Geen beurtkrag dié winter danksy Tetris

Die kragvoorsiener Eskom sê hy maak van 'n beplanningsmodel, soortgelyk aan Tetris, gebruik om instandhouding te doen

Eskom sê hy maak van ‘n beplanningsmodel, soortgelyk aan Tetris, gebruik om instandhouding te doen

Eskom het Saterdag gesê hy verwag nie dat enige beurtkrag vir die res van die somer, herfs of winter toegepas sal word nie.

Die kragvoorsiener het gesê ʼn gewilde rekenaarspeletjie word as ʼn bestuursinstrument gebruik vir sy instandhoudingsprogram. “Die kragstelsel was die afgelope kwartaal stabiel, en daar was die afgelope byna ses maande lank geen beurtkrag nie.”

Volgens Eskom word die Tetris-instandhoudingsinstrument gebruik om seker te maak dat beplande instandhouding gedoen kan word sonder enige beurtkrag. In Tetris moet ʼn speler verskillende grootte blokke binne ʼn beperkte spasie rondskuif om seker te maak dat die oriëntasie van die blokkie reg gaan pas in die beskikbare spasie. Die blokkies kom in verskillende vorms en groottes en die toring wat gebou word, mag nie groter wees as die beperkte spasie nie.

“Dieselfde beginsel word gebruik vir die ontwikkeling van die Eskom-Tetris-instandhoudingsmodel,” het die maatskappy verduidelik. Eskom se beplande instandhouding het verskeie ingewikkelde variasies in berekening gebring wat die Tetris-analogie gebruik, om die beplanning te vereenvoudig deur die blokkies in Tetris te vergelyk met beplande kragonderbrekings. Indien die “instandhoudingstoring” groter word as die beperkte spasie, sal Eskom beurtkrag moet instel.

Die kritieke verskil tussen die manier waarop instandhouding vroeër gedoen is, in vergelyking met die Tetris-manier, is dat dit nou visueel is, meer gebruikersvriendelik is en onmiddellik kan plaasvind. “Die stelsel is ʼn outomatiese aanlynstelsel wat dadelik gemanipuleer kan word indien enige variasies in die stelsel plaasvind.”

Volgens Eskom kan senior uitvoerende beamptes nou ingeligte besluite maak en met volhoubare oplossings vorendag kom wat beplande instandhouding betref. Die instrument word ook in die groepskapitaalafdeling gebruik as ʼn beplanningsinstrument vir die nuwe bouprogram.

“Ons prognose is dat daar geen beurtkrag sal wees hierdie somer, herfs of winter nie. Ons sal alles in ons vermoë doen om seker te maak dat ons beurtkrag vermy, insluitend om van elektrisiteit gebruik te maak wat deur onafhanklike kragopwekkers verskaf word, asook gasturbines,” het Eskom gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Piet Piper ·

Voor die Munisipale verkiesings gaan nog baie eiertjies gele word deur die ANC, en daarna gaan die meeste vrot word.

Lou ·

Gebruik nou Tetris vir die water ook! In Naboomspruit (Mookgophong) is daar selde water omdat die munisipaliteit nie geld oor het om die pompe reg te maak nie!!

Francois ·

As jy dié belofte van Eksdom glo, sal jy ook glo dat die maan van kaas gemaak is, dat Zuma as lid van Mensa aanvaar is, en dat Afrika inderdaad die grootste van al die vastelande is.

DPJ ·

Jy is reg P J. Sien is glo in die bepaalde geval.
Kan nie voor verkiesing glo wat hulle sê nie.

Frederik ·

Kan in elk geval nooit glo wat hul sê nie. Geen beurtkrag is nie danksy Tetris nie, maar danksy die agteruitgang van die ekonomie.

Johann ·

Nou waar is die vangplek? O ja, dit is mos verkiesing! En as Nersa nie Eskom se verhoging in tariewe nou goedkeur nie, is daar altyd die tydperk na die verkiesing, 2017,2018,2019 ens! Krag-en watervoorsiening is geen rekenaarspeletjie nie. Lewens hang daarvan af.

Dries ·

Seker die speletjie by die Gupthas gekry as ‘n “geskenkie”.

Nico ·

As my geheue my nie in die steek laat nie het ons verlede jaar ook geen onderbrekings gehad terwyl onderhandeling met is dit nou Nersa aan die gang was vir hul belaglike verhogings in pryse.
Ons kyk maar wat nou gebeur as hul nuwe uitspatige eis nie toegestaan word nie!!

Elfie ·

Nou het ek ALLES gehoor! ‘n Speletjie sodat mense hul werk reg moet doen! Mooi man!

Elfie ·

…wou nog byvoeg – een van die dae speel hulle Monopoly om ‘n bank reg te kan bestuur ;D

Tonginniekies ·

Hulle moet Pacman gebruik om kriminele te vang en Donkey Kong om die grense veilig te hou…

Vermeende ·

Hoekom probeer Eskom of eerder die regering ons om die bos ly dat die oplossing so voor die hand liggend was. Lewer Eskom nou meer krag as toe ons daagliks beurtkrag gehad het…..nee, inteendeel wek Eskom minder op en dit is ook nie te danke aan beter onderhoud nie. Eskom se redding het gekom in die vorm van ons inkrimpende ekonomie met grood besighede wat weens onstabiele voorsiening uit die land onttrek het of bloot net deure gesluit het. SA gebruik nou minder krag as 2jaar terug.

As tetris vir Eskom kan help dan kan ‘n telraam seker nie skade vir Zuma doen nie, of is ek nou rassisties?

Henri ·

Maak net seker jy koop een wat nie wit balletjies het nie, as daar is, koop verf ook………….net nie swart nie, enige wit ding (al is dit jou gesig) mag net nie swart geverf word nie, moet ook nie groter as 10 X 10 wees nie

Jaco ·

Speel tetris om kragverbruik te kontroleer. Wats volgende? Ek sidder om te dink wat gaan gebeur by Koeberg Kernkragstasie as ‘n begunstigde van affirmative action sit en tetris speel en dan die verkeerde knoppie druk en Koeberg in ‘n volgende Chernobil-meltdown ramp verander. As mense wat suiwer op meriete hul werk gekry het nie eens die “meltdowns” by Three Mile Island en Chernobil kon verhoed nie, WATTER CHAOS kan affirmative action appointments dan by Koeberg veroorsaak?

johan ·

As ek nie wil werk nie dan speel ek ook gewoonlik tetris. So eskom bestuur, hou op om rekenaar speletjies te speel en doen julle verdomde werk.

Kobus ·

Dit klink na ‘n ingewikkelde en indrukwekkende stelsel. Ek sou graag ‘n demonstrasie wou sien.

John ·

“Last famous words.” Kyk maar net hoe gaan ons bibber as Eskom nie die verlangde tarriefverhogings kry nie. Gas gaan ook skielik nie beskikbaar wees nie.

Johannes Meintjes ·

Jan Publiek moet ook toegang kry tot ‘n Tetris verrekenbaarheid speletjie wat staatsamptenare en minsters wie nie hulle werk doen, voor, tydens en na die verkiesing, se salaris te verminder en onregmatige vermorsing van belastingeld te kan verhaal.

Henri ·

Dis presies wat DA n kie wil doen, 35 departemente verander in 15

Riaan ·

Hulle lieg, ek bly in Elspark en kry nog 3 keer n week beurtkrag.

anna ·

dankie eskom dat julle minstens ‘n poging aanwend om die krag aan te hou.

Frans ·

Die hele fiasko van beurtkrag kon vermy gewees het as voorkomende instandhouding gedoen is. Maar soos alles in Suid Afrika word alles gebruik totdat dit uitmekaar val en dan moet skielik miljoene gevind word om dit weer in ‘n werkende toestand te kry.

Wil hul nou werklik mense wysmaak dat hul nie weet wat die ekonomiese lewensduur is van elke onderdeel van elke stukkie toerusting en dit betyds vervang en deurlopende inspeksies uitvoer.

Dit lyk my eerder instandhoudingsfondse en voorrade is tot op die been gesny sodat lekker vet salarisse en bonusse betaal kon word.

Fire die lot en kry iemand wat nie nie praat nie maar ook kan doen sonder kinderspeletjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.