Geen belastingopstand aan die kom, sê Gigaba

Malusi Gigaba, minister van finansies (31 Oktober 2017). Foto: ANA

Malusi Gigaba, minister van finansies, voorsien nie ʼn moontlike belastingopstand deur Suid-Afrikaanse burgers wat keelvol is vir korrupsie en die regering se swak bestedingsgewoontes nie.

“Ons sal in opstand kom teen diegene wat in opstand kom teen belasting betaal,” het hy Dinsdag tydens ʼn sakeontbyt in Umhlanga gesê. Die sakeontbyt is gehou kort nadat Gigaba sy mediumtermynbegrotingsraamwerk in die parlement gelewer het.

Gigaba het gesê vrae oor ʼn moontlike belastingopstand toon ʼn onderliggend pessimistiese houding teenoor die land se ekonomie. Die minister het beklemtoon almal is verplig om belasting te betaal. “[Belastingopstand] is ʼn slegte boodskap om te kommunikeer. Die rede hoekom ons ʼn groot inkomstetekort het, is duidelik weens die ekonomie wat swak presteer.”

Gigaba het gesê daar is uitdagings met belastingadministrasie, maar dit word wel aangeraak. “Die kwessies wat deur die belastingombudsman geopper is oor belastingterugbetalings wórd aangepak.”

Hy het gesê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het vantevore vergelykbare belastinginvorderingsvaardighede gehad, maar moet die kapasiteit verhoog in afdelings wat onwettige finansiële vloei, winsverskuiwing en korporatiewe inkomstebelasting hanteer.

Gigaba het gesê Suid-Afrika het een van die hoogste belastingnakomingskoerse in die wêreld en Suid-Afrikaanse burgers is oor die algemeen meer gewillig om belasting te betaal as Amerikaners.

Oor die kwessie of die regering Suid-Afrika ʼn beleggersvriendelike land maak, het Gigaba gesê Suid-Afrika het ʼn sterk finansiële sektor, sterk regbank en Grondwet, ʼn jong bevolking wat wil werk en wêreldklas-infrastruktuur.

“Mynbeleggings is veilig omdat hulle nie onderwerp sal word aan skielike of ad hoc- onwettige uitskakeling nie,” het hy gesê. Die land se infrastruktuur is ʼn trekpleister, soos gesien kan word deur die kragopwekking op die kontinent.

Volgens Gigaba is die hele Suider-Afrika “redelik stabiel” en ontvang nie genoeg erkenning hiervoor nie.

“Ek sê dit nie as ʼn bespotting teenoor ander streke van die kontinent nie. In die noorde van Afrika weet julle wat die uitdagings is. In die sentrale gedeelte, in die ooste en in die weste weet ons wat die uitdagings is. Suider-Afrika is redelik stabiel en dit behoort aanloklik te wees vir enigiemand wat in dié gebied wil belê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

snoefie ·

dan moet hy sy opstand begin by die straatsmouse en taxibase wie niks belasting betaal nie.

Chekoree ·

Haha Gigaab blaas borrels, want die Zuptas het reeds miljarde landuit sonder om belasting te betaal!

Adam ·

In die kol!!. Hy behoort eintlik ‘n Gupta en Zuma afdeling op die been te bring om onwettige geld-vloei te beheer. SA is nog “redelik stabiel” vanuit ‘n beleggings-perspektief gesien maar dit Mnr Gigaba, is nie agv jou wonderlike bestuur van jou departement te danke nie.

Leahim ·

Dan beter die mannetjiemet die snaakse pak begin oefen want dit kom goueras wat hy dink

John ·

Natuurlik nie… want 2/3’s betaal reeds nie en dan sink die ekonomie ook nog dieper die moeras in. Dis ‘n vreemde kerel… ons nuwe minister… ‘n siener, ‘n wysgeer en ‘n engel van elders… Ons het reeds dr’s wat sonder grade praktiseer, so ook prokureurs, advokate, onderwysers, ministers en vele taxi-bestuurders sonder lisensies. Gelukkig is ons minister van finansies goed onderle in ekonomiese afgraderingsake. Gee hom ‘n kans.

Ruan ·

“Suid-Afrika het een van die hoogste belastingnakomingskoerse” – Nou ja Gigaba… dit is oppad om verander te word. Jy, jou president en sy kabinet het nou genoeg van ons gesteel. Ons is ook gatvol om hofsake oop te maak om te baklei teen ‘n “stonewall”. Ons draai die tafel nou om, nou gaan julle maar moet hofsake oopmaak teen elke landsburger en besigheid. En ons gaan dit vir julle uit-rek totdat julle niks geldjies meer oor het om petrol in daai luukse Duitse motortjies in te gooi nie.

marous ·

Hy weet wat die gevolge gaan wees. Dit beter vinnig gebeur.

Fjc ·

Die opstand sal nie gebeur as die ANC ophou steel en Jacob Zuma sy R 63 miljoen belasting rekening betaal nie. Klaarblyklik het hy die afgelope 4 jaar nog nie ‘n opgawe ingedien nie

TDW ·

“Suider Afrika is redelik stabiel”
Hoekom? Want ons het puik infrastrukture gehad, wat natuurlik nou in die afgrond bestuur word. Almal sien die waarheid. Die goewerment het ‘n eerste klas land in ‘n derde klas land verander. Mense wat moet belê, wag net vir die land om deur ‘n beter party oorgevat te word.

leon ·

Daar word gereeld beweer dat die witmense die ekonomie besit dan is dit waarom ons n goeie belasting betaal syfer het.maar vir hoelank

Leeann ·

Wel ek persoonlik voel ons kry geen diens vir die hoë belasting wat ons betaal nie, en ons werk ons vrek om julle te support!!! Ons kan dan seker besluit wat ons met ons geld wil doen!!!

Oom ekonoom ·

Is belastingopstand nie die laaste uitweg nie, want die politici verbreek wette en doen niks aan korrupsie nie?

Ina du Plessis ·

Oeps, en daar raak dié voorstel aan sy sak (of moet ek sê rykdom) en daar ís reaksie.

Jho ·

Ek stem stop belasting betalings gaan hul die hele Suit Afrika in die tronk kan sit

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.