Geen afleggings vir twee jaar by Telkom

Grafika: businesstech.co.za

Grafika: businesstech.co.za

Telkom het in ʼn ooreenkoms met vakbonde onder andere onderneem dat werknemers vir die volgende twee jaar nie aan afleggings blootgestel sal wees nie.

“Die vakbond Solidariteit het verlede week ’n gunstige loonooreenkoms met Telkom bereik ná intense onderhandelinge die afgelope paar maande,” het Marius Croucamp, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir die kommunikasiebedryf, gesê. “Volgens hierdie ooreenkoms sal Solidariteit-lede ’n loonverhoging van 6% vanaf 1 April 2017 ontvang, terwyl hulle onder meer ook die waarborg kry dat hulle vir die volgende twee jaar nie aan afleggings blootgestel sal wees nie.”

Volgens Croucamp is die vakbond verheug oor die ooreenkoms aangesien dit voorsiening maak vir stabiliteit in die werksomgewing en werksekerheid aan sy lede bied.

“As ’n vakbond is ons tevrede met die wyse waarop vanjaar se onderhandelinge uitgedraai het. Oor die afgelope paar jaar moes ons lede by Telkom talle uitdagings die hoof bied en ons hoop hierdie ooreenkoms sal ’n nuwe era van arbeidsverhoudinge met Telkom inlui,” het hy gesê.

Die ooreenkoms bepaal ook dat Telkom die beplande uitkontraktering binne sy Openserve, Telkom-verbruikers en kleinbesigheidsentrum en Telkom se Korporatiewe Sentrum tot ’n maksimum van 1 000 mense sal beperk. Telkom het voorts ook die onderneming gegee dat daar geen gedwonge afleggings sal wees as ’n uitvloeisel van die beoogde artikel 197-oordrag na BCX toe nie.

Telkom sal egter steeds die huidige artikel 189-afleggingsproses, waardeur ongeveer 300 werknemers geraak word, afhandel.

Die ooreenkoms dek Telkom se 11 000 werknemers wat aan vakbonde behoort, uit ʼn totale aantal van net meer as 13 500 teen die einde van Maart 2016, maar sluit nie werknemers in Telkom se filiale soos Business Connexion of Trudon in nie. Telkom het tans ongeveer 12 500 werknemers.

Sipho Maseko, uitvoerende hoof van die Telkom-groep, het gesê hul omkeerstrategie het die maatskappy toegelaat om die onderneming te stabiliseer. “Die volgende hoofstuk van Telkom moet een wees van groei en groei vereis van ons om klante te lok en te behou.”

Die ooreenkoms sluit ook ʼn nuwe veranderlike aansporingsplan in wat fokus op klantetevredenheid en produktiwiteit. Volgens Telkom kan ʼn werknemer, wat sy doelwitte behaal, na verwagting tot 6% meer verdien as verlede jaar, danksy die “Performance Pays”-skema.

Telkom het Maandag berig sy mobiele afdeling, wat drie jaar gelede verliese getoon het van R2,2 miljard, het verstewig tot ʼn verlies van R43 miljoen in die jaar wat in Maart tot ʼn einde gekom het en breek nou op ʼn maand-tot-maand-basis gelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

GES ·

As Telkom geld het vir borgskappe behoort hulle ook geld te hê om hulle werknemers te betaal.

Ou Man ·

Hulle betaal mos. Niemand in Telkom werk verniet nie, hulle kry klokslag die 25ste van elke maand hulle salaris.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.