‘Gee vir Mugabe politieke asiel in SA’

Robert Mugabe. Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Die EFF het ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om politieke asiel aan pres. Robert Mugabe toe te staan.

Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, het gesê Mugabe moet die politieke mag aan die volgende generasie oorgee en dat sy naam nie gebruik moet word vir die verdere agteruitgang van die land wat hy na politieke bevryding gelei het nie.

“Zimbabwe het die afgelope twee dekades baie pyn en destabilisasie ervaar, sy geldeenheid verloor en miljoene burgers ontwrig weens ekonomiese swaarkry. Die EFF gee toe dat sommige van die pyn in Zimbabwe deur imperialistiese optredes veroorsaak is, maar ʼn belangrike komponent hiervan was self toegedien.”

Ndlozi het gesê Mugabe kan nie daarop aandring om in beheer te bly wanneer hy nie fisiek daartoe in staat is nie. “Opportuniste rondom hom, veral sy naaste familie en vrou, het hom misbruik en gebruik sy mag om politieke teenstanders uit die weg te ruim.” Hy het gesê die Zimbabwiese weermag moet toegelaat word om sonder geweld ʼn oorgang te bewerkstellig wat ʼn vry, regverdige en demokratiese verkiesing tot gevolg sal hê.

“Ons doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse weermag om gereed te maak om politieke asiel aan Mugabe toe te staan. Hy moet toegelaat word om na Suid-Afrika te kom sodat ʼn vreedsame oorgang kan plaasvind. Ons moet dit doen om vrede te bewerkstellig en Zimbabwiërs toe te laat om hul land en instellings te stabiliseer.”

Mmusi Maimane, leier van die DA

Mmusi Maimane, leier van die DA, het intussen gesê Mugabe moet bedank en dat ʼn vry en regverdige verkiesing gehou moet word. “Dit sal die mense van Zimbabwe toelaat om ʼn nuwe rigting vir hul land te kies en hulself te bevry van die tirannie van Mugabe en sy Zanu-PF.”

Maimane het ook ʼn beroep gedoen op Maite Nkoana-Mashabane, Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking, om onmiddellik inligting te verskaf oor die aard en omvang van die krisis in Zimbabwe.

“Suid-Afrika kan nie voortgaan met sy stille diplomasie terwyl die mense van Zimbabwe ly nie. Ons moet betrokke raak met die doel om ʼn oplossing te vind wat nie die deur oopmaak vir ʼn ander diktator om die leisels oor te neem nie.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê dit is verblydend dat die klaarblyklike bewindsoorname in Zimbabwe tot dusver volgens alle aanduidings vreedsaam verloop het.

Hy sê dit is alombekend dat ook gewone burgers van Zimbabwe ontevrede is oor die feit dat Mugabe so lank aan die mag vasklou en nou oënskynlik planne smee om die weg voor te berei vir sy vrou om hom op te volg.

Pieter Groenewald. Argieffoto: Twitter

“Onder Mugabe se bewind het Zimbabwe, eens die broodmandjie van Afrika, se ekonomie in duie gestort en is die burgers in armoede en ellende gedompel terwyl Mugabe en sommige van sy vertrouelinge ver verwyder van die gemiddelde Zimbabwiër se armoede, in weelde geleef het.

“Dit wou in die afgelope tyd ook voorkom of die president se vrou reeds opgetree het asof sy die staatshoof is soos blyk uit die onlangse afdanking van Emmerson Mnangagwa, die gewilde adjunkpresident, op haar aandrang.

“Die situasie is in vele opsigte identies aan wat tans in Suid-Afrika afspeel. Hier is ook ʼn president wat homself as verhewe bo die reg beskou en wat hom omring het met kaders in hoë poste wat die land stroop terwyl werkloosheid hoogty vier en die ekonomie op die rand van ineenstorting is. Dit is hier ook duidelik dat die president indirek aan die mag probeer vasklou deur ʼn poging om sy gewese vrou tot president te laat verkies.

“Die VF Plus glo dat enige verandering in ʼn demokratiese bestel op ʼn demokratiese wyse moet plaasvind deur ʼn stemproses. Dit het oënskynlik nie in Zimbabwe gebeur nie, en die hoop word uitgespreek dat ʼn vrye verkiesing wel kan volg om ʼn nuwe staatshoof aan te wys.

“Intussen is dit in belang van Suid-Afrika en die hele streek dat die verwikkelinge vreedsaam verloop,” het Groenewald gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Eish ·

Lanklaas soveel opwinding in n week beleef met die boerbokke se spelpeil in lyn met die helhool se kleptokrasie.
Hul kan oom Bob maar bring. Met sy blijoene gaan hy die misdadigers minstens n jaar besig hou.

Vryheid ·

Die EFF rook iets, net so van hul sinne beroof soos hul oom bob. Mugabe is direk verantwoordelik vir die verwoesting van sy land net soos die anc is vir S.A…..

marlene ·

Excellent example of: ” If you abuse it, you loose it.”

Cor ·

Ek het iewers n gerug gelees Mugabe se dokters in Singapore kan niks meer vir hom doen nie, daar is n moontlikheid dat hy nie 2018 sal sien nie en as hy beweeg is dit met behulp van sy lyfwagte. Dit is ook blykbaar die rede hoekom me Genade probeer inklim as nuwe press.

msp ·

Lankal gewonder wanneer die bose man se dag sou kom. Laat hy nou op sy oudag voel hoe voel dit as as hy van sy “PLAAS” afgegooi word.

HPV ·

Geen asiel vir die Mugabes! Laat sy mense self met hom afreken, moet nie hul pret bederf nie. Dalk sit hulle hom in een van sy stinkende tronke.

Boet Fasie ·

Hoop Cell C op Robyneiland is skoon en vloere gepolitoer vir ons geagte Mugabe familie as hulle ons land besoek vir skuiling

Renier ·

Politieke asiel? Het ek reg gelees. Wie het die probleme veroorsaak? Laat hy bly waar hy is. As hy hiernatoe kom dan moet daar nog vir hom ook gesorg word . Laat hy en sy gevolg op een van die plase gaan bly wat kaal gestroop is. Tit for tat.

Renier ·

Het ek reg gelees. Politieke asiel. Hy het mos sy eie probleme geskep jare lank. As hy hiernatoe kom dan moet ons as belasting betalers nog vir hom ook sorg. Stuur hom dat hy in die bouval gaan bly van die plase wat geplunder is.

Ben ·

Dit het veel te lank geneem om tot daar te kom. Hoop nie hulle kom SA toe om te bly nie. Hou die Mugabes lekker daar in Zim en hul privaat rekenings moet gevries word sodat die geld terug gegee kan word aan die land en sy inwoners waaraan dit toe behoord.

Rabes ·

Indien die Mugabes hulle voete hier sit moet Grace gearresteer word vir die aanranding op die model

bgj van der westhuizen ·

laat hom bly daar dat hy sy straf kan kry wand hy is nie meer reg in die kop nie ons soek nie nog een van hulle in suid afrika nie ons het genoeg soos van hom hier

DAVID ·

Hy moet in sy land bly,hy alleen is verantwoordelik vir die swaarkry nou dat alles tot niet is wil hy vlug,bly in die gemors wat hy veroorsaak het saam met sy mense.hy moet ook swaarkry soos sy landgenote,ek het geen simpatie met hom nie

Sarie ·

Ons soek nie die ou seniel in ons land nie, hoe kan enigiemand eers daaraan dink om aan hom politieke assiel te verleen nie. Hier gaan hy vinnig sy lewe verloor hierdie is nie Zimbabawe nie

gert ·

Nooit, Nooit Nooit!!! Laat Mugabe en sy Grace bly waar hulle is en kry wat hulle toekom. Ons het genoeg kriminele in SA. Die EFF is so deurmekaar soos n bak slaai en weet steeds nie op watter stoel hulle wil sit nie!!

Marinda ·

Ons het reeds n komende diktator hier wat ook Sy vrou wil inbring in Sy plek pleks hy look and learn

A Mac ·

Laat hy gaan teer op ‘n ander land. Ons het klaar genoeg hande in ons eie land se cookie jar om hom ook nog hier toe te laat.

Snoekie ·

Ek dink oom BOB het reeds die emmer geskop en dit was bietjie onverwags en dis waaroor die geskarrel gaan en your Grace Namibie toe gevlug het….. sonder BOB

Engela Sinden ·

Nee nee nee!!!!!. geen Mugabe & kie hier nie… stuur Malema & kie liewer soontoe!!

SARIE VAN HEERDEN ·

Waar moet hy in SA kom rus” By een van die boere wat hy destyds van hul plase beroof het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.