‘Geen aanduiding iemand wou Anika doodmaak’, sê vriendin

Verslaggewers en belangstellendes Maandag (20 Augustus 2018) in die hof by die geregtelike ondersoek na die moord op Anika Smit. Foto: Phillip Bruwer

Die Pretoria-Noord-landdroshof het Maandag gehoor die 17-jarige Anika Smit het nie geweet haar lewe is in gevaar toe sy in 2010 in die noorde van Pretoria wreed vermoor is en albei haar hande afgesny is nie.

Die geregtelike ondersoek na Anika se moord is Maandag hervat. Die ondersoek sloer sedert September 2015 om te bepaal of daar genoeg bewyse is om iemand vir haar moord aanspreeklik te hou nadat die polisie se ondersoek in ʼn doodloop beland het.

Hanrika Beukes, tans ʼn sersant in die polisie se forensiese eenheid in Silverton, se getuienis is Maandag voortgesit nadat die ondersoek in Maart vanjaar tot vandag uitgestel is.

Beukes is ʼn jarelange vriendin van Anika en ken haar al van hul laerskooldae af. Sy was gereeld by die Smit-gesin aan huis. Sy en Anika was ook saam in Hoërskool Gerrit Maritz, maar nie in dieselfde graad nie – sy is twee jaar ouer as Anika.

Ten tyde van Anika se moord op 10 Maart 2010 in haar ouerhuis in Theresapark, was Beukes vyf maande swanger. “Die dag van haar moord was ek saam met my ouers by die Eugène Marais-hospitaal om ʼn 4D-skandering te laat doen,” het Beukes getuig.

Adv. Tania Carstens, staatsaanklaer, wou by Beukes weet hoe haar en Anika se verhouding was. “Ons was baie goeie en nabye vriende en het alles gedeel. Ons het min geheime en ʼn oop verhouding gehad en oor seksualiteit en vriendskappe gepraat. Ons het mekaar vertrou,” het Beukes getuig.

“Het Anika ooit ʼn aanduiding aan u gegee dat daar iemand was wat haar wou dood maak?” het Carstens gevra.

“Nee, sy het nie. As daar iets was sou sy dit beslis met my gedeel het. Ek het ook niks opgetel dat sy anders teenoor ander mense opgetree het as voorheen nie.”


Adv. Corrie Nieuwenhuys, Damian Treeby en André van Wyk in die hof (20 Augustus 2018). Foto: Phillip Bruwer

Die hof is ʼn lys gewys wat Anika opgestel het met mans se name. Beukes kon sekere van die name uitken en het onder meer gesê dit is Anika se ekskêrels en vriende op skool. Sy kon nie al die name op die lys identifiseer nie.

“Hoekom sou sy so ʼn lys opgestel het?” wou Carstens weet.

“Sy het nie in detail vir my enigsins iets daaroor gesê nie. Baie van my vriendinne het so ʼn lys gehad. Dit is name van mense met wie hulle in liefdesverhoudinge was of seksueel mee betrokke was. Dit is ʼn algemene praktyk onder meisies,” het Beukes geantwoord.

Die hof het gehoor hoe Anika en Beukes se vriendekring in ʼn stadium in 2006 by Beukes se huis gekuier het toe een van hulle vriendinne, Angelique van Niekerk, vir Anika met ʼn mes wou steek omdat Anika met Van Niekerk se ekskêrel by Beukes se huis opgedaag het.

“Sy [Van Niekerk] het gedrink voordat Anika en haar kêrel daar opgedaag het. Angelique was histeries daaroor en het die mes in die kombuis gegryp. Ek het egter met haar gepraat en haar kalmeer en sy is na ʼn kamer toe. Die res van die vriende het verder gekuier en Anika het op haar kêrel se skoot gesit. Angelique het later by ons aangesluit. Sy was baie rustiger en het om verskoning gevra en almal het vrede gemaak. Die twee het ná die voorval baie goeie vriende geraak en oor dié voorval gelag,” het Beukes getuig.

Anika is die dag van haar moord ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande wat afgesny is, is nooit gevind nie.

Haar pa, Johan Smit, het op haar geskende liggaam in ʼn plas bloed afgekom. Nico Venter, haar ekskêrel, is sowat twee maande ná haar dood in verband met haar moord in hegtenis geneem. Die aanklagte teen hom is egter ’n paar maande later teruggetrek. Venter word deur Anton van Staden verteenwoordig.

Anika Smit

Damian Treeby was destyds saam met Anika in Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria-Noord, maar in ʼn volgende graad. Hy was die dag van Anika se moord nie by die skool nie. Hy het glo in ʼn MXit-gesprek met ander skoolmaats daarvan gepraat om van iemand ontslae te raak en het krapmerke aan sy nek gehad. Treeby word deur adv. Corrie Nieuwenhuys verteenwoordig.

Smit, Venter en Treeby, asook Anika se ma, Charlotte Eksteen, is al vier belanghebbendes wat geroep is om in die geregtelike ondersoek te getuig. Eksteen word deur Arno Olckers verteenwoordig.

Die vyfde belanghebbende is André van Wyk, wat onder sy vriende as Smiley bekend staan. Hy het homself in September 2016 aan die polisie oorgegee in verband met Anika se moord. Hy het aanvanklik erken dat hy haar vermoor het, maar het kort daarna van deuntjie verander en gesê hy is deur onbekende mense gedreig om skuld te beken.

Hy was in aanhouding totdat hy uiteindelik op 30 Augustus 2017 vrygelaat is nadat die direkteur van openbare vervolging (DOV) besluit het om hom nie verder op aanklagte van moord, verkragting en lykskending te vervolg nie. Van Wyk is daarna ook as ʼn belanghebbende in die geregtelike ondersoek bygevoeg. Hy word ook deur Nieuwenhuys verteenwoordig.

Die saak duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jy mag dalk ·

Jy mag dalk wegkom met die moord op aarde, maar eendag sal jy voor ons Vader staan en dan kan jy nie wegjok of hol nie. Aan Anika se ouers weereens soos elke keer wat jul deur die hel gaan, ek hoop die ondersoek en dinge stop nou dat jul met jul lewens kan aangaan, ek weet dit is belangrik om te weet, maar dit gaan haar nie terugbring, glo my die moordenaar sukkel elke dag met die wete hy het dit gedoen.

TLC ·

Die arme kind moet nou tot ruste kom want solank haar moordenaar buite loop gaan niemand rus vind nie Nie eers haar ouers nie
Ek wil my nie indink wat hul moet deurgaan nie
Baie sterkte

Hannalene Greyling ·

Hoekom so baie jare. Daar word berig sy is seksueel aangerand. Weet die SAP van DNA.

Sputnik ·

Iewers is daar iemand wat sleg slaap en vorentoe nèt slegter gaan slaap en met depressie gaan worstel.

Antiestabliesment ·

Neewat, mense wat sulke dade pleeg het nie ‘n krummel gewete om hulle te pla nie. Al wat daai persoon dalk sal wakker hou is as nuwe inligting beskikbaar raak wat hom/haar dalk kan verbind.

kas ·

Geen DNA,geen vingerafdrukke en die honde was toegemaak.Dit was beslis iemand wat sy geken het.Sy het later goeie vriende geword met iemand wat haar met ‘n mes wou steek.Daar is iemand na aan Anika wat die moord gepleeg het en swyg.Daar is virseker met die moordtoneel gepeuter om ‘spore’ dood te vee.Hoe is Smiley gedwing;telefonies of in persoon.Is sy bewerings ondersoek.

kas ·

Sersant Beukes getuig dat sy nie weet van iemand wat Anika sou wou dood maak nie maar sy getuig dat Angelique Anika met ‘n mes wou steek en dit terwyl Anegelique gedrink het voor Anika en haar vriend by Beukes se huis opgedaag het.Angelique het vernederd en seergemaak gevoel en was deur drank aangevuur en wou Anika seer maak

kas ·

Treeby het krapmerke aan sy nek gehad.Wie se krapmerke was dit en is dit hoekom Anika se hande verwyder is om van die weefsel onder haar naels ontslae te raak.Is dit ook hoekom die honde toegemaak was. Ek bespiegel ook maar en probeer my nie slim hou nie.

Abe ·

Dit is vir my snaaks dat iemand erken hy het die moord gepleeg en die polisie vind nie genoeg getuienis om n saak te open nie. Ek was nog altyd onder die indruk dat n persoonlike skulderkentenis een van die sterkste bewyse teen n verdagte in son saak is. Dit behoort te geld selfs al trek hy later die skulderkentenis terug.

Biebie ·

Sjoe, die moordenaar/s is onder die polisie se neuse – een afwesig die dag van haar dood, met krapmerke aan sy nek en ‘n Mxit gesprek waarin hy sy hy moet van iemand onyslae raak. Die ander een het sommer skuld erken… Hoe laat hul iemand vry wat skuld erken het? Sjoe, iets is baie verkeerd met hierdie saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.