Geen aanklagte vir Moslem-seun met horlosie

Ahmed Mohamed (Foto: Twitter)

Ahmed Mohamed (Foto: Twitter)

Die polisie in Texas het bevestig dat hulle nie ʼn 14-jarige Moslem-seun gaan aankla nie nadat hulle hom in hegtenis geneem het toe hy ʼn tuisgemaakte horlosie skool toe geneem het.

Beamptes by MacArthur High School in Irving het die polisie ontbied omdat hulle gedink het die toestel is ʼn bom.

Ahmed Mohamed se inhegtenisneming het wye kritiek uitgelok en die seun het ʼn oorvloed van ondersteuning, insluitend ʼn uitnodiging van die Withuis, ontvang.

Ahmed het aan verslaggewers gesê dit is “baie jammer” dat sy onderwyser gedink het sy horlosie is ʼn bedreiging. “Ek het die horlosie gebou om my juffrou te beïndruk, maar toe ek dit vir haar wys, het sy gedink dit is ʼn bedreiging. Ek is jammer dat sy die verkeerde indruk gehad het,” het hy tydens ʼn perskonferensie gesê. Hy het ook aangedui dat hy van voorneme is om van skool te verander. Sy pa, Mohamed Elhassan Mohamed, oorspronklik van Soedan, het sy seun se behendigheid geprys. Hy het gesê Ahmed maak gereeld alles reg by die huis, selfs sy pa se selfoon en rekenaar. “Hy is ʼn baie slim, skrander seun en hy wou net homself aan die wêreld bewys,” het hy bygevoeg.

Die polisie ontken Ahmed is aangehou weens sy naam. “Ons het nog altyd ʼn uitsonderlike verhouding met die Moslem-gemeenskap,” het Larry Boyd, hoof van die polisie in Irving, gesê. “Voorvalle soos hierdie laat ons met uitdagings. Ons wil leer hoe ons vorentoe kan gaan en ʼn positiewe uitkoms kan hê.”

Ahmed se vingerafdrukke is geneem en hy is in boeie geplaas. Hy is vrygelaat nadat die polisie bevestig het die horlosie is nie ʼn bedreiging nie.

Onder die hutssleutel #IstandwithAhmed het duisende Twitter-gebruikers die seun se inisiatief vereer, insluitend wetenskaplikes van Nasa, Facebook-hoof Mark Zuckerberg en die Amerikaanse president Barack Obama.

“Cool horlosie, Ahmed. Wil jy dit na die Withuis bring? Ons moet meer kinders soos jy inspireer om van wetenskap te hou. Dit is wat Amerika so wonderlik maak,” het Obama op Twitter geskryf.

Die Raad op Amerikaanse-Islamitiese Betrekkinge het aangedui hy ondersoek die voorval.

Ahmed het gesê hy het die horlosie by die huis gemaak en skool toe gebring om sy ingenieursvernuf aan sy juffrou te wys. Die tuisgemaakte horlosie het ʼn stroombaanbord met drade wat na ʼn digitale vertoonhokkie lei.

Die ingenieursonderwyser was baie beïndruk, maar het hom aangeraai om nie vir ʼn ander onderwyser te wys nie. Volgens Ahmed het nog ʼn juffrou daarvan uitgevind toe die toestel tydens ʼn les gebiep het. “Sy het gesê dit lyk soos ʼn bom,” het hy verduidelik.

Die skool het in ʼn verklaring gesê hy moedig sy leerlinge en personeel aan om dadelik verdagte voorwerpe aan te meld.



ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bleek Sannie ·

Hahaha! Die merry cans raak paranoïes lyk dit mos vir my.

Peet Schabort ·

“Geen aanklagte vir” ? Eerder “Geen aanklagte teen” ?
Moslem of te not, hierdie was nie reg van die wetstoepassers om hom te boei. Dit was onnodig.

Gideon ·

Daardie onderwyseres het haar plig gedoen om die seun te rapporteer!! Vandag horlosie môre iets wat hele klas opblaas!! Die moslems soek vir die agterdog jeens hulle!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.