Geen beurtkrag die naweek

Argieffoto

Geen beurtkrag word dié naweek verwag nie, aangesien Eskom genoeg opwekkingskapasiteit het om aan die vraag na krag te voldoen, sê die kragreus in ʼn verklaring. Noodreserwes is ook beskikbaar, sou bykomende opwekking nodig wees.

“Drie van ons eenhede het Vrydag ophou werk, maar ons kon een daarvan weer in werking stel. Gevolglik moes ons ons gasturbines sowel as ons pompstoorskemas aanwend om in die vraag na elektrisiteit te voorsien,” sê Eskom. “Alle noodkragopwekkers is egter gereed om krag oor die naweek te verskaf sou dit nodig wees.” Eskom verwag ook dat sommige van die eenhede wat Vrydag die gees gegee het, weer Saterdag sal werk.

Teen Vrydag 17:00 was die stelsel steeds onder druk weens onbeplande kragonderbrekings wat 11 431 MW verlore laat gaan het. “Ons sal voortgaan om die stelsel te monitor, maar vra dat verbruikers elektrisiteit spaarsamig sal gebruik.”

Intussen het die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Lebogang Maile, die VF Plus in ʼn amptelike brief verseker hy sal alles in sy vermoë doen om te sorg dat die Mogale City-munisipaliteit sy afbetalingsooreenkoms met Eskom nakom.

Eskom het vandeesweek in ʼn koerantkennisgewing aangedui dat Krugersdorp en omliggende gebiede se elektrisiteitstoevoer vanaf 19 Maart verminder of onderbreek gaan word. Die stap volg nadat Mogale City nie sy afbetalingsooreenkoms met Eskom nagekom het nie. Mogale City (Krugersdorp) skuld die kragverskaffer ʼn astronomiese R92 miljoen.

Die munisipaliteit het gister (Vrydag) onderneem om R32 miljoen aan Eskom te betaal en die balans aan die begin van Februarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sonkrag ·

Dit is die verbruikers wat al minder krag gebruik om beurtkrag te voorkom, wat Eskom nou laat goed lyk!

John ·

Was ons land se naam nie in die ou-ou dae Lilliput nie? Dan was Eskom se naam toe sekerlik Gulliver… die reus wat so vasgebind was… en as ek reg onthou ‘n groot bonus ontvang het toe hy die toue losgebreek en… en… of dink ek nou aan ‘n heel ander mite… dalk aan die legende van die tien rowers…

Alida ·

Dit is goed dat Eskom nou die krag afsny van wanbetalers. My vraag is as al die geld gevorder is gaan die instandhouding van kragstasies outomaties gedoen word? Nee met die hoeveelheid mense in diens van Eskom kan opknapping en instandhouding mos voortgaan of sit hulle nou en niks doen terwyl hulle wag vir geld. Vra maar net ek is n leek op die gebied.

Lana ·

Waarom wag Eskom tot munisipaliteite se skuld miljoene beloop, en wil dan huil daaroor? Mogale City klink verstommend trots dat hul agterstallige skul betaal gaan word, so asof dit n prestasie is…

Gemaskerde Sopbeen ·

Lana? Dit IS ‘n prestasie. Weet jy wat se wilskrag dit vat om Eskom te betaal…….in plaas van bonusse vir almal, nuwe karre vir almal, baie onthale met duur whiskey vir almal, selfone, skootrekenaars en DSTV vir almal, oorsese vakansies vir almal, Louis Vitton handsakke vir almal, Rolex’s vir almal, internasionale sportbyeenkomste vir almal…….Komaan, Lana, selfs jy moet erken dat sulke wilskrag ‘n bonus verdien!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.