Gee skole meer beheer in toelatings, vra onderwyskenners

onderwys-skool-skole-onderrig-argieffoto

(Foto: Element5 Digital/Unsplash.com)

Hoewel daar tans groot onsekerheid heers rondom die aanlyn-registrasiestelsel van die Gautengse onderwysdepartement, meen onderwyskenners dat die stelsel tog kan werk, as dit beter aangewend word en van die regering gedesentraliseer word.

Die stelsel het grootskaalse paniek onder ouers veroorsaak omdat sowat 29 862 voornemende gr. 1- en gr. 8-leerders steeds nie plek in ʼn skool vir volgende jaar het nie. Die stelsel is ook fel gekritiseer deur die burgerregte-organisasie AfriForum, die Suid-Afrikaanse Instituut van Rasseverhoudinge en die VF Plus wat dit as ʼn mislukking beskryf het.

Die VF Plus het Dinsdag die Openbare Beskermer (OB) genader om die omstrede plasingstelsel te ondersoek nadat ouers reeds in Mei aanlyn aansoek moes doen om plek. Adv. Anton Alberts, VF Plus se leier in Gauteng, sê die party wil hê die OB moet ondersoek instel rakende die aard van die stelsel, die motivering vir die skepping daarvan asook die operasionele aspekte.

Melanie Buys, die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se hoof van ontwikkeling, en Chris Klopper, hoof van die Suid-Afrikaanse onderwysersunie (SAOU), is van mening dat hoewel die konsep agter die aanlynplasingstelsel die proses kan vergemaklik en verfyn, kom die probleem in by die alleenbeheer van die onderwysdepartement. Volgens Buys en Klopper is die Gautengse skole uitgelewer aan die departement se ideologiese gekonseptualiseerde poging om die inskrywingstelsel totaal en al te sentraliseer. Dié ideologie word volgens Buys polities aangevuur.

Alberts meen ook die gesentraliseerde aanlynplasingstelsel funksioneer nie behoorlik nie omdat dit moontlik polities gekontamineer is. “Ons weet self nie presies waar die fout lê nie en ons dink nie die departement gaan aan ons hieroor eerlike antwoorde verskaf nie. Ons is oortuig [Panyaza] Lesufi het alternatiewe motiewe met die stelsel wat hy nie aan die publiek verkondig nie,” sê hy. Klopper en Buys glo die departement sal nie erken die stelsel funksioneer nie reg nie.

Nogtans sê Gaylin Bowles, die uitvoerende hoof van die vakbond Nasionale Professionele Onderwysers Organisasie van Suid-Afrika (Naptosa), dat daar plek is vir die aanlynstelsel, maar dat dit wel versterk moet word deur dit onmiddellik met die departement van binnelandse sake te koppel om sodoende enige bedrieglike aansoeke uit die weg te ruim. “Die eintlike, kernfout het ingekom toe die LUR te veel klem geplaas het op die 30 km reël, sonder om te verduidelik dat dit die laaste opsie is. Te veel ouers is valse hoop deur dié stelling gegee,” meen sy.

Khume Ramulifho, die DA se skadu-LUR vir Gauteng, sê dat die probleem nie soseer by die stelsel lê nie, maar dat daar net ʼn handjie vol spogskole is. Ouers probeer almal om hulle kinders by ʼn spesifieke skool in te kry, wat meer druk op die stelsel plaas. “Daar is baie skole wat plek het, maar ouers trek hul neuse daarvoor op.”

Wat pla?

Alberts meen die omstrede plasingstelsel se probleme het onstaan weens soveel jare se wanbestuur en ideologiese manipulasie wat opgehoop het, sonder om aandag te gee aan die kern van die prob

leem en ’n oplossing te vind. “Die probleem is nou amptelik kompleks. Ek is nie seker of almal voor die einde van die jaar geplaas gaan word nie.”

Die probleem, sê Jaco Deacon, die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se uitvoerende hoof, het vererger omdat die Gautengse onderwysdepartement gepoog het om op kort kennisgewing alle veranderinge in die aanlynstelsel te vervat en deur middel van die sagteware die proses te outomatiseer.

“Die kompleksiteit hiervan en die sagteware wat nie optimaal gewerk het nie is die hoofrede vir die vertraging.”

Fedsas het dit vroeg uitgewys en daar is toe hard agter die skerms gewerk om van die probleme te probeer uitstryk. “Dié werk was maar plakwerk aan ʼn stelsel wat reeds wankelrig was.

“Ons steun die gebruik van tegnologie omdat dit die bestuur en beplanning soveel beter kan maak, maar dan moet die tegnologie werk en behoorlik getoets word voordat dit uitgerol word. Alle ouers het ook nie toegang tot al die tegnologie of al die vaardighede om hierdie tegnologie goed te benut nie,” sê hy.

Bowles voeg by dat in sommige gevalle kinders in dieselfde straat woon en een kind ʼn plasing by ʼn skool sou ontvang het, maar nie die ander nie. In sommige gevalle word gesinne ook deur die stelsel geaffekteer, omdat sommige sibbe in verskillende skole, in verskillende rigtings geplaas word. “Ons het al gehoor van tweelinge wat na verskillende skole gestuur is, gr. 8 leerders wat by laerskole geregistreer is, sommige ouers wat reeds hul briewe vir plasings ontvang het, maar wanneer hulle by die skool aanmeld, weet die skool glad nie van die plasing nie.”

Sy meen dat die heen-en-weer ook groot ongerief vir ouers veroorsaak, omdat baie verlof moet neem om die kwessies uit te werk. “Alle ouers wil die beste opvoeding vir hulle kinders hê en skole moet meer voorbereid wees vir nuwe leerders, hoe leerders opgedeel gaan word in klasse, administratiewe prosesse en die oriëntasies en verwelkomings om 2020 op ʼn goeie voet te begin. Baie skole stel egter hierdie kritieke stappe uit.”

Foto verskaf deur Laerskool Tygerpoort

Volgens Alberts is daar ʼn groot leemte in die stelsel weens die kriteria wat taalvoorkeur nie in ag neem nie. Leerders wat in Afrikaans onderrig wil ontvang, word in Engelse skole geplaas. “Dit blyk of die stelsel opsetlik ontwerp is om Afrikaanse leerders in nie-Afrikaanse skole te plaas asook die omgekeerde ten einde Afrikaanse skole se Afrikaanse demografie af te water. Verder, wat die bestaande kriteria betref, is daar duidelik ook growwe nalatigheid betrokke omdat die stelsel nie eens behoorlik op daardie basis funksioneer nie.”

Hoe nou gemaak?

Buys en Klopper is van mening dat moontlike oplossings gevind kan word indien die stelsel gedesentraliseer word en die skole ook ’n reg kry om self plasings te kan doen. “Die departement is nie bevoeg om die stelsel alleen te hanteer nie. Skole ken hul gemeenskappe en kapasiteit,” sê Klopper. Volgens Buys kan sentrale aanlynstelsels by skole self geïmplementeer word waar die departement slegs die stelsel monitor.

Deacon stem saam en sê om toelatings gladder te laat verloop moet meer gesag en praktiese stappe na skole afgewentel word. “Nagenoeg 2 300 skole kan makliker hulle eie lyste bestuur as wat die departement sentraal soveel skole moet bestuur.”

Hy is ook van mening dat meer skole mettertyd gebou moet word, en op die plekke waar mense woon en werk. “Ons het nodig om te verstaan dat demografiese verandering nie in alle gevalle sonder digtheidsverandering plaasvind nie. Skole word gedruk om ekstra klasse te aanvaar, maar die skool is reeds vol.

“Dit is dus nie ʼn demografiese skuif nie, maar ʼn bevolkingsdigtheidskuif. Dit is daarom onverstaanbaar om te verneem dat Gauteng onbenutte geld aan die nasionale onderwysdepartement moet terugbetaal.

“Dorpsgebiedontwikkeling vind teen ʼn reusespoed plaas sonder dat voorsiening gemaak word vir die beskerming van grond vir onderwys. Daar is nie grond om skole te bou in baie hoëdigtheidontwikkelings nie. Munisipaliteite sal hulle kant moet bring in dorpsbeplanning,” sê hy.

Alberts meen ook die oplossing lê by die bou van meer skole en die gebruik van onbenutte skole. “Gegewe die druk op die skoolstelsel tans, kan daar nie sonder skole enige onderrig wees nie. Ons is nog nie eens by die derde nywerheidsrewolusie nie, laat staan nog om in die vierde fase in te beweeg waar aanlynonderrig kan plaasvind wat die afstand- en taalprobleem effektief sal kan takel,” sê hy.

“Ek stem saam dat skole wat tans nie gebruik word nie weer heropen word en gekwalifiseerde onderwysers en senior bestuurders aangestel word om hierdie skole te bestuur,” sê Ramulifho.

Volgens Alberts moet die Afrikaanse gemeenskap spesifiek ook langtermyn-oplossings vind. Hy stel ’n samewerkingsooreenkoms met Solidariteit voor ten einde te sorg dat lewensvatbare private Afrikaanse skole gestig kan word.

“Gemeenskappe moet leer om onafhanklik van die regering te staan, want hulle ideologiese motief is nie in die belang van hierdie minderheidstaal- en kultuurgemeenskappe nie,” sê Alberts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Essie ·

Druk die onderwysdepartement n put en doen tuisonderrig ekwou dit nie gedoen het nie maar my vrou het my oortuig en vandag het ek my kinders hul matriek met godsdiens laat kry

Gert van Wierdapark ·

‘ n Moontlike oplossing kan wees om met die mini-ster van Onder-wys te raad-pleeg. Dalk het hy net die regte medi-syne wat dit miskien beter sal/kan laat werk! He-he-he!!

Feite ·

Daar is nie n manier wat die ANC regering die beheer oor toelatings sal desentraliseer nie, omrede dit loodreg indruis teen die ANC ideologie. Die ANC sal alles wat hulle kan sentraliseer, of dit werk of nie. Julle het afrikaanse universiteite vir die ANC gegee ten einde privaat akademias ekonomies lewensvatbaar te maak en nou gaan julle ook afrikaanse skole weggee. So gaan NG kerkgeboue ook op n stadium weggegee word. Julle privatiseringstrategie gaan werk oor die kort en medium termyn. Oor die langtermyn sal te veel afrikaanssprekendes SA verlaat het en dan sal julle in elk geval weer alles moet weggee. Afrikaanssprekendes sien hoe magtig die ANC is dat afrikaanssprekendes alles maar net weggee en dit sal hulle laat besef dat daar nie n toekoms in SA is nie. Niemand wil n toekoms bou met die wete dat dit op een of ander stadium net weggegee gaan word nie. Julle is besig om n reputasie te bou van “slaan terug” deur afrikaanssprekendes se erfregte weg te gee aan die ANC en afrikaanssprekendes te isoleer by solidariteit vir die bou van n sakeryk. Verraad blyk dus aan die orde van die dag te wees!

Db ·

@Feite. Jy weet daar word gesê – “julle is ‘n bak vrot skille en jy is een van hulle”. Hoekom altyd almal onder dieselfde kam skeer wat die ja-stem aanbetref. Voel jy nou skuldig en is dit hoekom jy met rotse gooi en nie klippe nie?

Feite ·

@Db. Die feite is dat afriforum/solidariteit afrikaanssprekendes se afrikaanse universiteite erfenis weggegee het aan die ANC om die afrikaanssprekendes by solidariteit te isoleer vir die bou van n sakeryk (die wolwe wen net soms en bestudeer gerus afriforum vs UV hofuitspraak en kennermenings). Db ek smeek jou met trane in my oe om ipv beledigend te wees, my verkeerd te bewys. Afriforum/solidariteit kon gedoen het wat hulle doen met akademia sonder om met opset hofsake te verloor om toe te laat dat afrikaans uitgefaseer word. Dit my ou maat van yster, is verraad teen afrikaanssprekendes wie deur afriforum/solidariteit onder die indruk gebring was dat daar geveg word om afrikaans by universiteite te behou, maar toe nou nie. So hou op hmm en haar en bewys my met feite, verkeerd. Jy sal nie kan nie, daarom sal jou beledigings ook nie ophou nie. Net soos Frikkie de Klerk, het afriforum/solidariteit strategies, verraad gaan staan en pleeg. Ongelukkig spreek die feite harder as beledigings en fopnuus!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.