was jare gelede ookbdeur n mislukte kaping en glo my, baie goed gebeur in sekondes veral as jou gedagtes by jou werk of ander goed is,jy bloot nie ingestel op so iets nie…sterkte maat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.