Geen berusting maande ná Downsindroom-kind se hospitaaldood

Rene Andrews.

Byna vier maande ná ʼn 15-jarige meisie van Eldoradopark in Johannesburg ʼn eensame dood in die Helen Joseph-hospitaal gesterf het, het haar gesin nog nie ʼn woord terugvoer oor die beloofde ondersoek daarna ontvang nie.

Maroela Media het verlede jaar berig Rene is op 9 Augustus vir ʼn longinfeksie in die hospitaal opgeneem. Weens Covid-19-beperkings kon haar ouers, Colin en Jasmine, haar nie in die hospitaal besoek nie. Hulle het die hospitaal deurlopend gebel om terugvoer oor Rene se toestand te kry en is herhaaldelik verseker dat haar toestand goed is.

Toe Rene se suster, Venash, op 9 Oktober ʼn pakkie by Rene wou gaan aflewer, was daar egter geen spoor van haar sussie nie. Die gesin is ingelig dat Rene glad nie ʼn pasiënt by die hospitaal is nie en hulle is glo aangesê om self deur die hospitaal na haar te soek.

Dit het egter aan die lig gekom dat Rene reeds op 27 Augustus dood is en haar gesin eers 45 dae ná haar dood daaroor ingelig is. Hoewel sy aanvanklik in die kindersaal van die hospitaal opgeneem is, is Rene oënskynlik na ʼn vrouesaal oorgeplaas.

Omdat Rene ʼn geruime tyd in die lykshuis was voordat haar gesin haar liggaam kon identifiseer en opeis, is hulle aangeraai om eerder nie na haar liggaam te kyk nie.

Die destydse LUR vir gesondheid in die provinsie, Jacob Mamabolo, het beloof dat ʼn ondersoek na die verloop van gebeure gedoen sal word.

Byna ses maande later, terwyl haar gesin steeds steier onder die verlies, het hulle nog geen terugvoer van die departement ontvang nie.

Charis Pretorius, medestigter van die Caitlin Douman-stigting en die familie se woordvoerder, sê dit gaan nie goed met Rene se gesin nie. Hoewel die departement berading aan hulle aangebied het, moes dié berading by die Helen Joseph-hospitaal ondergaan word – en hulle het bloot nie kans gesien om weer na die plek van hulle kind se dood terug te keer nie.

Pretorius sê Rene se ouers hanteer alles dag vir dag – en dit gaan nie elke dag ewe goed nie.

“Kersfees veral was nie maklik nie. Hulle sien nou hoe al die kinders terugkeer skool toe. Rene moes saam met hulle teruggaan skool toe. Dis regtig moeilik vir hulle.”

(Foto: Timothy Bernard/ANA)

Daar het oënskynlik ook dadels van die departement se beloofde ondersoek na hulle geliefde dogter se dood gekom. ʼn Nuwe LUR vir gesondheid is boonop sedertdien aangestel.

“Rene se ouers kry geen afsluiting nie. Ons kry geen terugvoer van die departement van gesondheid nie,” het Pretorius gesê.

Hulle het intussen ʼn prokureur genader om te help om die departement te dwing om antwoorde te verskaf – terwyl Rene se ouers net kan hoop dat dieselfde lot nie ʼn ander ouerpaar tref nie.

“Dit is werklik ontstellend dat die departement op hierdie manier optree. Die stilte aan hulle kant is oorverdowend. Wat ons betref, was dit ʼn onregmatige sterfte en die manier waarop hulle Rene se dood hanteer het, was uiters nalatig.

“Jy weet nie of jou kind weer huis toe kom as jy haar in ʼn staatshospitaal laat opneem nie.

“Al wat hierdie gesin wil hê, is berusting. Hulle kan dit egter nie kry sonder om te weet wat met hulle kind gebeur het nie. En die staat gee net nie om nie.”

Maroela Media het die Gautengse departement van gesondheid om kommentaar gevra, maar geen terugvoer ontvang nie.

Pretorius sê hulle eis antwoorde en gaan nie rus voor die regering en sy verskillende departemente vir die pligsversuim wat betref mense met gestremdhede aanspreeklikheid aanvaar nie.

Hulle eis onder meer om te weet waarom Rene van ʼn kinder- na ʼn vrouesaal oorgeplaas is, hoe dit moontlik is dat niemand geweet het waar ʼn kind met spesiale behoeftes in die hospitaal is nie, hoe dit moontlik is dat haar ouers eers 45 dae ná haar dood daaroor ingelig is, asook hoekom die departement nou oënskynlik net van die gebeure vergeet het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Hoor nou al die antwoord ” Covid vertraag die ondetsoek”
Ondersoek moet nie net na die voorval gefoen word nie.
Ondersoek moet ingestel word na die aanstelling en kwalifikasie van Hospitaslbestuurfer sowel as Hospitaal raa, indien daar so iets was.

Anel ·

Om vandag hospitaal toe te gaan is ‘n baie groot risiko. Jy mag geen besoekers ontvang nie en jy kan “onverklaarbaar” doodgaan en dan word die skuld op die virus gepak. En dan kan daar ook geen nadoodseondersoek gedoen word nie. Voel so jammer vir hierdie familie. En hie onmenslik moet jy wees om ‘n gedtremde kind se ouers weier om by hom te wees, maak nie saak vir watter rede nie! Hoe vreesbevange moes die arme kind nie gewees het nie! Die gesondheidsminister moet verantwoordelik gehou word. Stetkte aan die familie. Niks sal ooit julle dogter terugbring nie. Hoop net julle kry antwoorde.

Salome ·

Ek voel dat daar n baie strenger keuringsproses moet wees vir verplieërs. Jy moet liefde en empatie met jou medemens hê. In vandag se hospitale maak hulle net getalle vol. Enigeen kan n verplieër word. Dit is hoekom siek, weerlose mense aan hulle eie genade oorgelaat word, want dit is emosielose, gewetenlose mense wat na hulle moet omsien en nou maak die Covid reëls dit vir hulle almal nóg makliker om met moord weg te kom. My man is 7 maande terug oorlede in die N17. Hy was 46. Covid. Het hom n hele week lank self verpleeg by die huis. Toe die suurstoftelling in sy bloed minder word ten spyte van die suurstof masjien waaraan hy gekoppel was, het ek die ambulans laat kom. Skaars 2 ure later is hy oorlede. Hy was net eenkant in n hoek ingedruk. Geen suurstof. Geen longmasjien. Hy was dood voor ons kon groet. Hyt nie eers sy foon by hom gehad om te bel vir hulp nie. Hy was blou in sy gesig en sy mond was skeef getrek. As ek tyd kon terugdraai het ek nooit die ambulans laat kom nie!!!!

Magda G ·

Dis bitter hartseer maar die personeel het geen selfrespek gehad nie. My hart gaan uit na die gesin???????? Kom dit by salarisse wat nie verhoog word vlg hulle eise nie dan word dit “gestrike, toi-toi” en n geskreeu.

Gert ·

Julle gaan nooit iets hoor nie want almal is blind en doof. Niemand sien of hoor iets nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.