‘Geen berou’ by man wat erken hy wou hond doodslaan

Die Pitbull wat met die panga geslaan is (Foto: Bloemfontein SPCA)

Waarskuwing: Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

ʼn Saak van dieremishandeling is teen ’n man van Heidedal in die Vrystaat aanhangig gemaak nadat hy erken het dat hy ʼn hond met ’n panga geslaan en daarna aan die brand gesteek het. Die hond moes intussen van kant gemaak word weens die ernstige aard van sy beserings.

Die DBV het verlede Dinsdag ’n oproep ontvang omtrent ʼn man wat ’n pitbull in die straat met ’n panga geslaan het. By die inspekteurs se aankoms op die toneel het ’n omstander reeds tot die hond se redding gekom en die dier na die DBV geneem. Die inspekteurs het die man daar aangetref en hom gekonfronteer.

“Ons het die man gevra wat gebeur het en hy het vertel dat die eienaar met sy hond, wat ’n leiband aangehad het, in die straat gestap het. Hy het verduidelik dat hy nie daarvan gehou het hoe die eienaar met sy hond spog nie. Hy sê hy hou ook nie van pitbulls nie,” sê Duan Matthee, ʼn inspekteur van die DBV in Bloemfontein.

“Hy het toe sy panga geneem en die hond ’n paar keer geslaan. Hy het erken dat hy die hond wou doodslaan. Hy het daarna vloeistof oor die hond uitgegooi en aan die brand gesteek.”

Volgens Matthee het die man geen berou vir sy dade getoon nie, het hy glo gesê dat honde monsters is en dat hy al die honde in die straat sal doodmaak.

Die hond is na ʼn veearts gehaas en was volgens Matthee in ʼn bedenklike toestand. Die dier is intussen noodgedwonge van kant gemaak.

“Ons moes ’n einde aan sy lyding maak,” sê Matthee.

Die DBV het die volgende oggend ʼn saak van dieremishandeling teen die vermeende oortreder aanhangig gemaak. Hy is reeds in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Misky ·

Ek kan nie glo wat ek lees nie!!!! Die man is siek, siek siek in sy kop en hoop hy word baie hard gestraf en sien nooit weer die buitekant van ‘n tronk nie.

Althes ·

Dis onvergeeflik en uiters boos. As iemand dit aan ñ dier doen, kan hy dit aan ñ mens ook doen.
Hy moet permanent uit die samelewing verwyder word.

JohanR ·

Wat is dit met van die SA mensdom en diere? Net in 2021 was daar al ‘n paar berigte oor die slegte behandeling van honde. Wat het met die man gebeur wat ‘n hond soe sleg geskop het dat hy sy mond oopgeskeur het, en die hond ‘n oog verloor het. Ander een waar ‘n hond met ‘n stuk plastiek geslaan is. Gebeur daar ooit iets met die mense?

Margaret ·

n Land vol dieremishandelaars en moordenaars. Erge mishandling word landswyd elke dag gepleeg.

Neelsie ·

Dis egter opvallend dat die afgelope aantal voorvalle waaroor berig is vernaamlik in die Vrystaat plaasgevind het. Veral in Bloemfontein en omgewing. Wat besiel die mense???

Misky ·

Ek het al dieselfde opgemerk Neelsie. Of daar is net baie siek mense daar of hulle DBV meld net die sake altyd aan en die res swyg

Esme ·

Ek het ‘n hondjie aangeneem wat blootgestel was, aan die slegtigheid van mense. Vir die eerste keer in haar lewe, ervaar my dogtertjie aanvaarding. Sy is byna 3 jaar oud en na 6 maande sukkel sy steeds met nagmerries. Stuur dieremishandelaars tronk toe en vergeet van hulle.

Jessica ·

Wie loop met n panga en brandstof in die straat af?? Goeie hel… gaan stap met jou hond … en dan word die vierbeen kind seergemaak. Die man is siek in sy kop. Gaan krap bietjie in sy geskiedenis… daar hang beslis geraamtes in sy kas!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.