Gee Prasa-raad die trekpas; laat provinsies spoorvervoer regruk

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Department of Transport/Facebook)

Deur James Stent, GroundUp

ʼn Aktivistegroep vir pendelaars het ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa en die minister van vervoer, Fikile Mbalula, gedoen om die huidige raad van die Passasierspooragentskap (Prasa) dadelik te ontbind.

#UniteBehind het boonop geëis dat Prasa in sakeredding geplaas word en provinsiale regerings daarna die spoorvervoernetwerk moet regruk.

Die groep het Ramaphosa en Mbalula tot 14 Februarie gegee om gehoor aan sy versoeke te gee, of hy gaan hom tot die hof wend.

Die afwenteling van die spoornetwerk is die amptelike regeringsbeleid sedert die bekendstelling van die Witskrif oor die Nasionale Vervoerbeleid in 1996. Die beleid is ook in daaropvolgende witskrifte en ander wetgewing bevestig.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het Mbalula al verskeie kere gevra om verantwoordelikheid vir die pendelspoornetwerk aan die Kaapse metro oor te dra. Dié metro het al in 2018 ʼn sakeplan daarvoor afgehandel en is tans besig om ʼn uitvoerbaarheidstudie te doen in die hoop om die spoornetwerk in die gebied oor te neem.

Die Gautengse provinsiale regering het ook te kenne gegee dat hy die provinsie se spoornetwerk by die krisisgeteisterde Prasa wil oorneem.

Onlangse uitlatings deur nog ʼn minister dui egter daarop dat beheer van die spoornetwerk nie so maklik aan provinsiale of plaaslike owerhede afgestaan sal word nie.

Mmamoloko Kubayi, minister van menslike nedersettings en hoof van die ANC se ekonomiese transformasie-subkomitee, het onlangs – strydig met beleidsdokumente en wetgewing – gesê die regerende party se standpunt is om afwenteling teen te staan.

“Ons kan dit nie aan metro’s oorgee nie. Oor beleid sal ons nie saamstem nie; en ons het nie hierdie voorstelle gemaak nie en dit sal nie verander nie,” het Kubayi aan Sunday World gesê.

Hill-Lewis het Maandag ʼn beroep op Ramaphosa gedoen om te verduidelik of Kubayi se uitsprake inderdaad die regering se standpunt is.

“Ons is gereed om ʼn lewensvatbare spoordiens in die beste belang van pendelaars te hervestig, en ons is gereed om enige tyd met die nasionale regering saam te werk om dit te bereik,” het hy gesê.

“Die feit is dat die spoornetwerk nasionaal in duie gestort het. Prasa vervoer nou net 3% van die passasiers wat dit ʼn dekade gelede nasionaal vervoer het. Prasa is bankrot nadat miljarde verloor is weens korrupte transaksies, onder meer treine wat te groot is vir die spore.

“Dit is lankal tyd vir verandering.”

Hill-Lewis sê sy jongste korrespondensie met Mbalula het aangedui dat die vervoerdepartement besig is om ʼn “magsafwentelingstrategie” te ontwikkel wat volgende jaar afgehandel moet word.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Manie ·

Alles waaraan hulle raak verander oornag in ‘n gemors. Kry hulle nie skaam om te sien, te hoor en te weet dat hulle onbeholpe en treurig is nie?

Jacobus ·

Jy moet n IK he om dit agter te kom, die ANC REGERING EN LEDE se IK is te laag so hulle is eenvoudig te dom on dit agter te kom.

Sobymykoolkop ·

Glo my maar as julle wil, deur ons dorp het daar een keer sedert 2020 ( ja…2020) het die transkaroo EEN keer van Kaap na Johannesburg geloop. Van die datum wat die inperking in 2020 begin het kry die dame nogsteeds ELKE maand haar salaris.

Euodia ·

Wat doen die dame, is sy die trein “drywer” of in beheer van treine daar? Skandalig en sy is nie die enigste wat by die huis sit, al vir jaaare en hul safaris kry!!!

Sobymykoolkop ·

Plekbespreking en kaartjie verkope maar al die prasa( voorstedelike/ lokale passasiers treine uitgesluit) personeel, drywers en hulle assistente ens ens is ook by die dame ingesluit.

Willem Wikkelspies ·

Dis eintlik maklik .. vat die ministers se motors (en bloulig brigades) weg en laat hulle trein ry! :-)

Samuel ·

Die regering wil ten alle koste nie hulle greep op die spoordienste verloor nie, al verval dit ook nog meer.

Sobymykoolkop ·

Jy het geen idee van die verval nie. Sinjale, wisselmasjiene, substasies word stuk stuk weggedra en geen planne om reg te maak.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Hulle sal dit nooit in der ewigheid doen nie, die oomblik as hulle dit doen, gee hulle hul mag af, en dan is hulle nowhere. Magteloos en irrelevant!

Danie ·

Maak eers eskom reg dan die vervalle spoornet stap vir stap.Hoe gaan die elektriese treine loop sonder krag.Nie eers te praat van die diesel treine nie.Kan die mense nie hulle gesonde verstand gebruik nie?

Blikkies ·

Hierdie miskruiers sal vasbyt en niemand niks gun nie, hulle sal te veel geld verloor as hulle oorgee, nie dat daar eintlik nog iets oor is nie…..

christo ·

“Wanneer ‘n nar in die parlement ingestem word, word hy nie ‘n minister nie, nee die parlement word a sirkus”. Daar is soveel narre in die parlement, dat die eens waardige instelling niks anders as ‘n sirkus geword het nie. Dis hoekom al die Staatsbeheerde instellings ten gronde gegaan het. SA het ‘n wêreldklas spoornetwerk gehad.
Die toepassing van inperking regulasies gedurende die Covid-19 was só suksesvol dat mense wragtig nog steeds vrylik kon beweeg en al die spoor infrastruktuur kon stroop!
Die ANC is onder beleg, en daarom sentraliseer hulle alle mag, waarin hulle alles beheer. Iets waarin hulle uitstekend in faal.
Prasa sal nóóit toelaat dat Die Stad Kaapstad of die Wes-Kaap as provinsiedie plaaslike voorstedelike treinstelsel sal bedryf nie, want dit kan en sal behoorlik en winsgewend bedryf word.

annie ·

SA het ‘n unieke manier gevind om van onbekwames ontslae te raak: Bevorder hulle. Eers was dit Zuma en… toe werk dit nie, maar daarna gaan dit klopdisselboom. En van vloekbek tot minister tot president-in-waiting… Is ‘n Zuma-situasie weer aan die kom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.