Geen antwoorde jare ná Boschkop-kleinhoewe-moorde

Francois Potgieter (links). Foto: Facebook.

Twee gesinne soek steeds antwoorde nadat hul geliefdes onderskeidelik twee en vier jaar gelede tydens aanvalle op kleinhoewes in die Boschkop-omgewing, oos van Pretoria, vermoor is.

Een gesin het ʼn pa, oupa en eggenoot, Francois Potgieter (59), op Saterdag 6 April 2013 tydens ʼn kleinhoewe-aanval verloor.

Maroela Media het vroeër berig vyf gewapende mans het die gesin omstreeks 03:00 op hul hoewe in Mooiplaats oorval. Potgieter is tydens die aanval doodgeskiet en sy dogter, Jacolien Stapelberg (toe 30 jaar oud), en skoonseun, Ferdinand Stapelberg (toe 33 jaar oud), is in hul bene geskiet en gewond.

Jacolien kon tydens die aanval daarin slaag om haar twee kindertjies na die badkamer te neem om hulle veilig te hou. Potgieter is in die bors geskiet toe hy sy vrou teen die aanvallers beskerm het. Hy is op die toneel dood. Die vyf mans het met sy selfoon gevlug.

Die Boschkop-polisie het ʼn saak van moord aanhangig gemaak vir ondersoek. “Tot dusver is daar geen leidrade wat kan lei tot die inhegtenisneming van ʼn verdagte nie,” het kapt. Marissa van der Merwe, woordvoerder van die Boschkop-polisiestasie, aan Maroela Media gesê. “Die saak is tans hof toe gestuur met al die bewyse wat ingesamel is. Dit word by die hof gereeld met ander sake nagegaan om te kyk of dit met die profiel van ander misdadigers verbind kan word. Die ondersoek duur voort.”

Jacolien het Vrydag aan Maroela Media gesê hulle het ʼn private speurder aangestel om ook die saak te ondersoek, maar dit het niks opgelewer nie. “Daar is nie woorde wat kan beskryf hoe ons voel met die wete dat sy moordenaars nog daar buite rondloop nie,” het sy gesê.

Nadia Treeby en Gavin Wolfswinkel. Foto: Facebook.

Die familie van Gavin Wolfswinkel (32) soek ook steeds antwoorde en het verlede week ʼn beloning uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming en geslaagde vervolging van die moordenaars van Wolfswinkel en sy kollega kan lei.

Dié beloning volg twee jaar nadat Wolfswinkel en Lucky Sithome (30), albei in die boubedryf, op 15 November 2015 koelbloedig op ʼn kleinhoewe in die Boschkop-omgewing vermoor is en niemand nog daarvoor aanspreeklik gehou word nie.

Wolfswinkel en Sithome, wat in afsonderlike huise op die kleinhoewe gewoon het, is dié Sondag omstreeks 19:45 deur drie gewapende mans doodgeskiet.

Die verdagtes het toegang tot die kleinhoewe gekry deur ʼn gat in die heining te knip. Die alarm het afgegaan en die twee slagoffers is deur die aanvallers verras en oorval toe hulle gaan ondersoek instel het. Wolfswinkel is in die kop geskiet en Sithome in die bors. Hulle is albei op die toneel dood. Die verdagtes het gevlug sonder om iets te buit.

Wolfswinkel  se verloofde, Nadia Treeby (nou 35), was tydens die voorval in die huis. Hulle sou 12 Desember 2015 getrou het. Lees meer hier.

Chnay Coetzer (née Wolfswinkel) (38), Gavin se suster, het gesê daar gaan nie ʼn dag verby dat sy nie oor haar broer huil nie. “Die verlange en hartseer word mettertyd erger. Ek mis hom so ongelooflik baie en woorde kan nie beskryf hoe dit voel om iemand vir wie jy lief is op so ʼn wrede manier te verloor nie,” het sy gesê.

“Die nagmerries is die ergste en dit hou nie op nie. Jy herleef daardie aand, daardie oproep, die gebeure, elke dag en aand oor en oor. My hart huil saam met elke liewe mens wat deur so iets moet gaan, dis ʼn moeilike pad!”

Coetzer het Vrydag aan Maroela Media gesê hulle het sedert die beloning uitgeloof is verskeie oproepe ontvang en die leidrade word opgevolg. “Ons sal nie ophou soek totdat ons weet wat gebeur het nie. Ons sal baklei totdat geregtigheid geskied,” het sy gesê.

Enigiemand met inligting wat die familie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om Coetzer by 079 522 1219 te bel. Alle inligting sal as hoogs vertroulik hanteer word en mense kan ook anoniem bly. Die familie het ook ʼn private speurder aangestel om met die ondersoek te help.

Twee sake van moord word in verband met hierdie voorval deur die Boschkop-polisie ondersoek. Van der Merwe het gesê tot dusver was daar ook geen leidrade wat tot inhegtenisnemings kan lei nie en die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leahim ·

Polisie is totale mors van belastinggeld hulle ondersoek altyd iets maar ek glo as daar statistieke was sou dit bewys dat die meerderheid onbevoeg is om hulle werk te doen die beste sou wees om hulle almal in die pad te steek en nuut te begin met mense wat trots en n passie het om te dien en te beskerm die klomp wat ons nou het is nuttelose belasting geld vermorsers

Pastoor ·

Dit is so onregverdig en bitter hartseer. God slaap nie Sy oë deurgrond hierdie aarde. Hierdie rowers verwoesters kan nou maar spog. Daar kom n dag en hulle sal verseker boed daarvoor

punte en kommas ·

aag kom nou Moeralas wil jille nie bikie leestekens aan van die lesers skenk ni.

Spelling ·

Wat help punte en kommas as jy nie eers kan spel nie ???

Chris Groenewald ·

Verbeel ek my of as ‘n nieblanke ‘n blanke vermoor, kry die polisie hom nie, maar vermoor ‘n blanke ‘n nieblanke, word hy binne 24 uur gearresteer ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.