‘Geen beampte moet met vuurwapen in die hand sterf’ – Cele

Konst. Marven Maphoro is verlede Donderdag vermoor toe hy op ʼn OTM-rooftog by ʼn vulstasie in Gauteng gereageer het.

Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, het Suid-Afrikaanse polisiebeamptes Saterdag aangemoedig slaankrag te gebruik wat verband hou met die bedreiging wanneer hulle aangeval word.

Hy het dié opmerking by die begrafnisdiens van een van twee polisiebeamptes gemaak wat die afgelope twee weke aan diens vermoor is.

Konst. Marven Maphoro is verlede Donderdag vermoor toe hy op ʼn OTM-rooftog by ʼn vulstasie in Gauteng gereageer het.

Nog ʼn konstabel, Sphesihle Cele, is op 16 November in Empangeni in KwaZulu-Natal doodgeskiet toe hy en sy kollegas na ʼn taverne ontbied is waar ʼn persoon met ʼn vuurwapen opgemerk is. Cele is deur die verdagte doodgeskiet voordat ander polisiebeamptes die verdagte doodgeskiet het.

Konst. Sphesihle Cele is op 16 November in Empangeni in KwaZulu-Natal doodgeskiet. Hy is Saterdag begrawe. (Foto: SAPD)

Dié jong lid van die polisie se openbare orde-eenheid was in sy eerste diensjaar. Hy was 26 jaar oud.

“Moenie huiwer om die hulpbronne te gebruik wat aan jou gegee is om jouself en jou gemeenskap te verdedig nie.

“Moenie huiwer nie om slaankrag te gebruik wat verband hou met die bedreiging wanneer julle aangeval word – gemeenskappe maak op julle staat vir beskerming,” het Mathale by Maphoro se begrafnisdiens gesê.

Mathale het die begrafnisdiens saam met genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, bygewoon.

Terselfdetyd het Bheki Cele, minister van polisie, in ʼn lofrede by die diens van Sphesihle Cele gesê hy is uiters ontsteld oor die moord op polisiebeamptes in die land.

“Ons is geskok dat ongeveer tien polisiebeamptes sedert April elke liewe maand vermoor is – almal aan die hande van misdadigers.

Konst. Sphesihle Cele is op 16 November in Empangeni in KwaZulu-Natal doodgeskiet. Hy is Saterdag begrawe. (Foto: SAPD)

“Hierdie kriminele waag dit om die polisie aan te vat en wys daarmee dat hulle bereid is om enigiemand uit te wis ter wille van hul gierigheid. Daarom sal ek voortgaan om die polisie aan te moedig om vuur met vuur te beveg wanneer hul lewens in gevaar is. Geen beampte moet ooit met ʼn vuurwapen in sy hand sterf nie.”

Masemola sê beamptes sal voortdurend toegerus en bemagtig word om misdaad te beveg.

“Die doodmaak van beamptes sal ons nie afskrik nie, maar eerder verder motiveer om ons pogings in die misdaadstryd te verskerp.

“As bestuur bly die bemagtiging van ons lede topprioriteit. Ons sal voortgaan om toe te sien dat ons lede takties opgelei is en voldoende hulpbronne het om gemeenskappe te beskerm.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Roek ·

OPLEIDING, mnr CELE, OPLEIDING!!!!!! Dink u regtig die moordenaars skrik vir dit , hul sien dit as n, uitdaging !!
Jammer vir die lede !

Johan ·

Daar is nie meer veel respek vir die polisie nie en misdadigers is lankal nie meer bang vir die manne & vroue in blou nie. En ons weet almal wat die redes is. Maar nou ja, n snoek vrot mos van sy kop af… Alhoewel, hierdie keer is ek geneig om met Cele saam te stem dat geen lid met n wapen in die hand behoort te sterf as hy of sy aangeval word nie.

Di ·

Nou moet CELE weet hoe voel ons as landsburgers al wat DAAGLIKS familie en vriende het wat afgemaai word in hierdie kriminele land. Innige meegevoel aan die familie en vriende van hierdie beampte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.