‘Geen berou’ ná agtjarige se verkragting

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn 32-jarige man is in die Botshabelo-landdroshof in die Vrystaat lewenslange tronkstraf opgelê vir die verkragting van ʼn agtjarige meisie.

Landdros Motshidisi Khuduga het Lehlohonolo Paulus Rampolong skuldig bevind en gevonnis vir die verkragting wat op 20 Januarie 2022 plaasgevind het.

“Die meisie het saam met haar maatjie in die bure se erf gespeel toe Rampolong haar geroep het om vir haar geld te gee. Sy het na hom toe gegaan en hy het vir haar gesê sy moet saam met hom na sy huis toe gaan. Sy het ingestem,” sê Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). “Toe hulle by sy huis aangekom het, het hy haar na sy slaapkamer geneem en haar verkrag.”

Die meisie het haar ma vertel wat Rampolong gedoen het toe sy by die huis aankom. Die polisie is ontbied en Rampolong is in hegtenis geneem.

“Rampolong het in die hof alles ontken. Hy het gesê hy was die betrokke dag saam met ʼn vriend, maar het versuim om sy vriend te vra om vir hom te getuig. Die hof het die vriend gekontak en hy het gesê hy was die vorige dag saam met Rampolong, nie die betrokke dag van die voorval nie.”

Staatsaanklaer Nokutula Ndwandwa het ter verswaring van vonnisoplegging ʼn slagoffer-impakverslag aan die hof voorgehou. Die ma van die slagoffer het gesê haar dogter se gedrag het heeltemal verander ná die voorval. Sy speel nie meer saam met haar maatjies nie, en baklei ook nou gereeld met ander skoliere. “Haar lewe is vir altyd verander. Sy het nooit verwag die beskuldigde sou só optree nie, want sy het hom vertrou,” het Ndwandwa aan die hof gesê. “Sy het verwag dat hy haar sou beskerm, nie dat hy haar sou seermaak nie. Die beskuldigde kom hof toe en ontken alles, selfs te midde van oorweldigende bewyse teen hom. Hy toon geen berou nie. Hy kan nie enige stawende of oortuigende omstandighede wys dat die hof van die minimum voorgeskrewe vonnis moet afwyk nie. Ek versoek gevolglik dat die hof lewenslange tronkstraf sal oplê.”

Landdros Khuduga het Rampolong gevonnis en bepaal dat sy naam in die register vir seksuele oortreders aangeteken moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mariana ·

Dankie aan die regter wat die skarmunkel gesien het vir wat hy is. Kindermolesteerder. Hoe kan ‘n volwasse man dit aan ‘n kind doen? Mag hy nooit weer ‘n ordentlike nag se slaap kry nie. Hoop sy lewe is ook verwoes nes hy die kind se lewe verwoes het

Nettie ·

Ek is so verskriklik jammer vir die dogtertjie, haar ma en familie. Dis verskriklik. Mag God haar genees en die trauma help verwerk. Dankie tog die skuldige is gevang en gevonnis. Lewenslank is amper nie eers goed genoeg vir sulke gemors nie.

Danie ·

Kyk as n kind wat nie eintlik na homself of haar kan omsien nie mishandel of verkrag word dan kook my bloed.Ek vra weer waar is die ouers of voogde jy hoor altyd hulle alleen gespeel waarookal.Kastreer die vuilgoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.