Geen barmhartige samaritaan vir gewapende rower

(Foto: Reaction Unit South Africa/Facebook)

ʼn 32-jarige man, wat deur ʼn vragmotor omgery is, het ure lank langs die pad gelê sonder dat verbygangers hom gehelp het. Hulle het hom herken as ʼn veroordeelde gewapende rower.

Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), sê die organisasie is Donderdagmiddag net voor 16:00 ontbied na die R102 tussen Verulam en Canelands in KwaZulu-Natal.

“Rusa-beamptes en ʼn paramedikus het die man tussen die noordelike en suidelike bane aangetref. Hy het aan beamptes gesê die vragmotor het hom al vier ure vroeër omgery. Die vragmotorbestuurder het van die toneel gevlug.”

Volgens die beseerde man het die gemeenskap geweier om hom te help toe hulle hom uitgeken het as ʼn veroordeelde gewapende rower. Hy was sewe jaar gelede die bestuurder van die wegkomvoertuig tydens ʼn misdaad in Riverview. Hy is 15 jaar tronkstraf opgelê en is in 2022 op parool vrygelaat uit Westville-gevangenis.

“Voetgangers het die man sedert 12:00 geïgnoreer toe hy hul bystand versoek het. Iemand wat hom ken het hom uiteindelik na ʼn ligging nader aan die sakedistrik geskuif en Rusa se hulp ontbied.”

Die man se been is gebreek en hy het verskeie ander beserings opgedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.