Geen appèl vir Moyane ná afdanking

Tom Moyane (Foto: Sizwe Ndingane/ANA)

Die konstitusionele hof het Dinsdag Tom Moyane, afgedankte hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), se aansoek om verlof tot appèl teen sy afdanking, van die hand gewys.

“Die konstitusionele hof het sy aansoek om verlof tot appèl oorweeg en bepaal dat dit verwerp moet word, omdat daar geen redelike vooruitsig op sukses is nie,” het die hof gesê. “Die hof het besluit om nie ʼn kostebevel toe te staan nie.”

Die konstitusionele hof het op 26 November Moyane se aansoek, om die besluit oor die aanstelling van die Nugent-kommissie van ondersoek te hersien en tersyde te stel, van die hand gewys.

Moyane het appèl aangeteken by die konstitusionele hof ná pres. Cyril Ramaphosa aanbevelings deur die Nugent-kommissie aanvaar het om hom af te dank om sodoende stabiliteit by die inkomstediens te herstel.

Oudpres. Jacob Zuma het Moyane in sy appèlaansoek ondersteun. Hy het in ʼn beëdigde verklaring gesê dit was nooit sy bedoeling dat die SAID-kommissie van ondersoek indiensnemingskwessies of dienskontrakte van individuele werknemers moet hanteer nie.

Moyane het ontken dat hy enigiets verkeerd gedoen het en beskryf homself as “die mees suksesvolle SAID-kommissaris in die demokratiese geskiedenis van die land”.

Ramaphosa het Moyane op 1 November met onmiddellike effek afgedank as hoof van die SAID ná ʼn aanbeveling deur die Nugent-kommissie. Ramaphosa het skriftelik aan Moyane gesê die tussentydse verslag van die Nugent-kommissie “skets ʼn kommerwekkende prentjie van die huidige stand van sake by die SAID en die roekelose wanbestuur wat jou ampstermyn as kommissaris van die SAID gekenmerk het”.

Ramaphosa het afgetrede regter Robert Nugent in Junie as voorsitter van die kommissie aangestel om bewerings van wanbestuur by die SAID te ondersoek, insluitend ʼn tekort van R50 miljard aan inkomste tussen 2014 en 2018 onder Moyane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Verseker was hy die mees “suksesvolle kommu-saris” wat bygedra het dat miljarde Rande nie deur SARS ingesamel is nie deur nuwe prosesse in plek te plaas en oues wat gewerk het, te elimineer. Stuur hom terug vanwaar hy gekom het voor Sars!!!

Hanna Hoekom ·

Die arrogansie slaan mens dronk: Moyane reken hy was die beste SAID baas. Hlaudi reken hy was die beste SAUK baas. Zuma reken hy was die beste president! Wat het hierdie “susksesvolle” comrades in gemeen? KORRUPSIE.

Avra ·

Ek weet nie hoekom die konstutionele hof se tyd so vermors word nie. Geen appél is nog ooit daar gewen nie.
Yes Tom, you ruined a lot of people’s lives. Now karma is knocking on your door. Good bye and good ridden of…..

Avra ·

You have ruined a lot of people’s lives. So why are you crying? Tit for tat.

Dries du Toit ·

Hy is die oorsaak van derduisende klein besighede wat hulle deure moes toemaak

Db ·

Hy is die oorsaak dat baie besighede nie die gelde waarop hulle geregtig was teruggekry het van SAID nie. Nou wag ons nog in spanning om te sien wanneer e-file gaan “crash” omdat daar niks aangedoen was tydens sy wonderlike werk nie. Hy bly ‘n klont en is verlief op homself. Kyk ook seker elke oggend in die spieël voordat hy loop en sê: “hallo pragtig”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.