‘Geen aptyt’ vir moeilike begrotingsbesluite

Enoch Godongwana, minister van finansies. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Ná die bekendmaking van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) is dit duidelik dat minister Enoch Godongwana geen aptyt het om moeilike besluite te neem nie, veral nie met ʼn nasionale verkiesing om die draai nie.

Kenners meen as dit op hierdie trant voortduur, gaan Suid-Afrika op ʼn nóg ernstiger finansiële krisis afstuur, wat nie maklik ná die verkiesing omgekeer kan word nie.

Godongwana het hom vroeër vandeesweek weerhou van belangrike besluite rondom enorme begrotingstameletjies, toe hy die MTBR bekend gemaak het. Hy het wel onthul dat die staat se begrotingstekort met R54,7 miljard toegeneem het.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê die finansiële penarie wat Godongwana blootgelê het, het ʼn “realistiese maar kwesbare fiskale prentjie” van Suid-Afrika geskets.

“Hoewel dit dalk onvermydelik was dat die MTBR openbare skuld sou toelaat om nog verder te styg, moet dit gesien word as ʼn tydelike maatreël wat deur toepaslike ekonomiese stappe reggestel moet word,” sê Parsons. Hy sê egter die begrotingsrede maak geen melding van hoe juis dít gedoen sal word nie.

Kim Silberman, ekonoom en makrostrateeg by Matrix-fondsbestuurders, meen Godongwana se toespraak het gewys dat die nasionale tesourie sy bes doen om toenemende politieke druk om besteding te verhoog, teen te werk.

Sy sê Godongwana het nie doekies omgedraai toe hy sê Suid-Afrika se fiskale situasie is “onvolhoubaar” en die regering se besteding “onproduktief” nie.

Die ekonoom Dawie Roodt stem egter nie saam nie en sê dit is vir hom duidelik dat daar min politieke wil is om die land se finansiële situasie om te keer.

“Om die situasie te beredder is dit nodig om ongewilde besluite te neem, wat Godongwana nie in hierdie stadium bereid is om te doen nie.”

Roodt sê die rede hiervoor is volgens hom dat die verkiesing om die draai is.

“Godongwana se eerste prioriteit lê by die ANC, nie die land nie. Sou hy besteding op sekere gebiede besnoei of harde besluite neem, gaan sy plek in die regering in gedrang wees.”

Roodt meen baie ANC-kaders wil graag herverkies word om toegang tot die staatskas te hê.

“ʼn Minister van finansies wat die geld minder maak, word egter nie weer verkies nie en dan is daar boonop nog minder geld om te verkwis.”

Hy het ook nie veel hoop dat die ANC ná die verkiesing, indien die party nog aan bewind is, wesenlike planne gaan maak om die land se finansies te red nie.

“Dit maak nie saak wat in die begroting staan nie, as die ANC ná die verkiesing weer aan bewind kom, sal ons nie die skip kan omdraai nie.”

Godongwana het in sy toespraak gesê die doeltreffendste manier om die regering in dié stadium te befonds is om die belastingbasis te verbreed.

Deur dit te doen plaas Godongwana homself egter in ʼn politieke dilemma, sê Roodt.

“As meer mense belasting moet betaal, beteken dit meer armer mense sal moet opdok [wat daartoe kan lei dat hulle hul steun aan die party onttrek]. Werklike verbreding gaan dus polities nie goed afgaan nie.”

Eerder as dat geld van belastingbetalers ingevorder word, meen Roodt daar moet gesnoei word aan beskermingsdienste vir “kwasi-belangrike mense”.

Hy sê die Covid-19- maatskaplike hulptoelaag van R350 per maand, wat met nóg ʼn jaar verleng is, sal veel verder strek as die miljarde rand wat aan die polisie se BBP-beskermingseenheid spandeer word.

Min woord óf daad

Al die ekonome is dit eens dat ʼn duidelike fiskale plan om tekorte en staatsbesteding mettertyd te verminder nog ontbreek.

Silberman sê die tesourie sal teen 2025 ʼn besluit móét neem oor hoe om die besteding op onder meer maatskaplike toelaes en gratis basiese dienste-voorsiening, te beperk “anders sal Suid-Afrika toenemend onortodokse en ingrypende maatreëls moet instel om staatskuld aan bande te lê.”

Roodt sê Godongwana sal reeds by die volgende begrotingsrede in Februarie verantwoording hieroor moet doen.

“Ek vermoed die minister gaan soos ʼn kat op ʼn warm plaat rondtrippel. Hy sal bepaalde moeilike besluite nie verder kan uitstel nie.”

Een van die belangrike elemente waaraan Godongwana volgende jaar sal moet aandag gee, is volgens Roodt die feit dat plaaslike regerings finansieel in duie stort.

Eskom het R254 miljard se skuldverligting oor die volgende drie jaar aan byna 30 munisipaliteite toegestaan.

“Hy gaan moet sê wat sy plan is hiermee, asook met Transnet en al die ander sukkelende staatsinstellings. Waar gaan al hierdie geld vir reddingsboeie vandaan kom?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.